Só het ek en ’n vriend ná ons finalejaar-eksamen besluit om deur die land te ryloop voordat ons amptelik die gewigtige taak van preek en huisbesoek aanpak.

Vandag, 23 jaar later, onthou ek steeds ons groot pelgrimsreis. Die avontuur om nie te weet wáár jy vanaand gaan slaap nie, die ure se wag in die middel van verlate plekke vir ’n geleentheid.

Ek onthou hoe ons vir ’n nag in ’n polisiesel toegesluit is - gelukkig nie weens misdaad nie, maar danksy die goeie hart van ’n sersant wat genoeg jammerte oorgehad het om ’n leë sel en ’n paar growwe komberse aan twee pelgrims af te staan. Ek het baie herinneringe aan die duisende onvoorspelbare kilometers, maar veral twee bly my by.

Vanaf die eerste dag het die tema begin. Byna almal wat stilgehou het, het bely hulle het nog altyd daarvan gedroom om só deur die land te ryloop, en sonder uitsondering het nie een van hulle nog die groot reis aangepak nie. Sommige weldoeners was al grys en het met verlange en verwyt uitgevra oor ons reis. Almal wou nog ...

Maar tog kon ek sien dat die wens lank reeds verander het in ’n vae, veraf droom met net genoeg verskonings en omstandighede om die onmoontlikheid daarvan voor die noodlot se deur te lê.

Ek het hierdie les - dat ons té dikwels sê: “Ek wou nog” - met die jare met my saamgeneem. Dis nooit te laat nie.

Die tweede herinnering is van ’n ekstra-swaarvragmotor. Êrens in die Vrystaat het die vragmotor by ons stilgehou en ons na Queenstown geneem. Met die voortvarende beterweterigheid van ’n student het ek gewonder wat die ure op die pad sou oplewer in die geselskap van ’n trokbestuurder.

Hy het begin om ons te vertel van sy voorliefdes, en ek moet bely ek het my voorberei op komiese vermaak uit die boonste rakke toe hy noem dat sy grootste passie is om opera te sing. Totdat hy begin sing het. Op Duits, Italiaans en selfs Russies het hy ons daardie Karoo-nag met die suiwerste tenoorstem betower. Dit bly my by.

En ek wonder hoe dikwels ons om ons na mense kyk sonder om te weet dat die vrou langsaan dalk ’n engel is, die kelner ’n heilige, die bouer ’n held. Hoe sou ons wêreld nie gelyk het as ons na alle mense kyk asof hulle verborge skatte huisves nie?

Ek sal nooit vergeet dat ek in ’n vragmotor op die langpad van die mooiste opera gehoor het nie.