HOOFSTUK 31: INEENSTORTING (DEEL 2) Terug na Deel 1
...Terug by die huis het Amor gesien hoe Pieter die Rapport sit en lees. Die koerant het ’n storie gehad oor die meisie van die berugte video. “Op die voorblad was ’n foto van haar. Sy het met haar bene oop gesit, in ’n Springbok-trui met ’n nommer 9 daarop. Ek het net begin lag. Op daardie punt was dit alles net te veel. Ek dink sy het ’n direkte hou na my gemik op daai voorblad,  want ek het by tye op die verhoog gegaan met Joost se No. 9 trui aan.” Die kinders se reaksie op hul pa se ineenstorting was interessant. Toe Amor vir Jordan vertel het dat Joost geval en sy kop gestamp het, en toe hospitaal toe moes gaan, het hy onmiddellik gevra of sy pa in ’n ambulans gery het. Toe Amor ja daarop geantwoord het, het Jordan gevra: “Was jy bang, Mamma?” “Ek het gedink dis buitengewoon intuïtief vir ’n vyfjarige om so ’n vraag te vra,” sê Amor trots. “Kylie was baie stil. Terwyl Jordan allerhande vrae gevra het, het sy my geïgnoreer. Maar toe ek hulle hospitaal toe neem, nadat die verpleegsters al die pypies en buisies van Joost verwyder het, het Jordan teruggetrokke geraak en Kylie was weer die kletskous. Hulle is nou oukei. Net bly om hulle pappa by die huis te hê.” Joost sê dat Jordan hom aanhoudend vra of hy weer gaan weggaan. “Kylie hou aan inloer om seker te maak dat ek nog hier is,” lag hy.

 
Was jy bang, Mamma?”
- Jordan

 
Terwyl die hele drama ontvou het, het Amor ’n fout ontdek op die meesterkopie van haar nuwe CD, wat sy veronderstel was om af te teken omdat die vrystelling om die draai was. “As gevolg van alles wat aan die gebeur was, het ek nie tyd gehad om dit te gaan haal, deur te luister en goed te keur nie. Toe dit by my afgelewer is, het ek daarna geluister op pad hospitaal toe en ’n haakplek in een van die snitte opgetel. Maar toe ek my platemaatskappy bel, het hulle gesê dat hulle al klaar die glasmeester vir die druk van die CD vervaardig het.” Die glasmeester is ’n baie duur deel van die proses en Amor het begin voel asof die hele wêreld teen haar gedraai het. “Uiteindelik het ek vir Kosie, die HUB van die maatskappy, gebel en hy was fantasties. Hy het gesê ek hoef my nie verder te bekommer nie, hy sal alles uitsorteer. “Maar die ergste van alles was die pers. Die fone het net nooit ophou lui nie. Ek het boonop Joost se selfoon ook gehad om na om te sien en hulle het vir hom boodskappe gestuur! Hy was in intensief en daar het wraggies sms’e deurgekom waarin hulle vra vir ’n verklaring. Daardie Dinsdag was daar ’n brief in die Citizen wat dit so mooi opgesom het: ‘Wanneer sal die pers gelukkig wees? Wanneer hy in sy graf is? Of as die huwelik verbrokkel het en hulle skei? Wanneer gaan dit alles ophou?’ Dit lyk asof dit nooit gaan gebeur nie,” sê sy kopskuddend. Terug by die huis, het Joost gevind dat hy baie moeg bly. “Ek het met my huisdokter, Henry Kelbrick, gepraat. Hy het gesê dis nie ernstig as jy net een aanval gehad het nie. Maar as jy nog een kry, dan is daar ’n ernstige probleem. So ons sal moet wag en kyk. Wat regtig irriterend is, is die pers wat aan Amor, Bridget (Joost se publisiteitsagent) en my begin karring het om uit te vind waarom die toksiene in my bloed getoets is. Ons het nooit besluit om enige toetse op my te laat doen nie. Die hospitaal het besluit watter toetse hulle moes doen.” Dit het gelyk asof die media probeer sê dat Amor wou kyk of Joost dwelms gebruik het; hulle het geïnsinueer dat daar een of ander verband was tussen die neem van so ’n toets en die video waarin hy na bewering dwelms snuif. Joost se reaksie daarop is bitter: “Daardie Saterdag het Barend van Graan, die HUB van die Blou Bulle, ook ná die rugby inmekaargesak. Maar die pers het hom nooit gevra waarom hy presies dieselfde soort toets gekry het nie. Dis net ongelooflik. O, en voormalige Springbok-flank Ruben Kruger het sy bewussyn verloor terwyl hy bestuur het, en hy het dieselfde toets ondergaan; wou enigiemand weet waarom hy getoets moes word?” LEES DEEL 1 WEN ELKE DAG 'N GETEKENDE EKSEMPLAAR  - KLIK HIER * Uittreksel uit Joost - Spiëelbeeld (Zebra Press), R189.95. Beskikbaar vanaf 10 November. Bestel die boek teen 'n afslag-prys by SARIE se aanlynwinkel.