Die woord ‘lieflik’ word so maklik gebruik, en gereeld om die ordinêre en gemiddelde dinge in die lewe te beskryf. Vir my beskryf die woord ‘lieflik’ egter iets besonders, iets wat my raak en my uitkyk op die lewe bevraagteken, nie deur vinger te wys of mens skuldig te laat voel nie, maar deur jou te wys wat moontlik is. The Help is inderdaad lieflik.

Storie

Skeeter (die onweerstaanbare Emma Stone) woon in Jackson, Mississippi. Sy is blykbaar die enigste jong vrou wat vir haarself kan dink en nie haar werk by die plaaslike koerant sien as bloot ‘the last stop before marriage’ nie. Haar groot droom is om skrywer te word. Die spanning wat tussen die huisvrouens en hulle bediendes opbou trek natuurlik haar aandag.

Hoogtepunte

The Help word internasionaal gekritiseer vir ‘glossing over its racial themes’. Ek stem nie saam nie. Daar is verskillende maniere om die onderwerp aan te pak. Jy kan die geweld en moord grafies uitbeeld. Dit is al in talle suksesvolle films gedoen. Of jy kan 'n vars invalshoek probeer, jy kan sag met jou gehoor werk. Moet my nie verkeerd verstaan nie, die gevaar is tasbaar in The Help. Regisseur Tate Taylor hou dit bloot in die agtergrond – jy kyk saam met die karakters daarna op TV, lees daarvan in hulle koerante. Waarmee Taylor jou dan vang, en jou diep raak, is die ongelooflike stories – die hartseer van die swart oppassers wat lief word vir wit kinders en hulle uiteindelik moet opgee, dieselfde wit kinders wat dan die ‘baas’ word, die verlange van die ‘white trash’ Celia om in te pas, die wit boer wat twee hektaar grond by 'n rassistiese boer koop sodat sy swart bediende 'n kortpad werk toe het, ens.
 
Vir hierdie invalshoek om te werk het Taylor sterk spelers nodig gehad en hy het goed gekies. Ons almal weet Emma Stone (Easy-A), Viola Davis (Doubt), Bryce Dallas Howard en Allison Janney (welbekend as C.J. Cregg in The West Wing) kan almal toneelspeel. Ek is egter oorweldig deur Jessica Chastain se weerlose vertolking van die hulpelose, maar opregte Celia Foot, die dorp se ‘white trash’ element. Hou haar dop. Haar volgende film, Coriolanus, word reeds hoog aangeskryf.

Laagtepunte

Die films is effens lank teen2h17 en een of twee tonele raak stroperig met tye.

Vermaak versus kuns

The Help is uitsonderlike vermaak, maar ook 'n lieflike kunsfilm.
 
Vir wie sal ek dit aanbeveel?
Almal.

Opsommend

Die besonderse stories van die verskillende bediendes, het my meer laat nadink oor ons eie geskiedenis, meer as enige ander boek of film wat spesifiek handel oor Suid-Afrika. Ek is grootgemaak deur eerstens my ma, maar tweedens 'n swart bediende. Ek wonder of Maria my so mis.