En eergisteraand (5 Oktober) was die openingsaand. Ek is mal oor 'n openingsaand, soos julle seker al agtergekom het.

Die gastelys het uit sy nate gebars. Almal van sepiesterre tot sangers, TV-persoonlikhede, agente, musikante en verhoog-akteurs was daar.

Die storie, kortliks, gaan oor Sophie, gespeel deur die jong Carmen Pretorius (sy is te oulik), wat haar pa soek en dan die drie moontlike kandidate na haar troue nooi om vas te stel wie dit nou eintlik is. Die stuk speel af op 'n Griekse eiland die dag voor en op die troue.

Gina Shmukler in die vroulike hoofrol as Donna, Sophie se ma, is duidelik 'n musiekteater-ster van formaat. Haar vertolking van "The winner takes it all" is treffend. Anrich Herbst as Sam, een van die moontlike pa's, was net so 'n plesier om te aanskou. Ek het sy sang geweldig geniet. Sy vertolking is beheersd en gefokus. Hy doen nie somersaults en bollemakiesies nie.

Dis 'n lekker balans tussen al die ander bedrywighede op die verhoog. Die ensemble cast en die koor werk uitstekend en dis heerlik om na hulle te kyk. Ek hou altyd van 'n chorus - dit gee lewe. Vir my behoort die verhoog egter aan drie spelers: Kate Normington as Tanya, Ilse Klink as Rosie (Donna se vriendinne) en Neels Clasen, nog een van Sophie se moontlik pa's. Ek kon nie wag vir hulle om op die verhoog te verskyn nie. Kate en Ilse gee 'n komiese kragtoer. Hulle wys hul staal as SA verhoog-elite. En Neels is eenvoudig wonderlik, gemaklik, moeiteloos en sjarmant.

Mamma Mia! doen presies wat dit moet doen. Dit laat jou goed voel.

Geniet jouself tog so 'n bietjie en treat jouself. Die produksie is hoogs vermaaklik. Selfs die suurste pruim kon nie help om te glimlag nie.

Mamma Mia! is tot einde Desember 2010 opgevoer.