Waar ons woon?

Ek, my man, Bernhard, en ons seun, Xander (12), woon nou al amper 3 jaar in Bayern in die stad Erlangen – die stad bestaan hoofsaaklik uit mediese en ingenieursfirmas. Die stad word omring deur woude.

Hoe lyk dit hier?

Duitsland is pragtig! Die winters is vir ons die mooiste deel van die jaar. Die somers is vir ons net te warm. Al het ons Afrika-bloed, is die somer-temperature, wat maklik 38 grade Celsius kan wees, erg. Die woude is vreeslik mooi, veral om in te draf. Die rustigheid kan 'n mens nie beskryf. Xander en sy pa ry met die fiets en bus skool toe en werk toe, afhangende van die weer. Gelukkig is die openbare vervoer goed en veilig. Die maatskaplike dienste kan ek nou nie vergelyk met Suid-Afrika nie. Ongelukkig het ek nog nie met ‘n geruste hart kon sê dat ek daarmee gelukkig is nie. Onderwys is verniet, universiteitstudie betaal ons per semester.

Waar werk ons?

Bernhard werk by ‘n internasionale ingenieursfirma (Siemens) as Power Quality Ingenieur en hy geniet dit baie. Ek werk tydelik by die Erlangen Stadsraad as skofleier by hulle openbare swembaddens se kiosk.

Was die aanpassing groot?

Die aanpassing was vir Xander ontsettend erg. Die teleurstelling om nie ons diere te kon saambring nie, was baie erg. Omdat dit ‘n klein buite-dorpie was waar ons eers gehuur het, het die onderwyseres dit glad nie vir Xander maklik gemaak nie en hom vreeslik emosioneel afgeknou, so erg dat die klas heeltemal teen Xander was. Ons grootste ligpunt was dat ons van die begin af hom by ‘n swemklub ingeskryf het. Met groot drama en hulp van die sportklub het ons uiteindelik Xander uit die skool kon skuif na ‘n skooltjie in ons eie dorp. Dit was die beste besluit nog. Xander het onmiddellik gestraal en heeltemal verander. Met die taal het geeneen ‘n probleem nie. Bernhard het Duits grootgeword en ek het die taal 3 jaar lank by die Duitse instituut in Rosebank studeer. Xander was van kleins af in ‘n Duitse kleuterskool. Skooldruk hier is baie hoog, Xander het op die ouderdom van 11 al die meeste hoofvakke wat ons kinders in Suid-Afrika in Graad 10 het. Duits, Engels en Latyn is sy drie hooftale op skool.

Interessante dinge ervaar?

Ons het agtergekom Xander is ‘n regte “goudvissie”! Hy is tans een van die top 5-swemmers in Duitsland vir sy ouderdom. Xander ervaar eintlik die meeste in die stadium, aangesien hy ongelooflik rondreis vir sy swem. Hy was in die kort tydjie dat ons hier woon in meer lande as wat ek al ooit in my lewe was! Die balans tussen skool en sport was nog altyd positief vir Xander. 

Hoe is die mense hier?

Die tradisies en mense ken ons omdat Bernhard ‘n half-Duitser is. Sy familie woon in Duitsland, Hessen. Die Duitser kan ek uit ervaring beskryf as ‘n volk wat nie sommer vinnig vertrou nie. Jy moet lank werk voordat jy iemand se vertroue of vriendskap gewen het. Die Duitser is nie besonder lief daarvoor om Engels te praat nie en dis moeilik vir mense wat Duits nie magtig is nie. Die Suid-Afrikaners wat ek toevallig hier leer ken het, woon al baie jare hier en soos ons, is hulle baie gelukkig.

Lekkerste van hier wees?

Die gevoel van veiligheid is onbeskryflik. Ek is elke keer geskok wanneer ek sien die straattekens soos bv. ‘n stopstraat-teken word een keer ‘n maand deur die stadswerkers afgewas.

Die slegte?

Dat ek nie vinnig in my motor kan klim om gou vir ouma Santie en oom Irvin kossies te vat nie. Dat hulle ook vir Xander baie min sien en sy grootword mis en sy swemkompetisies nie kan bywoon nie, maak my baie keer hartseer.

Hoe bestee ons vrye tyd?

Ons het baie min vrye tyd as gesin saam. Xander is meeste van die tyd weg met swem, en Bernhard reis baie rond vir sy werk. Die tye wat ons wel saam is, spandeer ons by ons huis en kuier saam met vriende. Augustus spandeer ons in die res van Europa, by familie in Hessen en by die huis.