So lees ek onlangs op ’n vlug tussen Johannesburg en Kaapstad ’n artikel oor Dakar. Ek was al vele male in die middernagtelike ure op dié lughawe in Senegal, altyd elders heen op pad. Daar’s niks van afklim en rondkyk nie. In die uur wat die vliegtuig op die aanloopbaan oorstaan, klim nuwe passasiers op en ander af. Ek gaan staan gewoonlik in die deur van die vliegtuig om die warm Afrika-lug - vir ons alte bekend, maar steeds ongelooflik vir dáárdie tyd van die nag - vir ’n ruk teen my vel te voel. En soos ek in die donkerte die onbekende instaar, wonder ek altyd oor Senekal en sy mense en wat hulle hier aan die boeg van Afrika inspireer en hoop gee. Op ’n keer het ek vroegoggend op die lughawe geland, net betyds om te sien hoe die son rooi-oranje oor Dakar opkom. In die vroeë lig kon ek die fatsoen van die kuslyn en ’n blou see uitmaak, en die silhoeët van ’n see witgewaste geboue. Dakar was meteens nie meer net ’n donker plek nie, maar ’n lewende, kleurryke stad. Hoe gerusstellend is só ’n opkomende son nie wanneer jy jou in die vreemde bevind? Soos nou weer in Qatar, die skatryk, sanderige emiraat bo die horing van Afrika. (Dis mos die olie-koninkryk wat ons wêreldswemmer Roland Schoeman ’n ruk gelede ’n fortuin aangebied het om vir hulle te kom swem!) Dis ’n vreemde, interessante wêreld - niks soos die Afrika wat ons Suid-Afrikaners ken nie. Gister en vandag staan langs mekaar. Ouwêreldse souks, wat herinner aan eksotiese Arabiese nagte, floreer saam met hoë, New York-styl strukture van glas en chroom, en duur Arabiese renperde pronk langs kamele, daardie eeue-oue dromedarisse van die woestyn. Jy kan nie help om betower te wees nie, maar dat jy baie ver van die huis af voel, is gewis. Maar toe, vanuit nêrens, het die maan helder opgekom. Stadig-stadig het dit van agter die horison uitgekruip en soos ’n groot, geel ballon die woestynlandskap met sy onbekende vorms en teksture verlig. Ek kan nie dink dat ek die maan al óóit só mooi ervaar het nie. En snaaks, in die maanlig kry hierdie anderste wêreld vir my toe ’n vreemde soort bekendheid . . . Nou’s 2009 op ons voorstoep. Vir ons almal is so ’n nuwe jaar maar altyd ’n vreemde, onbekende plek. Teen dié tyd weet ons ook dat dit ’n tyd van uitsonderlike uitdagings sal wees. Die ekonomie en die politiek veral gaan ons uithouvermoë en deursettingsvermoë toets, nie net in SA nie maar die wêreld oor. Maar ek glo ons kan ons hieraan troos: Niks is ooit nét onbekend nie. Daar’s altyd die bekende waarop ons kan staatmaak - die nabyheid van familie en vriende, nuwe deure wat oopmaak soos ander sluit en ons natuurlike vermoë om inspirasie en hoop te vind in nuwe dinge en geleenthede. Dis ’n feit soos die son en die maan wat elke dag, elke nag opkom! Mag jy saam met my en die hele SARIE-span 2009 omskep in ’n jaar om te onthou. Groete Michélle van Breda