En in die middaguur wanneer jou klere aan jou lyf kleef en die rooi grond in 40 grade hitte lê en bak.

Elke keer wanneer ek by George my rug keer na die see en die pas begin uitklim binneland toe - Klein Karoo toe - weet ek wat om te verwag. Ek ken die volstruise, die padstalle, die aalwyne teen die hange, die padborde wat sê biltong, vars vrugte en verestoffers. In die verte sien jy Oudtshoorn - Swartberge aan die een kant, Outeniquaberge aan die ander kant. Dan ry jy oor die Olifantsrivier, af met Langenhoven tot in Baron van Reede. Tot by die Queen’s Hotel met sy koel stoep en lemon meringue.

En môre, weet ek, sal die vroue hier van Oudtshoorn se Toekomsrus roosterkoek met appelkooskonfyt langs die hotel verkoop, en elke oggend sal ek die son oor Oudtshoorn se koppies sien opkom.

SARIE gaan al 14 jaar KKNK toe. En mense het al gevra hoe lank dan nog? My antwoord is eenvoudig: Solank dit voel soos húis.

Want dit is in die SARIE-stalletjie waar ek oor die jare nuwe vriende gemaak het en met ou vriende herenig is. Waar ek heeldag, elke dag Afrikaans kan praat. Waar vroue (en mans!) hul stories met my kom deel en my sonder ophou inspireer en nuwe insigte gee. Waar ek saam met lesers vir ’n ruk my bekommernisse opsy skuif en ons saam lag oor die lewe se mallighede.

Só voel ek ook oor Paternoster, die Weskus se vissersdorpie met sy wit huise en damblou see. Arnold Hoon en Annalise Bosch se ah!-gastehuis met die kokerboom in die tuin en die kuierstoep wat so skuins op die see uitkyk, sê: Jy’s welkom! Arnold se Franse roosterbrood met lemon curd vir ontbyt laat my voel dís huis!

Soms is net geur ’n tuiste. Daar’s ’n blommewinkel in die Kaapse Waterfront wat ruik na die berge om Caledon, my grootworddorp. Ek gaan dikwels soontoe net vir daardie vars geur van fynbos. En soms is ek gelukkig en kry ’n koningsprotea te koop soos dié wat pronk in die klowe van die Overberg. Ook ’n rietdak, soos my ouma en oupa gehad het, sê vir my huis. As jy my vra waarna Afrika vir my ruik, sal ek jou vertel soos ’n grasdak op ’n snikhete dag.

Selfs met reise oorsee is huis vir my nooit te ver nie. Daar’s altyd iets wat my tuis laat voel. In Londen is dit die onopgesmukte koffiewinkel onder die St Martin-in-the-Fieldskerk op Trafalgar-plein met sy glaskruise en appeltert en room op ’n koue winterdag.

In New York is dit ’n dekor-winkel waar ek vir die eerste keer die fotograaf Michael Poliza se manjifieke boek oor Afrika gesien het en ek daar tussen vreemdelinge warm en trots gevoel het oor die uniekheid van ons kontinent.

Die wêreld vandag is ’n ver, vreemde plek. Huis, daar waar ons tuis voel, is die koestering wat ons almal sekerlik soek. Dikwels lê ons troos in die bekende. En dít kan enigiets wees - die mense om jou, die kafee op die hoek, jou taal, ’n gunsteling-gereg, die geur van ’n blom. My alleenheid in Melaka, Maleisië, het op ’n dag soos mis voor die son verdwyn toe die man agter die toonbank skielik van bobotie en blatjang begin praat en my nooi vir ete toe hy hoor ek kom van Suid-Afrika - daar waar van sy nasate bly . . .

Michélle van Breda

SARIE Mei 2008