Ek hoop op die dag dat sinnelose oorlog, die uitbuiting van vroue en die verwoesting van kinders se onskuld ‘ou nuus’ is. Wanneer films soos Incendies, wat eenvoudig gaan oor die liefde van 'n ma, nie meer so broodnodig is nie. Ons is nog ver van daardie dag af, maar by films soos dié kan ons iets leer.
 
Storie

Incendies begin met die lees van 'n testament. Die erfporsie word gehalveer tussen die tweeling Jeanne en Simon. Eers moet elkeen 'n brief aflewer. Jeanne moet die pa vind wat hulle geglo het is dood. Simon moet die broer vind waarvan hulle nie geweet het nie.
Simon rebelleer en sê hy het vrede noudat sy ma, Nawal, oorlede is. Hy bly in Kanada agter. Maar Jeanne vat die eerste vliegtuig Midde-Ooste toe.
 
Hoogtepunte

Soos die tweeling die ongelooflike storie oopvlek, spring die film tussen die hede en hul ma se interessante verlede. Vir die eerste twee uur vat die regisseur, Denis Villeneuve, jou saam deur die oorweldigende storie, die onverwagse ontwikkelings en hy bou spanning op. In die laaste paar minute, in een reël van 'n brief, vat hy die hele film vas en breek hy met groot vernuf jou hart.
 
Nawal se lewe is tragies en sy ervaar die slegste wat die mensdom haar kan bied. Tog word die geweld en die uitbuiting nie so grafies uitgebeeld dat dit jou te veel steur nie. Jy weet baie goed wat met haar gebeur, maar jy sien nie al die detail nie. Dus stap jy nie moeg by die teater uit nie. Inteendeel, jy voel geïnspireer deur dié ma se liefde.

Laagtepunte

Ek sit gemaklik deur 'n film van 2 uur en 10 minute. Dit is dalk te lank vir ander mense. My Schmaltz-meter het ook twee of drie keer amper aangeskakel, maar gelukkig is die melodrama tot die minimum beperk.
 
Vermaak vs. Kuns

Incendies is vir seker nie so toeganklik soos byvoorbeeld die nuutste Marvel-film, Captain America, nie, maar dan het dié Kanadese produksie baie meer hart en siel en 'n baie belangrike boodskap om oor te dra.
 
Vir wie beveel ek dit aan?

Alhoewel Incendies nie vir 'n eerste date aanbeveel word nie, sal ek dit andersins aanbeveel vir almal  wat hou van 'n film met iets meer om die lyf.
 
Opsommend

Ten spyte van wat die wêreld aan haar doen, hou Nawal haar kop hoog en dra sy uiteindelik 'n boodskap van hoop oor aan haar kinders, en aan ons, die kykers.

Kyk hier die lokprent: