Gister het ons 'n  mat, 'n paar bakkies en nog goeters vir die huis gaan koop in Marokko. Dis teoreties net 'n 35-minuut ferrie-rit maar alles met 'n enjin in Marokko is óf stukkend óf laat as jy eers daar aankom. Die dag was onnodig lank en ek was lekker issegrimmig toe ons in plaas van 8uur die aand eers middernag terug was in Sotogrande.

Ek was die tolk! Ek't lankal uitgewerk dat as ek die helfte van die sin in Italiaans sê en die ander helfte in Portugees, praat ek omtrent Spaans - want sien, almal verstaan my. Die probleem met gister se uitstappie was dat almal was soos Spanjaarde lyk, nie noodwendig Spanjaarde was nie. Daar by die ferrie was hulle Arabiere en die Arabiere het nie my Spaans verstaan nie.

Dis toe met my Spaans en die Arabiere, wat my flous met hulle Spaans, dat ons toe amper beroof word.

'n Baie gawe ou het vir ons gevra of hy ons kan help want ons kon nie die kaartjiekantoor kry nie. Ons volg toe vir die man vir 'n lang ent. En hoe meer ek hom vra, waar die kantoor is, hoe minder verstaan hy my! Toe ons weer sien, toe's daar sommer 'n ander ou, met skewe tande en 'n stoppelbaard wat met ons gawe ou begin baklei. Toe ons, na 'n helse ent, by die hawe begin uitloop toe hoor ons 'n harde fluit en toe ek omdraai toe's dit 'n polisieman wat woedend skreeu en handgebare maak. Daai twee gidse skarrel toe soos verskrikte rotte tussen die bosse langs die pad in. Ek vra toe vir die polisieman wat aangaan. Hy skreeu toe vir my - "Hulle's diewe - hulle gaan julle beroof! Kan jy dit nie sien nie?"

Ek't gedink dat die taxi waarin ons van die hawe na Tangiers moes ry, die stukkendste motorkar was wat ek al ooit in my lewe in was! Ek was verkeerd. Die taxi wat ons terug van Tangiers af hawe toe geneem het, was! Ek weet nie van karre nie maar Rian het vir my verduidelik dat die 'dif' glo in sy duiwel was, die 'gasket' was geblaas en nog 'n belangrike ding wat ek nie kan onthou nie was gebreek, wat eintlik maar beteken het dat ons nie vinniger as 40km/h kon ry nie! Die stuurwiel kon ook nie lekker draai nie want die kronkelende kuspaadjie terug hawe toe moes ons plek plek so wyd draai dat ons in die aankomende verkeer se baan moes ry om die om die draai te kan maak.

Maar, ek dink die omie was blind want ekt hom dopgehou en gesien dat hy skrefiesoog na die wit lyn staar in die middel van die pad en sy wiele mooi netjies aan weerskante probeer hou het.

Ons het darem 'n mooi mat gekoop.

Lees Janie se vorige blog-inskrywings

Middagete... As jy opkyk...
Ons soek &aposn taxi Die krok