Op ‘n kort besoek in 2005 het ek en Rafe hopeloos verlief geraak op hierdie deurmekaar stad. Ek weet vandag nog dat die sjarme juis in hierdie wanorde lê. In April 2012 sal ons ses jaar hier wees.

Rafe het in 2005 sommer agtergebly en begin boer. Ons is albei betrokke in die tafeldruifbedryf – Rafe aan die produksiekant en ek by verpakking en bemarking. Die tafeldruifbedryf in Marokko is bitter klein. Die land voer jaarliks 2 miljoen bokse uit in vergelyking met 50 miljoen vanaf Suid-Afrika. In Suid-Afrika het ons op die familieplaas in Augrabies teen die Oranje-rivier ook met druiwe geboer. Marokko se grootste voordeel in teenstelling met SA is dat die trokke binne 2 dae in Spanje en binne 5 dae in Engeland kan wees om die druiwe by die mark af te laai. Dis ook vir ons heerlik om betrokke te wees by die ‘Green Maroc’-projek, wat deur koning Mohammed VI geïnisieer is. Die projek fokus op die ontwikkeling van kleiner boere op tegniese vlak, maar ook om vir hulle oplossings te bied vir die verpakking en bemarking van hul produk.

Met die Arabiese Lente nog vars in almal se geheue en ‘n wêreld wat wonder watter land volgende aan die beurt is, is ons gelukkig dat die proses na demokrasie reeds jare tevore in Marokko begin is. Die eerste demokratiese verkiesing is afgehandel en die Justice and Development Party (PJD) is nou aan die bewind. Dit is ‘n gematigde Islamitiese organisasie wat beloof om die gaping tussen ryk en arm te verklein en korrupsie vas te vat. Hier in die noorde van Afrika is korrupsie ook aan die orde van die dag. Ek het gou geleer sonder bakchich ('n fooitjie) onder die tafel gaan ek nie die telefoonlyn gekoppel kry nie en my kar gaan nie gediens word nie.

Een van die grootste uitdagings was die taal. Ons het hier geland en kon nie eers behoorlik BONJOUR sê nie. Nou praat ons steeds Frans wat die Parysenaars se nekhare laat rys, maar ons kan onsself help!

Marrakesj is beslis kosmopolities! Ons woon sowat 10 km buite die stad in ‘n tipiese village, genoem ‘n douar, tussen Marokkaanse gesinne. Langs ons woon die wonderlikste gesinnetjie. Vrydag is koeskoes-dag en kan jy maar weet daar gaan ‘n klop aan jou deur wees om die bord kos af te lewer. Selfs 2 jaar gelede toe Kersdag op ‘n Vrydag geval het, het ons ons bord koeskoes ontvang. Dit bly steeds vreemd om in ‘n omgewing te woon waar jou feesdae geen betekenis vir die mense rondom jou het nie. Ons het al hulle Eid al-Adha-fees bygewoon, maar verstaan nog nie 100% die groot opgewondenheid wat daarmee gepaardgaan en die aandag wat gegee word aan die keuse van ‘n skaap nie. Natuurlik verstaan ons die simboliek van die lam wat in die plek van die seun geoffer word, maar met ‘n paar subtiele verskille.

Marrakesj het 2 supermarkte, maar ons verkies om steeds groente en vrugte langs die straat te koop. Die Marokkane is baie lief vir tajine – ‘n stowegereg van lamsvleis, beesvleis of vis met ‘n verskeidenheid groente. Ook baie gewild is mechoui, ‘n lam heel gebraai op die spit. Vir ontbyt eet hulle graag sop (harira). Ons is ook baie lief vir ‘n pastilla – ‘n soutpastei met versiersuiker op die kors gestrooi.

Marrakesj is ‘n fees vir ‘n kreatiewe siel. Hier is soveel van die tradisionele ambagte wat nog aktief beoefen en van een geslag na die volgende oorgedra word. Jy kry ongelooflike houtsnee-meubels, mosaïek-tafels, fonteine, muurskilderye, leerartikels, skoene en die mooiste, mooiste ligte. ‘n Mens voel eintlik sensories oorlaai ná 'n dag se ronddwaal in die souks. Daar is ‘n atmosfeer, reuke en geure waaraan die mooiste foto nie reg kan laat geskied nie.