14 Oktober

Tsitsikamma - Die koerante sê dan hier's droogte op die tuinroete? Hoe's dit moontlik? Vandat ons hier is, reën dit aanmekaar. Ek het boonop die hele nag lê en luister hoe dit daarbuite val en het baie gestres oor die pad wat voorlê .

Alles wat ons dra is nat. Ons het normaalweg baie goed aan, maar nou met ons reënpakke bo-oor , lyk ons almal soos Michelin-mannetjies. Peto Ferreira, ons kaptein, en die man wat voor ry, sê dat die nadeel van waterdigte klere, is dat as die water nou uiteindelik binne in jou stewels in is, kom dit nie weer daai dag uit nie. Hy's reg.

Ons het gisteraand by die Protea Hotel in Tsitsikamma Village geslaap. Jan en Ann du Randt het vir Journey of Hope die akkommodasie, aandete en ontbyt geskenk - 'n groter bederf kon ons nie voor gehoop het nie want die kamers was lieflik en die beddens het elektriese komberse opgehad.

Vandag het ons 'n woeste dag wat voorlê - ons stop in George by die Kalahari Teater en Restaurant na radio-onderhoude met Eden FM en 'n koffiebreek in Knysna.

Eergister was ons in Middelburg. Wat 'n emosionele ervaring! Eerwaarde Anna Plaatjes en haar seun Theo het 'n hele saal vol vroue bymekaar gehark vir die oggend se verrigtinge. Toe ons by die saaltjie instap het hulle in sang uitgebars. Die emosie het hoog geloop en daar was nie 'n droë oog in die huis nie. Die boodskap van die Journey of Hope is eerstens bewusmaking en opvoeding, maar ook om 'n verskil te maak. In die geval het die gemeenskap ons vroue 'n ding of wat gewys, en liefde in oorvloed.

Vanaand vat ons die pad na die Garden Route Game Lodge. Hopelik kan ons bietjie rus!

(Vir nog foto's klik by die Journey of Hope)

12 Oktober

Ons is weer op die pad. 18 vrouens wat borskanker oorleef het. 18 besondere verhale van vrouens wat vir die gemeenskappe op die roete vertel van borskanker en hoe hulle almal hulle paaie van oorlewing geloop het. Ons 2de dag is verby.

Ons is in Bloemfontein - doodmoeg en baie vuil. Die Vrystaat was winderig en ek het vandag met tye gevoel asof ek nie die fiets op die pad kon hou nie. Die sandstorm waardeur ons moes ry net na Clarens het die stof binne in my helmet laat vassit aan my tande en tot binne-in my neus gewaai. Ek ry op 'n Heritage Softail, dis 'n monster. 'n Mooi monster maar selfs die groot fiets het geruk in die winde en dit het met t tye gevoel asof ek skuins geleê het terwyl ek ry.

Dis die 3de jaar wat ek so deur die land ry met die 'survivors'. Elke jaar het ons ander mense wat aansluit en saamry. Hierdie jaar is die groepie besonders. Mense van uiteenlopende plekke, vrouens wat mekaar nie ken nie en tog so baie in gemeen het. Ons deel kamers. Elke aand met 'n ander kamermaat.

Maar jissie, ekt nie geweet vrouens kan so snork nie! Ons het nou 2 groepe. Die snorkers en die nie snorkers! Ek's een van die nie-snorkers. Ek het klaar 'n kampioen-snorker by die huis wat vir my wag... Ek het nou aangedring op 'n nie-snorker in my kamer tydens die rit! Na so 'n dag se gebrul van motorfietse kan ek dit wraggies nie nog vanaand voorsit in my slaapkamer nie! Ons lag nou so oor die snorkery en soos wat die dae aangaan, ontwikkel die grappies en slaap episodes met mekaar in wonderlike verhale.

Ons het gisteraand in Harrismith geslaap - dit was onvergeetlik. 'n Potjiekos vir baie mense op 'n pragtige plaas teen aan die berge. Yskoud en gesellig en 'n aand wat my dikwels laat huil het... Baie keer van lekker kry maar baie keer van hartseer. Sanette Venter, een van ons ryers, se dogtertjie is vandag 5 jaar gelede oorlede. Sy kry tans chemo en ons het die verhaal sommer vereer met 'n langarm-dans, 'n DJ wat die burgemeester, Pizza, gereël het en 'n laat gekuier onder 'n afdak langs die vuur. Ek het met 'n konstruksiewerker gedans maar ek't op sy tone getrap, want daai boere dans wyd en vinnig en draai jou vinnig. Dis nie daai dans van die stad waar jy nog tyd het om te dink nie!

Al wat ek wou doen is stort, maar my kamer was aan die einde van die gang en toe ek met die sjampoe in my hare staan, toe hou die water op. Want die ander vrouens stort toe so lekker hoër op in die ry, dat ek niks gekry het nie! Daar is niks wat 'n kopdoek nie kan wegsteek nie. My hare, na 'n dag onder 'n helmet in die wind en die stof, sonder 'n stort sal maar weggesteek moet word.

Die stlite in jou valhelm is wonderlik. Die landskap hier in die Vrystaat is so mooi. Ek dink dat as 'n mens elke dag dit sien wat ons vandag gesien het, gaan jy spesiaal wees. Miskien moet ek vir my seuns hier kom meisies soek?

Klik vir foto's op die Journey of Hope-webblad