HOOFSTUK 31: INEENSTORTING (DEEL 1)  “.... Die volgende ding wat ek onthou, is dat ek êrens in ’n bed wakker geword en daarop aangedring het dat ’n verpleegster die pypies in my keel uithaal. Amor was daar en het vir my gesê: ‘Moenie worry nie, jy kan asemhaal ... jy kan asemhaal ...’ “Dit was aaklig toe hulle die pypies moes uithaal – die goed het tot reg in my longe geloop. Maar ek het blykbaar toe weer aan die slaap geraak en die volgende wat ek kan onthou is eers weer van die Maandagoggend af.” Amor vul die gate in sy geheue. “Hy was baie knorrig toe hy by die huis kom, maar hy was al klaar kwaad toe ek hom gebel het voordat hy teruggekom het. Toe ek hom vra wat fout is, het hy net gesê hy is moeg. Hy het nie goed gelyk toe hy by die huis instap nie. Hy het half aan die slaap gelyk en was baie bleek. Die gewone manier waarop hy voor hom uitgestaar het, asof hy duisend myl ver kyk, het meer gelyk na tweeduisend myl ver,” lag sy. “Hy het ook aan sy linkerskouer gesit en trek terwyl hy met die mense gesels het. Eintlik het hy meer geluister as gepraat. Ek het by myself gedink hy soek net simpatie. Hy het ’n lekker dag by die rugby gehad, maar ek was heeldag saam met die kinders by die huis, en ek was ook nogal moeg, het ek nog gedink.” Toe een van die gaste opgestaan en totsiens gesê het, het dit gelyk asof Joost haar nie hoor nie. Amor het toe geweet dat daar beslis iets fout is. “Met dié het Joost opgekom en toe op die vloer neergeval; sy kop het die teëls getref. Ons gaste het ’n kussing onder sy kop gesit en gesê dit lyk asof hy slaap. Maar ek het onmiddellik gedink ‘paramedics’ – ek was eintlik paniekerig, maar het seker kalm gelyk. As gevolg van ’n insident toe Jordan ’n jaar gelede ’n brandwond opgedoen het, het ons die paramedici se nommer op ’n magneet op die yskas gehad. Ek het die nommer gebel en is binne ’n paar sekondes deurgeskakel. Ek het vir hulle gesê my man is bewusteloos en hulle moet asseblief iemand stuur. Jy sal dit nie glo nie – drie minute later was hulle by ons.” Intussen het Joost ophou asemhaal, maar gelukkig het een van die gaste KPR op hom begin doen. Net toe stap die paramedici in. Joost het skielik begin ruk en skud, “asof hy ’n epileptiese aanval kry,” sê Amor. “Sy kop het op en af geruk – dit was soos ’n fit.”

 
Sy kop het op en af geruk
– dit was soos ’n fit.” - Amor

 
Amor het Joost se ouers en sy broer Pieter gebel, wat almal ingestem het om deur te kom. “Ek het saam met Joost in die ambulans gegaan en ons het Sunninghill-hospitaal toe gejaag. Hulle het gereed gestaan en ons ingewag toe ons daar aankom. Ek was verstom oor hoe bekwaam hulle was. Jy hoor altyd van probleme met hospitaaldiens, maar die manier waarop hulle ons hanteer het was eenvoudig fantasties.” Amor is na ’n wagkamer geneem, terwyl Joost verskeie skanderings gekry en ondersoek is. “Die een oomblik het ek reggemaak om bed toe te gaan sodra ons gaste sou vertrek, en die volgende oomblik was ek in die hospitaal se noodeenheid. Ek het gewonder: ‘Wat de hel het gebeur?’ Dit was baie vreemd. Die kinders se gesigte het aanhoudend in my gedagtes opgekom. Ek het aanhou dink: ‘Hulle het ’n pa nodig, hy moet net oukei wees, vir húlle, hulle kan nie sonder hom lewe nie.’ Ek kon myself nie keer nie. Dit was verskriklik.” Dinge het nie veel beter gegaan toe sy toegelaat is om Joost te sien nie. Hy is aan ’n lewensondersteuningstelsel gekoppel en het buisies in sy mond en deur sy keel tot in sy longe gehad. “Natuurlik het ek hom nog nooit so gesien nie. Dit was moeilik om hom so te sien. Ek onthou ek het net langs hom gesit en sy hand vasgehou.” Joost se ouers het omtrent eenuur daardie oggend daar aangekom, en sy broers kort daarna. Ongelukkig was Amor se ouers oorsee. “Dis vreemd, maar ek het so alleen gevoel. Dit het nie saak gemaak dat daar ander mense was nie, ek wou net hê dat my ma en pa daar moes wees.” Toe, in een stadium, wou ’n verpleegster die buisies na Joost se longe verwyder sodat hy op sy eie kon asemhaal. Dit is toe Joost blykbaar vir die eerste keer bygekom het, soos hy dit onthou. Amor vertel: “Hy was erg onstoke en kwaad, en het gedreig om die buisies self uit te trek as die verpleegster dit nie doen nie. Hy kon ook niks onthou nie en het aanhoudend gevra waarom hy daar was.” Dan voeg sy by: “Wat vir my vreemd was, was die heel eerste ding wat hy vir my gesê het: ‘Ek het vir oupa Joost gesien. Hy het na my toe gestap in die veld en hy het my hand geskud. Hy het gesê ek is oukei.’” Amor het gevoel asof sy breekpunt bereik het. “Alles was net so vreemd.” LEES DEEL 2 HIER WEN ELKE DAG 'N GETEKENDE EKSEMPLAAR  - KLIK HIER
* Uittreksel uit Joost - Spiëelbeeld (Zebra Press), R189.95. Beskikbaar vanaf 10 November. Bestel die boek teen 'n afslag-prys by SARIE se aanlynwinkel.