Dis altyd voordelig as jy hierdie soort inligting as aanknopingspunt vir ‘n gesprek kan gebruik. Gewoonlik beïndruk dit ook nog jou gespreksgenote as jy met ‘n onwaarskynlike feit vorendag kom. Dit voel vir my baie van die uitgewers het spesiaal aan my gedink toe hulle besluit het om sekere boeke te publiseer waaruit ek vandeesweek ‘n keuse van geskenkboeke saamgestel het. Daar is wonderlike bundels vol spotprente, interessante bestemmings waarheen ek nooit sal gaan nie, interessante mense wat ek heel moontlik nooit sal ontmoet nie, interessante wenke wat ek heel moontlik nooit sal toepas nie. Maar ek wil darem daarvan lees! Die grootste lekker van dié boeke is dat mens weer en weer daarin kan lees. Dis min dat  ek so ’n boek op een slag van hoek tot kant sal deurlees. Dit lê eerder in ‘n hopie op my bedkassie en saans wanneer die slaap my so ontwyk, blaai ek na willekeur deur die een en die ander. Ek hoop onder dié hoop is daar iets vir jou of vir iemand wat jy weet ook ‘n wandelende gedagtegang het!

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke aanlyn teen afslagpryse te bestel.

Idees vol vrees vol.2, Kobus Galloway (Zebra Press, R160)
Die bundel is vir alle Galloway-aanhangers. Sy aweregse humor is uiters vermaaklik en sinspeel dikwels op die direkte betekenis van saamgestelde Afrikaanse woorde. Ek kan myself ure besig hou deur na sy prentjies te kyk. Om my nog meer te amuseer, sluit hy die boek af met 50 one-liners (eenreëlgrappies) wat hy uitgedink het “terwyl (hy) aan (sy) stand-up-komedieloopbaan gewerk het.” My gunsteling is:”Mense wat wyn uit bottels sonder labels drink het geen etiket nie . . .”

 Madam & Eve: Twenty

Madam & Eve: Twenty, Stephen Francis & Rico (Jacana, R150)
Ek kan byna nie glo die gewilde karakters van hierdie strokiesprente laat ons al vir twintig jaar uit hul oogpunt na ons samelewing kyk nie. Soos ons samelewing verander het, het die doen en late van die karakters ook bygebly en het hulle op hul gepaste manier kommentaar gelewer daarop. Ek dink Suid-Afrikaners het ‘n baie spesifieke manier van spot met hulself en dis waarom dié karakters my deur die jare bly vermaak. Dis ‘n goeie versameling van vroeëre en meer onlangse strokies.

 But will it stand up in court?

But will it stand up in court?, Zapiro (Jacana, R150)
Zapiro is by uitstek ‘n uitstekende spotprentkunstenaar wat hoofsaaklik op politieke gebeure en die betrokke mense fokus. Hy skroom nie om iemand met sy pen aan te vat nie, al het dit hom al dikwels in die pekel laat beland. Hy is selfs deur president Zuma gedagvaar vir ‘n onaardige bedrag geld, maar teken bly hy teken! Sy skerp en pittige sketse en kommentaar gee 'n goeie oorsig oor gebeure wat die nuus gehaal het. Die versameling is ‘n keur uit sy spotprente wat die afgelope jaar in verskeie koerante gepubliseer is.

 50 Flippen Brilliant South Africans

50 Flippen Brilliant South Africans, Alexander Parker en Tim Richman (Jacana, R180)
Volgens Parker produseer Suid-Afrika baie meer briljante mense as totale mislukkings. Dié besef het hy gekry nadat hy die navorsing vir die boek begin doen het. Dit was dus nogal moeilik om te besluit wie om in te sluit en wie om uit te laat. Dis ‘n uiteenlopende groep wat uiteindelik die boek gehaal het: Christiaan Barnard, Pieter-Dirk Uys, Oscar Pistorius, Francois Pienaar, Steve Biko, Elon Musk, Johnny Clegg, Jody Scheckter. . . Ek moes onmiddellik kyk wie Ampie Roux is, want ek ken hom nie. Hy is die vader van die Suid-Afrikaanse atoombom. Wie van julle weet wie Waddy Jones is? As jy nie weet nie, sal jy maar in die boek moet gaan opsoek!

 100 Moments that mattered 100 Moments that Mattered: Events that Built South Africa, Peter Joyce (Zebra Press, R195)
Boeke soos dié is altyd vir my interessant, want my 100 oomblikke gaan nie noodwendig jou 100 oomblikke verteenwoordig nie. Wat wel belangrik is, is om te weet waarom die skrywer hierdie oomblikke in sy boek noteer as die wat volgens hom belangrik was in ons land se geskiedenis. Hy het sy oomblikke gekies uit die politiek, mylpale in tegnologie, kultuur, vermaak en sport. Verder het hy ‘n paar stories bloot vir die humor en sjarme daarvan ingesluit. Die lekker van hierdie boek is dat die teks in kort en boeiende brokke aangebied is. Dis ‘n boek waarin jy weer en weer sal wil rondblaai en goed raaklees soos dit jou oog vang. Dis ook die perfekte geskenk vir 'n vriend in die buiteland.
 Big questions from little people . .

Big Questions from Little People . . . Answered By Some Very Big People, saamgestel deur Gemma Elwin Harris (Faber & Faber, R194)
Dié van julle wat kinders het, weet kinders het die vermoë om dikwels uitstekende en soms ongemaklike vrae te vra. In hierdie boek is daar 150 vrae wat deur verskillende kinders van 5 tot 12 jaar oud gevra is. Dié vrae word deur  mense soos David Attenborough, Heston Blumenthal, Richard Dawkins en Bear Grylls beantwoord. Heel agter in die boek is ‘n handige gids wat vertel wie die mense is wat die antwoorde verskaf en wat hulle claim to fame is. Van die vrae wat gevra word is: Will we ever be able to go back in time? How does lightning happen? Who is God? What are our bones made of? Natuurlik is daar ook vrae oor die goed wat kinders altyd fassineer: Why is wee yellow? Why do we go to the toilet? If a cow didn’t fart for a whole year and then did one big fart, would it fly into space? Soos jy kan dink is party van die antwoorde ernstig en goed onderlê deur feite, maar van die ander is verbeeldingryk en spreek tot ‘n kind se emosie.

 10 000 Tips: How to do almost everything

10 000 Tips: How to do Almost Everything, Katherine Sorrell (Quercus, R239)
Dit is een van die nuttigste boeke wat ek die laaste ruk onder oë gehad het. Dit bevat kort praktiese raad oor hoe om byna enigiets te doen. Die boek is ingedeel in 10 afdelings: Huis en tuin; vriende en familie; skoonheid en goedvoel; gesondheid en fiksheid; werk en opvoeding; vakansie en reis; kos en drank; jy en jou geld; pret en speletjies, en vier wiele en twee. As jy ooit wou weet hoe om Monopoly te monopoliseer en jou speelmaats van die bord af te speel, kan jy in dié boek uitvind hoe om dit te doen. Lekker van die boek is daar is advies op ‘n ligte trant, maar dan is daar ook waardevolle wenke wat jou kan help om jou algemene leefstyl en die stand van geldsake te verbeter. Hier is die afdeling oor jy en jou geld van toepassing. Daar is selfs ‘n baie kort stukkie oor hoe om ‘n “miracle mum” , ‘n “brilliant dad” en ‘n “super single parent” te wees! Spesiaal vir my is daar “become a millionaire!”

 White Sharks - Myagnificent, mysterious & misunderstood

White Sharks – Magnificent, Mysterious & Misunderstood, Dirk Schmidt (Sunbird, R275)
Haaie het ‘n slegte reputasie wat dikwels gebaseer is op “urban legend.” Schmidt het ure daaraan bestee om die spesie te bestudeer en hy teken die ware prentjie van die visse. Hy sê: “We cannot conserve nor protect something we do not understand.”  Hierdie boek verduidelik hoe haaie se lewensiklus verloop en allerlei interessante inligting oor haaie se gewoontes word ook gedeel, sodat mens beter begrip het vir die diere. Schmidt se foto’s laat jou ook met ander oë na haaie kyk.

 100 Places you will never visit

100 Places You Will Never Visit, Dan Smith (Quercus, R239)
Die subtitel van hierdie boek is “The World’s Most Secret Locations” en dit is dan inderdaad wat die skrywer beskryf. Ek vermoed party van hierdie bestemmings gaan jy met groot moeite kan besoek, en dit is net as jy super-georganiseerd en gedetermineerd is. Vat nou ‘n plek soos die Tora Bora-grotte wat die tuiste van Al-Qaeda is. Eerstens is daar nog hewige gevegte tussen die Taliban en NAVO in die omgewing en tweedens is dit nogal ‘n onherbergsame berggebied. Het jy al ooit gewonder waar die resep vir Coca-Cola gehou word? Dis in die kluis van die koeldrankreus se aanleg in Atlanta en jy kan ‘n toer deur die aanleg onderneem, maar daai resep bly agter slot en grendel! Almal van julle wat so lekker na goed soek op die internet met Google – die internetmaatskappy se datasentrums sal jy nooit persoonlik kan besoek nie. Die naaste wat jy aan die hoogs geheime plek gaan kom, is die foto's wat in Oktober deur Google vrygestel is wat wys hoe ‘n tegnikus op ‘n rekenaar in die datasentrum, Dallas Oregon, werk. Al wil ek nie na hierdie plekke toe gaan nie, is dit steeds interessant om daaroor te lees.

 Infographica

Infographica – Visualizing a World of Information, Martin en Simon Toseland (Quercus, R164)
Hier is ‘n nuwe manier van kyk na die wêreld om ons. Infografika is die nuwe modewoord van ons tyd. Maak jy ‘n tydskrif of ‘n koerant oop, sal jy iewers iets raaklees wat op ‘n grafiese manier uiteengesit word. In hierdie boek kan jy kyk na 101 verskillende infografika wat allerhande interessante inligting uitbeeld. Hoe vergelyk die sterkte van die verskillende soorte rissies? Jy kan met een oogopslag sien waar die mees gematigde en waar die sterkste rissie op die skaal is. As jy verslaaf is aan ekstreme sportsoorte soos reksprong (bungee jumping) is daar spesiaal vir jou ‘n uiteensetting van die toptien springplekke in die wêreld, mooi netjies in ‘n ry, elk aan sy eie rek geheg aan die brug. Die twee broers wat die boek  geskryf het, het van regtig-die-moeite-werd-om-te-weet-inligting tot trivialiteite ingesluit waarmee jy jou vir dae kan besig hou.

 The Horologicon

The Horologicon: A Day’s Jaunt Through The Lost Words Of The English Language, Mark Forsyth (Icon Books, R194)
Forsyth se boek sal jou mateloos fassineer as jy belangstel in woorde – meer spesifiek Engelse woorde wat ongewoon is en min in die algemene spreektaal gehoor word.  Neem nou maar die woord pingle, wat beteken “to eat a little without appetite.” Dié woord het die skrywer in ‘n negentiende eeuse woordeboek van Suffolk-dialekte opgespoor. So het hy ‘n swetterjoel ongewone woorde se oorsprong en gebruik bymekaar gemaak. Hy begin sy reis met woorde vroegoggend wanneer jy opstaan en neem jou uur vir uur deur die dag met gepaste woorde wat in elke seksie pas totdat jy uiteindelik jou kop weer neerlê in die aand. Dis ‘n boeiende en gemaklike lees, en is in Forsyth se kenmerkende informele styl geskryf. Selfs al stel jy nie noodwendig in woorde belang nie, is dit steeds ‘n interessante boek om klein juweeltjies uit te versamel vir jou koffietafelgesprekke.