“Doen jouself ’n guns en gaan kyk Roepman. Dit is baie goed gedoen en almal was mal daaroor,” vertel SARIE se styl- en sosiale redakteur, Fanie Cronjé.

Die manne van die bekende musiekgroep Klopjag was baie betrokke by die produksie van Roepman. Salmon (Salas) de Jager is een van die vervaardigers en het help skryf aan die rolprentdrama. John-Henry Opperman, wat vir Klopjag sing, vertolk die rol van die Roepman, Joon. Dawie de Jager het die musiek vir die fliek geskryf.

“Die kostuums is ook baie treffend en eie aan die tydperk waarin die prent afspeel,” vertel Fanie verder. “Die toneelspel is regtig goed, ek was mal daaroor.”

Akteurs soos Altus Theart, Deon Lots, Lida Botha en Andrew Thompson is maar net ’n paar van die sterre wat in Roepman te sien is. Paul Eilers is die regisseur.

By die première was ook ander bekendes soos Rolanda Marais, Therese Benade, Elzette Maarschalk en Lizz Meiring.

Die fliek is gebaseer op Jan van Tonder se boek met dieselfde naam.