Hoe ... só?

“Gaan jy só winkel toe?” vra sy. “Moet jy nie eers vir jou ander klere aantrek nie?”

“Wat’s verkeerd met my klere?” vra jy. Jy wil net gou ’n vonkprop vir die grassnyer gaan koop. (Gras groei wragtig in die winter ook, al is dit stadiger.)

Jy’t weliswaar huisdra-klere aan, maar dit ís immers Saterdagoggend en wie sny nou gras op ’n Saterdagoggend met ’n das aan? Daar’s ’n verfkol op jou hemp, maar die kol sit gelukkig agter en jou kortbroek - ’n bietjie verbleik - het jy uit die wasgoedmandjie opgediep, maar hy’s gelukkig nie te veel gekreukel nie.

Jou hare is effe verlê aan die een kant, maar jy sal dit later was en kam, wie gaan stort nou vóór hy die gras sny?

“En kyk jou tekkies,” voeg sy by.

Jou voete wil-wil uitval uit jou tekkies, want dis al ’n bietjie platgetrap van agter, nou lyk dit of jou tekkies vooruit loop en jy agterna.

“Dit lyk nie goed nie,” sê sy en kyk weg.

“Maar dit voel gemaklik,” sê jy. Een of ander tyd gaan jy jou tekkies inhaal, jy’s seker.

Net so het sy dit - persoonlik - teen jou geliefkoosde, wollerige woltrui vol wolletjies, wat jy gewoonlik voor die TV dra. As jy dié trui aanhet, wen jou span elke keer.

“Waar’s die nuwe trui wat ek - persóónlik - vir jou gekoop het?” vra sy. “Daai ding is opgedra,” sê sy. “Óp. En kyk hoe uitgerek is dit.” Moet sê, ’n trui wat tot op jou knieë hang soos ’n jong jassie met die skouernate op jou elmboë, kan moontlik snaaks lyk (en by ’n kortbroek dalk komieklik). Maar die nuwe een sit nie so lekker nie, is ook nie warm genoeg nie, en toe jy dit een Saterdagmiddag aangehad het, toe verloor jou span.

Jy weet vir ’n feit sy wou al - persoonlik - daardie trui weggee, jy moes dreig met onmin in die huis en géén blomme of Bar Ones vir die volgende ses maande nie. Buitendien: Iemand het daai trui, om mee te begin, te groot gebrei.

“Die mense gaan dink ek kyk nie na jou nie, hulle gaan sê jy lyk verwaarloos.”

Sê dít vir enige man en hy gaan persoonlik in sy eer gekrenk wees, want só ’n opmerking gaan sit beslis nie in ’n man se klere nie: “Ek kan na myself kyk, dankie!”

Buitendien: Jy kan jouself ook heel goed sélf verwaarloos, jy’t nie ’n vrou se hulp daarvoor nodig nie, dankie. En buitendien: Die hemp met die verfkol is heel en betaal en skoon (behalwe vir die verfkol, wat nie wil uitwas nie). Die ou wat die vonkproppe verkoop, sal beslis nie omgee nie, jy’s seker. En die mense kan mos sien dis ’n huisdra-hemp.

Hulle sal dink: A! kyk, daardie voorbeeldige man wat help in die huis, sy hemp is vol verf, hy kom koop seker nog ’n blik verf vir die spaarkamer en ’n vonkprop vir die grassnyer. En watter vrou wil nie ’n man hê wat help in die huis nie? Om van die tuin nie te praat nie.

“Jy’t ook nie geskeer nie.”

“Dis naweek, dis Saterdagoggend!” beklemtoon jy. “My vel moet rus.” (Kan ’n man nie ook nie?)

Buitendien: Die Camel Man-voorkoms is terug. In Afrikaans: Pure bokram. Hulle noem dit die Übermann - met borshare en baard. Weg is die metroman - met sy sagte, ou verpiepte velletjie en klere wat na Sta-soft en blomme ruik.

“Jou baard krap my!” keer sy as jy die middag ná ete jou wang in haar nek wil druk. Stoppels des aanstoots, wat kirtsgirts maak en haar hoendervleis en rillings gee. (Vir jou gee dit trillings.)

“Dit rasper-krasper so,” gril sy en maak in die proses nuwe woorde op soos rasper-krasper (kirts-girts het jy sommer self opgemaak en trillings is ’n bestaande woord). Dis in elk geval nie asof jy die Camel Man is nie ... sê sy vir die verfkol op jou hemp, net sag genoeg sodat jy ook kan hoor.

Jy draai stadig om.

“Wil jy my boggel sien?” vra jy.