Sy naam was Elvis. Elvis Blaauw. Ons almal het geweet hy het nie meer lank om te lewe nie. Jan was vir hom 'n vriend. Jan en Elvis. Onafskeidbaar soos broers, al was hulle uit twee wêrelde. En hulle twee kón kuier. Een 'n musikant en een 'n dromer.

Ja, Elvis het gedroom. Oor hoe dit moet wees om uit 'n bed te kan opstaan. En oor hoe hy nog eendag sou speel soos ander kinders. Oor skool toe gaan en lees en skryf.

Selfs net oor buite kom en vir 'n uur in sy rystoel die wind en die son voel.

Elke week het Jan ons vertel hoe dit gaan met Elvis. Van hoe sy kinderlyfie moedig probeer veg teen die vigs-aanslag en hoe Elvis nog voluit leef, meer as baie mense wat blakend gesond is. Hoe Elvis dit geniet as Jan sy kitaar vat en sing. En as Jan sing, is 'n mens in vervoering. Gehore van duisende verkrummel voor die aanslag van fluweel in klank wanneer Jan agter 'n mikrofoon inskuif. Maar die duisende kon wag. Geen gehoor was belangriker as Jan se vriend Elvis Blaauw nie.

Elvis het groot gedroom. Wanneer hy vertel het hoe hy eendag 'n ster sou wees met die wêreld aan sy voete, kon jy sien dit was in hom. As die kaarte vir hom anders uitgedeel was, sou hy kon. Daar was vuur in sy stem. Vuur in sy hart. Ja, hy sou sowaar eendag 'n kitaar kon speel soos sy held wat week na week ure langs sy bed deurgebring het. Hy sou kon. Want die vuur was daar. Maar nie die krag nie. Hy kon droom en glo. Maar eet kon hy skaars. Ons het geweet dit sou net 'n droom bly.

Een oggend het Jan kom sê Elvis het gebid. Nie vir die dinge waarvoor ek en jy bid nie. Nie vir begrotings en skedules nie. Nie vir die een of ander projek nie. Elvis se gebed het ons almal skaam gemaak oor ons eie: "Here, maak my asem. Amen," het Jan vertel met bewende lippe. Maak my asem . . .

Ons het daardie Sondag die gemeente opgeroep om te help dat ons die apparaat kon koop wat dit vir Elvis moontlik sou maak om sy laaste weke te voel die Here het gehoor. Almal het gegee. Maar die volgende middag is Elvis vir ewig verlos van rystoele en hospitaalbeddens. Die Here het vir hom asem gemaak in 'n plek waar hy nooit weer benoud sou wees nie. Ons geld het skielik so onbeduidend en waardeloos gelyk. Dit kon darem help met die begrafnis.

Dit was 'n paar maande later. Drieuur die oggend spring Jan in sy beskeie motor. Hy weet hy moet gaan. Hy moet vir iemand 'n droom gaan jaag. Elvis sou wou hê hy moet. Honderde kilometers verder kom hy aan en wag 'n hele dag. Wag om te vertel. Van Elvis en ander kindertjies soos hy. Van Elvis se maatjies wat nie eens so gelukkig was om in 'n hospitaalbed te sterf nie. Van ander maatjies wat droom. Van sy musieklesse in plakkerskampe. Want daar brand 'n vuur in hom. Om 'n verskil te maak, al is dit net vir 'n paar arm kinders.

En dan sing Jan. Hy sê sy naam is Elvis Blue. Want hy het 'n vriend gehad. Mara huil. Gareth sê daar is iets in Elvis, hy weet nie wat dit is nie, maar dis anders. Ek sou vir hom kon sê wat dit is. Elvis Blue is 'n ster. Een wat wil skyn. Nie net wanneer daar duisende in die gehoor sit en die geld instroom nie, want dan sal enigiemand wil skyn. Elvis Blue het lankal geskyn en gewen, toe hy nog net Jan was. Lank voor hy ingeskryf het vir Idols. Want Jan het gesing toe daar 'n beoordelaar was wat gedroom het van opstaan. En gebid het vir asem.

Die lewe is baie soos Idols. En elkeen van ons kan dit wen. As ons net weet dat die Groot Beoordelaar reeds luister hoe ons sing. En vir wie. En dat daar elke nou en dan iemand langs ons pad kom wat ons lied so vreeslik nodig het. Soos asem.

En vriendskap.

Kyk die roerende Kwêla-video-onderhoud met Coenie de Villiers