Jacques Steenkamp se boek, Die Griekwastad-moorde: Die misdaad wat Suid-Afrika geruk het, word eersdaags vrygestel. SARIE.com het die eerste twee hoofstukke eksklusief gekry.

Lees hier eksklusief die eerste twee hoofstukke van dié boek wat deur Zebra Press (R190) uitgegee word. Die boek is ook in Engels beskikbaar as, The Griekwastad Murders.

Hoofstuk 1: “Hulle is almal dood”

Net ná skemer op Goeie Vrydag, 6 April 2012, was die strate van die Noord-Kaapse dorpie Griekwastad verlate. Die dorp, met sy ryk geskiedenis, bestaan uit verskeie gehawende geboue aan weerskante van die N8-hoofweg, wat maak dat die dorp nie heeltemal in die vergetelheid raak nie. Honderde toeriste en trokke reis daagliks deur die dorp op pad na óf Kimberley in die ooste óf Upington in die noordweste.

Naas hulle is die enigste ander mense, wat die dorp gereeld besoek, die boere van die omgewing en die paar families, getrou aan hul erfenis, wat weier om op te pak en stad toe te trek. Chinese handelaars het al amper alle besighede in Griekwastad oorgeneem, alhoewel daar hier en daar nog ’n plaaslike inwoner is wat steeds ’n bestaan probeer maak deur ’n kleinerige supermark of iets soortgelyks te bedryf. Die enigste winsgewende besigheid blyk die verkope van alkohol te wees, aangesien die talle drankwinkels op die dorp flink sake doen.

Griekwastad, wat in 1805 deur twee lede van die Londense Sendinggenootskap, William Anderson en Cornelius Kramer, as ’n sendingstasie gevestig is voor dit in 1812 tot ’n dorp verklaar is, is vandag bekend vir halfedelgesteentes, soos tieroog en jaspis, wat hier voorkom. Alhoewel die dorp self baie klein is, beslaan die omliggende skaap- en beesplase binne die ampsgebied van Griekwastad ’n gebied van ongeveer 77 km2, met ’n geskatte bevolking van ongeveer 4 000 mense. Die meeste inwoners, ongeveer 80%, is bruin mense: afstammelinge van Suid-Afrika se eerste setlaars, die Khoi-Khoin en die San. Maar op hierdie christelike vakansiedag, Goeie Vrydag, sou die hele Suid-Afrika weer eens bewus word van die bestaan van Griekwastad. Dit het alles begin toe ’n vyftienjarige seun, bekend as Don Steenkamp, die dorp met sy pa se wit Isuzu-dubbelkajuitbakkie binnegejaag het en met skreeuende remme voor die amper verlate polisiestasie tot stilstand gekom het. Dit was net voor 19:00 toe Don, met bloedbevlekte klere, uit die voertuig spring en die polisiestasie se aanklagkantoor binnestorm. Die oomblik toe hy die eenverdiepinggebou binnegaan, waar twee polisiebeamptes diens gedoen het, het die seun op sy knieë geval en geskree:

"Julle moet kom! Hulle is geskiet. Almal is dood."

Adjudantoffisiere Anthony Wildt en Klaas Rooy, wat agter die lang houttoonbank in die aanklagkantoor gestaan het, het dít nie verwag tydens wat gewoonlik ’n stil skof is nie. Dit was ’n grusame toneel. Die seun se hande en gesig was die ene bloed. Wat dit nóg erger gemaak het, was dat hulle Don, asook sy gesin, geken het. Die beamptes, gekonfronteer met die moontlikheid van drie gewelddadige moorde, was vir ’n oomblik lam van skok. Hulle het probeer verstaan wat Don, wat oënskynlik nie kon stilstaan nie, vir hulle skree. Die klaarblyklik getraumatiseerde, amper volwasse seun het nog kort, bruin hare gehad met draadjies aan sy tande. Adjudantoffisier Rooy het Don uit die aanklagkantoor deur ’n deur regs geneem, wat na die kantoor van die stasiebevelvoerder lei, maar toe links gedraai en die kind eerder na die agterkant van die gebou geneem. Hulle sou hier, in die binnehof tussen die polisiestasie en die aanhoudingselle, meer privaatheid geniet. Rooy het die seun rustig versoek om te verduidelik wat gebeur het. Don het met ’n gestamel vertel dat hy sy ouers sowel as sy jonger suster slegs minute gelede dood in hul huis aangetref het. Hy het aan Rooy gesê dat hy na die skuur toe is terwyl sy ouers en suster televisie gekyk het. Kort daarna het hy geweerskote gehoor. Hy het toe ’n rukkie lank weggekruip.

Dit het die geskokte Rooy ’n oomblik geneem om te begryp dat mense, wat hy ken en respekteer, in hul gewoonlik rustige gemeenskap vermoor is. Hy, net soos sy kollegas, was gewoond aan veediefstal, die enkele dronklap wat moeilikheid maak en gevalle van messteek, maar ’n plaasmoord was buite sy verwysingsraamwerk. Wildt, wat byna alles gehoor het wat gesê is, het probeer onthou of iets soortgelyks al die afgelope vyftien jaar dat hy by die Griekwastad-polisiestasie gestasioneer is, plaasgevind het. Maar hy kon aan niks dink nie.

Asof skielik tot aksie geruk, het Wildt op die telefoon geklim en bykans elke polisiebeampte in die provinsie in kennis gestel, onder andere die hoof van die plaaslike speurtak en die diensgeneraal vir die Noord-Kaap, gestasioneer in Kimberley, ongeveer 150 km oos van Griekwastad. Alhoewel die Noord-Kaap die grootste provinsie in Suid-Afrika is, het dit ook die kleinste bevolking en plaasmoorde kom minder hier as in ander dele van die land voor.

Dit was nie lank nie of die gedoente by die polisiestasie het ook begin om Henriëtte Truter se aandag te trek. Sy is ’n middeljarige vrou wat moeilike tye in die Wes-Kaap beleef het en aan wie ’n reddingstou in Griekwastad aangebied is, waar sy die plaaslike restaurant en gastehuis bestuur. Truter, met haar grys hare baie kort gesny, was besig om ’n sigaret en ’n koppie koffie te geniet toe sy sien hoe ’n seun aan die oorkant van die hoofweg in ’n bakkie stilhou en die polisiestasie binnestorm. Terwyl Truter op die stoep van die Proviand-restaurant (die enigste plek vir meer as 100 km in enige rigting wat gehaltekos bedien) gestaan het, het sy onmiddellik besef dat iets drasties verkeerd is.

Nadat sy gesien het hoe die seun op sy knieë val, het sy vinnig die restaurant, ’n voormalige woonhuis, binnegegaan, ’n glas met koue water volgemaak en ’n klomp lepels suiker daarby ingeroer. Toe het sy oor die pad gehardloop en die polisiestasie binnegegaan.

Truter het Don aan die agterkant van die polisiestasie in slegs sy rugbybroek aangetref; sy het nie sy T-hemp raakgesien nie. Hy het dit op die grond naby die sementbak gegooi, waar hy besig was om sy lyf met koue water te was om van die bloed ontslae te raak. Sy het net-net die einde van die storie gehoor wat die seun besig was om vir Rooy te vertel: dat sy hele gesin sopas gewelddadig vermoor is.

Slegs minute later het verskeie polisiebeamptes, wat óf op patrollie in die gebied was óf van diens af was, op bevel van Wildt by die polisiestasie begin aankom. Terselfdertyd is die provinsiale taakspanne in Kimberley gemobiliseer nadat kolonel Dick de Waal, hoof van die eenheid teen georganiseerde misdaad in die provinsie, aangestel is om die ondersoek te lei.

Nadat hy hom gewas het, het Don saam met Rooy na sy pa se dubbelkajuitbakkie gestap. Daar het hy die regterdeur agter oopgemaak en twee vuurwapens vir Rooy gewys, ’n .22-geweer en ’n .357-Magnumrewolwer, voor hy hulle uit die voertuig gehaal het. Dit sou later blyk dat hierdie vuurwapens albei aan sy ouers behoort het en voor hierdie insident gereeld gebruik is om koedoes, meerkatte en ander diere te jag.

Don het aan Rooy verduidelik dat hy die vuurwapens in die gras, ’n entjie van die eerste plaashek, sien lê het toe hy van die moordtoneel op die familieplaas Naauwhoek, ongeveer 8 km suid van Griekwastad, gevlug het. Hierdie hek is deel van ’n heining wat reg rondom die gesin se huis en skuur loop. Dit het ook die gesin se vier honde, drie borderkollies en ’n Jack Russell, weggehou van die perde en ander plaasdiere.

Die seun het aan die polisie gesê dat hy nie weet hoekom hierdie wapens nie in sy pa se kluis was nie; dit kon slegs beteken dat dit gebruik is om sy gesin te vermoor. Don het verduidelik dat hy stilgehou het, die wapens opgetel het en hulle op die agtersitplek van die voertuig gegooi het voor hy gevlug het om te gaan hulp soek.

Konstabel Arrie Goliath en ’n paar van sy kollegas, wat by die polisiestasie aangekom het nadat hulle van die situasie in kennis gestel is, is vinnig ingelig oor wat plaasgevind het. Maar al waaraan hulle op daardie oomblik kon dink, was om by die plaas uit te kom in die hoop om die persoon of persone te vang wat hierdie afskuwelike misdaad gepleeg het. Hulle was binne minute met koeëlvaste baadjies en 9 mm-pistole en R5-gewere gewapen. Hulle was só opgewonde dat hulle in hul haas vergeet het om die korrekte polisieprosedure te volg. So het hulle nagelaat om hul eerste getuie, asook enige moontlike bewysstukke naas die twee vuurwapens, te beveilig.

Don is in die hande van Rooy en Wildt agtergelaat, wat moes agterbly om die stasie te beman, terwyl die res in polisievoertuie met loeiende sirenes na die plaas gejaag het. Dit was die meeste aksie wat die meerderheid van hulle nog ooit gesien het. Sommige van die manne was nog studentekonstabels, gretig en gewillig, en hulle was nie van plan om enige misdadiger deur hul vingers te laat glip nie.

By die stasie is die getraumatiseerde seun vir ’n rukkie aan sy eie lot oorgelaat en hy het voortgegaan om hom te was. Terwyl hy besig was om die bloed van sy arms en bene af te was, het Truter nadergestap gekom met die glas suikerwater. “Hierso, drink dit. Dit sal help vir die skok,” het sy gesê. “Dankie, tannie,” het Don geantwoord. Hy het die glas by haar geneem en die suikermengsel vinnig afgesluk voor hy voortgegaan het met die onaangename taak om sy gesin se bloed van sy lyf af te was. “Wat maak jy?” het Truter gevra. Selfs sy het geweet hy was nie veronderstel om hom te was voor hy deur die polisie se forensiese eenheid ondersoek is nie, aangesien hy in die proses waardevolle bewyse kon verwyder. Maar dié vlietende gedagte het vinnig plek gemaak vir besorgdheid oor die seun se welstand toe sy begin dink wat hy moes deurgemaak het. En in elk geval het twee polisiebeamptes gestaan en kyk hoe hy hom was sonder om in te gryp, so wie was sy om haar daaroor te bekommer? Hy kon nie met iets besig wees wat hy nie veronderstel was om te doen nie.

"Dis my suster se bloed. Sy is in my arms dood, tannie,"

het die seun amper met walging gesê. Hy wou die polisiebeamptes na die plaas vergesel, maar Truter het hom oorgehaal om te bly waar hy was. Sy het etlike minute in stilte toegekyk hoe hy hom klaar was en toe aangebied om hom na die restaurant te neem, waarvandaan hy sy familie kon bel om hulle oor die tragedie in te lig. Sy het die polisiebeamptes genader. “Kan ek hom asseblief na die restaurant toe neem? Dis warmer daar en ek kan hom solank iets gee om te eet en te drink terwyl ons wag.” Een van die beamptes het vinnig van die polisieradio af opgekyk en geknik. Hy het meer daarin belanggestel om die opwindende gepraat oor die radio te volg as om bekommerd te wees oor die arme slagoffer. Dit was maar die begin van April en daarom steeds die middel van die herfs in die Suidelike Halfrond. Ná donker sorg die geniepsige woestynlug vir baie koue aande, waarvoor ’n mens ’n ekstra laag klere benodig om jou teen die koue te beskerm. Die seun, wat slegs ’n kortbroek aangehad het, moes vreeslik koud gekry het, veral omdat hy sopas sy lyf met koue water gewas het en toe buite was. By die leë restaurant wat meestal om 19:00 gesluit het, tensy die plaaslike boere besluit om te deurnag en die onderneming se brandewynvoorraad uit te drink, het Truter die twee kelnerinne vinnig oor die situasie ingelig en hulle gesê om die restaurant weer reg te kry, aangesien hulle mense kon verwag. Truter het haar baadjie agter die toonbank gaan haal en dit vir die skraps geklede seun aangebied. Dit het nie gelyk asof die suikerwater enige uitwerking op Don se gemoedstoestand gehad het nie, aangesien hy Truter herhaaldelik gevra het wat om volgende te doen. Hy het haar gevra hoe hy sonder sy gesin moes voortgaan. Dit moet verskriklik wees om op jou ouers sowel as jou suster af te kom kort nadat hulle vermoor is, het Truter gedink.

“My pa het my alles geleer,”

het die seun gesê, terwyl hy ’n oomblik lank diep ingedagte was.

Truter was nuut op die dorp en het nie regtig Don se ouers of enige van sy familielede geken nie. Sy het dus geen idee gehad waar om te begin soek of hoe om hulle te kontak nie. Sy het besluit om die eienaar van die restaurant, haar baas en jare lange vriend, Anton van Niekerk, te bel waar hy met vakansie naby George in die Wes-Kaap was.

Nodeloos om te sê, was Van Niekerk geskok toe Truter hom die slegte nuus meedeel, maar hy het gesê dat hy sou sien wat hy kon doen om haar te help. Die oomblik toe Truter die telefoon neersit, het Van Niekerk vir Bob de Villiers, ’n plaaslike winkeleienaar, gebel. Dié het op sy beurt die predikant, Piet Otto, gekontak om die skokkende nuus aan hom mee te deel. Kort voor lank het almal van belang in Griekwastad van die afgryslike moorde op Naauwhoek geweet. Aangespoor tot aksie het almal na Proviand afgesit om te help waar hulle kon.

By die restaurant het Truter besef dat dit haar plig was om Don se familie in te lig oor wat gebeur het. Maar, nog belangriker, sy moes ’n bekende gesig in die hande kry om vir Don by die restaurant te kom vertroos. Sy het getwyfel of hy enige familielid se huis- of selfoonnommer uit sy kop sou ken, maar sy het hom in elk geval gevra. Sy was verbaas toe hy sê dat daar nie enige rede tot kommer is nie … en toe sy werkende selfoon uit een van sy rugbybroek se sakke haal.

Terwyl Truter toegekyk het, het Don sy pa se neef, Andries Steenkamp, gebel wat net buite die dorp saam met sy vrou en kinders op ’n plaas woon. Hy het later ook sy grootouers, Don sr. en Bettie Steenkamp, gebel wat in Kimberley woon, maar dit was Truter se taak om hulle van die slegte nuus in kennis te stel, aangesien hulle nie ten volle kon begryp wat hul kleinseun besig was om vir hulle te vertel nie. Don het glad nie gehuil tydens hierdie traumatiese oomblikke nie – hy het slegs geskok voorgekom.

Dit wás vir Truter vreemd, maar op daardie stadium was sy te besig om dinge gedoen te kry en het sy nie veel aandag aan sy gedrag geskenk nie. Maar later die aand toe sy aanskou hoe volwasse mans in trane uitbars, het dit die seun se yskoue kalmte egter beklemtoon. Truter het dit maar toegeskryf aan die feit dat mense in skok baie vreemd en baie verskillend kon optree.

Wat wel vir haar vreemd was, was toe Don gevra het of hy ook sy vriende, of miskien slegs sy beste vriende, oor die moorde moes inlig. Sy vraag het Truter onverhoeds betrap, maar sy het vinnig tot verhaal gekom en aan Don gesê dat die hele wêreld nie nou al daarvan hoef te weet nie.

Nadat al die telefoonoproepe afgehandel was, het die nuus van die driedubbele “plaasmoorde” soos ’n veldbrand deur die klein gemeenskap van Griekwastad versprei. Die een buurman het die volgende op die dorp en die omliggende plase gebel, en kort voor lank het Proviand gewemel van besorgde familielede en vriende van die Steenkamp-gesin, asook dié wat ’n geskinder nie kon weerstaan nie. Predikant Piet Otto was eerste daar en is kort daarna deur Bob en Henriëtte de Villiers gevolg. Ander het minute later daar aangekom. Almal het om die enigste oorlewende lid van die Steenkamp-gesin saamgedrom en diegene wat nie ’n geleentheid gekry het om die seun te troos nie, het mekaar vertroos.

Don se pa, Deon, was fisies ’n indrukwekkende man – hy het ’n ekstragroot 5XL-hemp gedra – en het baie aansien in die streek geniet. Met sy bril, kort bruin hare en bypassende baard het hy ietwat ernstig voorgekom. Hy was op die ouderdom van vier-en-veertig steeds baie aktief deur óf op een van sy vyf plase te werk óf om die nasionale onder 18-tentpensteekspanne (meisies en seuns), of gimkana, af te rig. Steenkamp het hoofsaaklik met skape op sy plase in die Griekwastad-distrik, waarvan sommige al amper honderd jaar in sy familie se besit is, geboer. Hy en sy pa is albei op Naauwhoek gebore, wat nou ook die toneel van sy dood was. Sy drie-en-veertigjarige vrou, Christel, wat hom innig lief gehad het, het haar met verskeie ondernemings besig gehou. Allereers was sy ’n liefdevolle en sorgsame ma. Sy het ook ’n suksesvolle tuisgebak-en-verspreidingsbesigheid bedryf, bekend as Scrumptilicious, wat sy ’n paar maande vantevore op die been gebring het en van die plaas af bestuur het. Verder het sy ook by die kerk en in die gemeenskap uitgehelp. Christel, wat blonde skouerlengtehare gehad het, het ook bril gedra. Terwyl haar man beide hul kinders in gimkana afgerig het, het Christel altyd verseker dat hulle behoorlike blootstelling ontvang, want sy was ook Volksblad se plaaslike vryskutjoernalis vir die provinsie. As gevolg daarvan het beide die Steenkamp-kinders gereeld in die koerant verskyn. Don se jonger suster, Marthella, was slegs veertien jaar oud ten tyde van haar dood, maar alles het daarop gedui dat sy ’n uitsonderlike jong vrou sou word.

Sy was nie net ’n skoonheidskoningin in wording nie, maar ook besonder slim en ’n uitstekende atleet.

Wanneer Marthella ’n vertrek binnegekom het, het almal daarvan kennis geneem. Sy het lang, bruin hare en groot, bruin oë gehad, maar dit was haar pragtige glimlag wat mense se harte verower het.

Die dood van hierdie drie mense, op so ’n gewelddadige manier, was onverstaanbaar vir die meeste mense, indien nie alle lede van die klein gemeenskap nie. Die meerderheid van Griekwastad se inwoners is in die streek gebore en het daar grootgeword, net soos hul ouers en grootouers voor hulle. Hulle was gewoond aan gewere en bloed, maar slegs wanneer hulle gaan jag het – nie in die konteks van misdaad of moord nie. Net soos hul beskermers, die plaaslike polisie, het hierdie mense nog nooit werklik tragedie van hierdie aard beleef of geken nie. Natuurlik het hulle nuus gekyk en koerant gelees, en hulle was bewus van die feit dat moorde, veral plaasmoorde, algemeen in ander dele van die land voorgekom het. Maar in hierdie provinsie, veral in hul streek, het dit selde plaasgevind. En met “selde” word een keer elke paar jaar bedoel.

Terwyl die gemeenskap van Griekwastad die skok van wat gebeur het probeer absorbeer het en die polisie bewysstukke ingesamel het om die onbekende aanvallers vas te trek, het die res van die land van die moorde bewus geword toe die nuus deur middel van sosialemediaplatforms soos Facebook en Twitter versprei is. Regse organisasies soos Geloftevolk- Republikeine, ’n nuutgestigte tak van die berugte Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB), het dadelik op die lawaaiwa geklim en wolf-wolf geskree aan enigiemand wat wou luister. SMS-boodskappe het soos ’n veldbrand versprei toe hulle verkondig dat die Steenkamp-gesin deur swartes vermoor is en dat die moorde rasgedrewe was.

Selfs president Jacob Zuma en sy regering is geblameer vir die gruweldade wat op die plaas Naauwhoek gepleeg is. Maar niemand het die alternatief oorweeg nie: dat dit nie net nog ’n gewone plaasmoord was nie, maar dat die moordenaar in werklikheid iemand nader aan die gesin kon wees. Desnieteenstaande het die hele Suid-Afrika die oggend ná die moorde van die tragedie geweet.

By Proviand het Don intussen sy familie en vriende vertel wat hy vir die polisie vertel het: dat hy in die skuur, ongeveer 30 m suidoos van die huis, besig was en dat hy geweerskote gehoor het, en weggekruip het. Hy het beweer dat hy niemand gesien het toe hy die skuur verlaat en die huis binnegegaan het nie, waar hy die lyke ontdek het. Nadat sy suster in sy arms gesterf het, het Don beweer dat hy teruggehardloop het na die skuur, in sy pa se Isuzu-dubbelkajuitbakkie gespring het en met die gruispad dorp toe gejaag het om die moorde aan te meld. Maar hy het nie verduidelik waarom hy nie van die plaas af vir hulp gebel het nie, veral nie as sy suster nog ’n rukkie lank geleef het nie, soos hy beweer het. Per slot van rekening was die huisfoon slegs ’n meter of wat van die plek waar haar lyk gevind is en Don het sy selfoon in sy sak gehad … Toe sy foon kort ná 19:00 lui, was die nuus wat Joe Scholtz op die punt was om te ontvang die laaste ding wat hy verwag het om te hoor. Dit was Bob de Villiers wat Scholtz op sy plaas Patrysfontein, ongeveer 15 km suidoos van Griekwastad, gebel het. Toe Scholtz die foon hoor lui, het hy vir sy vrou, Ansie, gesê om dit te ignoreer. Die Scholtz-familie was besig om reünie te hou en hy wou nie gepla wees nie. Maar toe Ansie die foon antwoord en sekondes later vir haar man sê dat dit uiters dringend is, het Scholtz teësinnig die huis binnegegaan. Om te sê dat hy tot in sy binneste geskok was, is sagkens gestel. Kon dit waar wees?

Is sy bure regtig sopas net ’n paar kilometer van waar hy op sy eie plaas gestaan het, vermoor?

De Villiers het hom alles vertel wat hy geweet het. Scholtz, as voorsitter van die Griekwastad-Agri-Hay-boerevereniging en die provinsiale landelike veiligheidskomitee, het noue bande met sowel die polisie as plaaslike boere.

Met die eerste oogopslag sal jy nie iets buitengewoons aan Scholtz opmerk nie – hy lyk soos duisend ander middeljarige mans. Maar as jy hom van nader bekyk, sal jy sy buitengewoon breë skouers en dik, gespierde arms opmerk. Scholtz het limfkanker meer as vier-en-veertig jaar lank oorleef, wat sy ontwikkeling geaffekteer het, maar hy het sy hele lewe op ’n plaas deurgebring en was nie bang vir handearbeid nie. Om te boer was in sy bloed; dit was wat hy nog altyd geniet het om te doen. Niks anders was belangrik nie.

Onmiddellik na Scholtz die telefoon neergesit het, het hy Naauwhoek gebel. Daar was nie antwoord nie. Hy het toe probeer om Deon en Christel op hul selfone in die hande te kry. Maar daar was steeds nie antwoord nie. Scholtz het vinnig aan sy vrou verduidelik wat met hul lewenslange vriende gebeur het, voor hy by die deur uit is. Aangesien dit sy taak was om die veiligheid van die plase in die omgewing te verseker, was dit ook een van Scholtz se verantwoordelikhede om die plaaslike polisie op misdaadtonele by te staan. Hy wou gaan bepaal of daar enige oorlewendes op Naauwhoek was en ook die misdaadtoneel beveilig tot die speurders arriveer om hom van sy pligte te onthef.

Tydens die rit na sy buurman se plaas kon Scholtz nie anders as om te wonder wie sulke grusame misdade sou pleeg nie. Die roete na Naauwhoek het Scholtz met ’n gruispad Griekwastad toe geneem en van daar op die Niekerkshoop-grondpad. Op pad soontoe het hy verby ’n verlate, wit 1400-Nissanbakkie gery, maar met sy kop wat met ’n duisend ander dinge besig was, het hy nie te veel aandag daaraan geskenk nie.

By Naauwhoek se hoofingang het Scholtz verskeie Griekwastad-polisiebeamptes teëgekom onder leiding van speuradjudantoffisier Sebastiaan Mofokeng, hoof van die speurtak in Griekwastad, wat op pad was om in ’n suidelike rigting te ry nadat inligting ontvang is dat ’n verlate bakkie in die rigting van Niekerkshoop opgemerk is. Mofokeng en sy span het reeds die misdaadtoneel besoek en toe hy die boer groet, het hy Scholtz gevra om die plaaslike gemeenskap opdrag te gee om van Naauwhoek weg te bly. Hy wou nie hê dat daar met enige bewyse op sy misdaadtoneel gepeuter moet word nie.

Toe die polisiemanne vertrek, het Scholtz die kort afstand na die plaashuis gery, waar hy sy bakkie buite die heining naby ’n boom geparkeer het. Alles was doodstil. Die huis was ’n donker skadu in die kwynende skemer. Scholtz het uit sy voertuig geklim en drie polisiebeamptes genader, wat daar saamgedrom het en baie senuweeagtig gelyk het. Toe hy naderkom, het hulle hul vuurwapens op hom gerig en geëis dat hy hom moet identifiseer.

Scholtz is baie bekend en gerespekteerd onder die plaaslike polisie en nadat hy hom geïdentifiseer het en hulle hom herken het, was hulle meer as gelukkig – selfs verlig – om hom daar te hê. Die drie polisiemanne was almal óf konstabels óf studentekonstabels en dit was waarskynlik die eerste keer in hul loopbane dat hulle ’n moordtoneel moes beveilig. Hulle het onseker gelyk oor wat van hulle verwag word en was redelik senuweeagtig oor die moontlikheid dat iemand in die skaduwees om hulle kon skuil.

Scholtz het gevra of hy die huis kon binnegaan om vir enige oorlewendes te soek en hulle het ingestem, op voorwaarde dat hulle hom vergesel. Dit het gelyk asof hulle nie alleen in die donker wou agterbly nie. Toe hulle die werf binnegaan en die huis nader, het Scholtz ’n flou liggie iewers binne sien flikker. Hy het by homself gedink dat die televisie waarskynlik nog steeds aan is. Die enigste beweging wat die mans kon uitmaak, was die vier honde wat die Steenkamp-gesin om die huis aangehou het. Hulle het uit die rigting van die kombuis aan die agterkant van die huis aangehardloop gekom, met hul snoete vol van ’n blink, gladde vloeistof. Dit was te donker om presies uit te maak wat dit is, maar Scholtz het vermoed dat dit bloed is. Die honde was stert tussen die bene en het net so verskrik soos die polisiebeamptes gelyk.

Die groep het om die huis na die kombuisdeur aan die agterkant geloop en het onmiddellik ’n koeëlgat bo in die onderste gedeelte van die kombuisdeur opgemerk. Bloedspatsels was op die muur en vloer, binne sowel as buite die deur, te sien. Regs van die kombuisdeur was ’n boog van drie rye bloedspatsels duidelik sigbaar. Verskeie bloeddruppels was ook sigbaar op die sementvloer buite die kombuisdeur. Daar was geen duidelike tekens van betreding nie. Die polisiebeamptes het hul pistole gereed gehou toe hulle die huis binnegaan. Hulle het deur die kombuis na die eetkamer geloop en die drie lyke, nie ver van mekaar nie, aangetref. Marthella het baie naby haar ma gelê en die lyk van haar pa was ’n paar meter verder weg, tussen ’n tafel en die televisie.

Die polisiemanne het die liggame vir tekens van lewe nagegaan, maar hulle kon sommer met die eerste oogopslag sien dat al drie ’n geruime tyd reeds dood was. Deon en Christel, wat op hul mae gelê het, het albei duidelike koeëlwonde in hul boonste liggaamsdele gehad en hulle was vol bloed. Scholtz was onseker oor die omvang van Marthella se wonde, maar toe hy na haar beweginglose liggaam kyk wat so klein en kwesbaar lyk, het sy hom herinner aan sy eie veertienjarige dogter. Hy kon nie help om te wonder watter tipe monster so ’n onskuldige kind koelbloedig kon vermoor nie. Haar ooglede, wat gekneus en geswel gelyk het, asook haar bebloede en geskende gesig het hom veral opgeval. Oor die jare heen het Scholtz al baie geleer van plaasmoorde wat dwarsoor die land gepleeg is en hy het verskeie video’s en foto’s gesien tydens die lesings oor sulke misdade wat hy bygewoon het. Hy het besef dat daar iets met hierdie toneel verkeerd is. Terwyl hy deur die stil huis geloop het, het hy by homself gedink dat dit geen gewone plaasmoord is nie. Hy het opgemerk dat daar geen gebreekte vensters of ingeskopte deure is nie, dat geen meubels rondgeskuif is nie en dat geen kaste of laaie in die huis oopgehang het nie. Selfs nog meer vreemd was Deon se kluis wat wawyd oop gestaan het, met gewere en ander waardevolle items nog steeds netjies daarin gepak. Die enigste ding wat nie op sy plek was nie was ’n pistoolsak, wat op die vloer voor die oop kluis gelê het. Scholtz het terloops opgemerk: “Die honde is nie vergiftig nie, niemand het in die huis ingebreek nie en niks is gesteel nie. Selfs nie eers die geld in die kluis nie? Nee, tydens ’n plaasaanval gaan die aanvallers byna altyd vir die kontant en die gewere.

Dit was nie ’n plaasaanval nie. Iets meer boosaardigs het hier plaasgevind.”

Op daardie oomblik het ’n polisiehelikopter oor die huis gedreun en almal het uitgehardloop. ’n Reusagtige soeklig voor aan die helikopter het heen en weer na enige verdagte bewegings op die grond gesoek. Op daardie stadium het sommige van die plaaslike boere, wat die skokkende nuus gehoor het, Scholtz begin kontak om te vra of hulle alle paaie vanuit Griekwastad moes blokkeer. Boere werk al dekades lank saam in Suid-Afrika om hul eiendomme te beskerm en die wet af te dwing wanneer ’n misdaad gepleeg word. Hulle het ongelukkig nie veel vertroue in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) nie en hierdie geharde boere is opgewasse teen enigiemand, waar ook al nodig.

In hierdie deel van die wêreld is kinders feitlik met gewere grootgemaak. Die meeste van hulle het vuurwapenopleiding ontvang sodra hulle sterk genoeg was om ’n geweer vas te hou. Hierdie manne sou dus nie twee keer dink om ’n verdagte misdadiger te skiet nie, veral nie as daardie persoon vir die moord van drie geliefde mense in hul gemeenskap verantwoordelik was nie.

Scholtz het weer nagedink oor alles wat hy van plaasmoorde weet om hierdie inligting te kan vergelyk met wat hy op Naauwhoek gesien het. As voorsitter van die veiligheidskomitee moes hy ’n besluit neem. Sy medeboere het hom gerespekteer en sy oordeel vertrou. Die boere wat hom gebel het, wou die polisie help deur te verseker dat die mense verantwoordelik vir die moorde nie in staat sou wees om die gebied te verlaat nie. Maar dit sou nie help om vir hulle te jok of hul tyd te mors nie. Boonop het Mofokeng hom gevra om hulle weg én uit die moeilikheid te hou. “Nee, dit sal nie help nie,” het Scholtz vir ’n boer oor die radio gesê.

Dit was nie ’n plaasaanval nie. Ek dink iets anders het hier gebeur.

Een van die konstabels wat Scholtz reeds jare ken, het hom gehoor en sy kop instemmend geknik.

Scholtz het tussen die huis en die skuur op nog twee koeëlgate afgekom, wat daarop dui dat die skieter óf daar begin skiet het óf iemand na buite gevolg het. ’n Koeël is reguit deur die muur tot in die televisiekamer. ’n Verdere, ietwat groter gat was sigbaar in die muur links van die toe skuurdeure. Scholtz het vermoed dat die skieter uit die rigting van die kombuisdeur op iemand geskiet het.

Toe hy na die gras tussen die twee geboue kyk, het Scholtz ’n groot poel gestolde bloed opgemerk, wat die honde besig was om op te lek. Omdat dit moontlik ’n uiters belangrike bewysstuk was wat behoue moes bly, het Scholtz vinnig die honde weggejaag en twee groot oliedromme nadergesleep om die bloed wat oor was, te bedek.

Scholtz het een van die polisiekonstabels ’n rukkie later genader. “Het jy die bloed gesien?” het hy gevra en na die poel bloed gewys.

“Ja. Dit moet een van die slagoffers s’n wees. Hierdie persoon is waarskynlik in die huis ingesleep en daar vermoor. Ek dink die liggame is verskuif,” het die polisieman gesê en dalk verwys na Deon en Christel Steenkamp. Daar was sleepmerke in die bloed naby hul lyke.

Scholtz het hieroor nagedink en gewonder of die bloed buite die huis Marthella s’n was. Het sy miskien probeer om uit die huis te vlug? Het sy probeer om na die skuur toe te hardloop in ’n poging om een van haar pa se voertuie te gebruik om te gaan hulp soek?

Onseker, het Scholtz sy vrou gebel om haar te sê dat hy nog ’n hele rukkie op Naauwhoek sou wees. Hy was sopas ingelig dat die plaaslike polisie deur lede van die Valke, op pad uit Kimberley, op die moordtoneel bygestaan sou word.

Die Valke, ’n spesialiseenheid van die polisie wat slegs hoëprioriteitsmisdade ondersoek, is die topeenheid binne die polisie. Hy was verlig dat die ondersoek na die moord van sy vriende in goeie hande sou wees. Scholtz het weer begin dink en gewonder wat regtig op Naauwhoek gebeur het …

Lees die tweede hoofstuk HIER