Die fliek begin waar Tintin, ’n wêreldberoemde verslaggewer, vir hom ’n model-seilskip op ’n mark koop... Maar dan steel die slinkse Sakharine dit uit sy woonstel en Tintin en sy getroue hond, Snowy, vat die spoor. Nie lank nie, of hulle is aan boord van die sluwe Sakharine se skip. Die eintlike kaptein, Haddock, is van sy amp onthef. Tintin, Haddock en Snowy ontsnap en vlug Marokko toe, waar hulle drie antieke perkamentrolle moet opspoor om uit te vind waar ’n ou seerowerskat begrawe is.

Grootmense en kinders sal dié fliek ewe veel geniet. Daar is volwasse innuendo, maar meer as genoeg slapstick-humor en vreemde situasies wat net in ’n animasieprent kan werk. Die avontuurlustige Tintin en sy dierbare Snowy is ware heldefigure vir die jongspan. Kaptein Haddock se drankprobleem sorg vir baie humor, maar waarsku terselfdertyd die kykers – oud én jonk – teen die nare gevolge van alkoholmisbruik.

Spielberg beplan die fliek al sedert 1981, toe hy die oorspronklike strokiesboeke die eerste keer gelees het. Sy aanvanklike plan was om ’n gewone aksieprent te maak, maar die animasie is uitstekend. Die karakters is in die oorspronklike animasie-styl van Hergé se boeke ontwerp, met ’n onvergeetlike en realistiese trefkrag. Naby skote ontbloot die fyn detail van die karakters se vel en klere, terwyl wye skote die kyker weer daaraan herinner dat die aangrypende karakters geanimeerd is.

Grootmense kan gerus vergeet dat dit ’n animasieprent is en hulself gate uit geniet, soos net ’n kind kan! Die raaisel hou almal tot aan die einde van die fliek in die duister, en die humor maak dit net ’n nog lekkerder fliek. Dis die eerste keer dat Steven Spielberg ’n animasieprent aandurf, en dit wys jou net weer daar is altyd iets nuuts om te probeer – jy moet net aanhou glo in jouself. Kaptein Haddock som dit mooi op as hy in ’n desperate oomblik vir Tintin eenkant toe vat en sê: “Daar is baie ander mense wat bereid is om jou ’n mislukking, ’n domkop en ’n verloorder te noem ... moet dit nóóit self sê nie.”

Moenie dié fliek misloop nie. Dis gebaseer op ’n gewilde reeks strokies wat reeds die toets van die tyd deurstaan het, en die avontuur, die lekker lag en ons drie helde sal die gehoor nog lank ná die tyd bybly.  

Regisseur: Steven Spielberg

Met Jamie Bell, Andy Serkis, Daniel Craig en Simon Pegg