Sy.

Wat nooit verkeerde kos in ’n restaurant terug stuur nie.

Wat nooit vir fluisterende mense sê sjarrap in die fliek nie.

Wat toelaat dat groot vroue met elmboë voor haar indruk in die ry by die Autobank. Wat getrou haar TV-lisensie betaal. Wat élke keer luister na dieselfde boemelaar se selle sad storie in ruil vir R2.

Sy sê: Gaan roep die bestuurder! Sy’t besluit van nou af gaan sy STAAN op haar regte as ’n verbruiker.

Oor ’n blikkie Rooibos Iced Tea.

“Dis die lekkerste ystee wat ek nog ooit geproe het,” sê sy in ’n kafee êrens op ’n plattelandse Saterdagmiddag.

Dis kafeïenvry, Trots Suid-Afrikaans en mens kry drie geure: Lemon, Peach en Classic. Sy hou van die Classic, jy hou van die Peach. Sy koop nog ses blikkies, van die Classic. Dit hou net tot Sondagaand.

Maandag eerste ding staan sy voor die OK. Geen Classic Rooibos Iced nie. Shoprite, Checkers, Checkers Hyper, Shoprite-Checkers-met-’n-koppelteken, Pick ‘n Pay, Pick ‘n Pay Hyperama, Woolworths, 7-Eleven. Sy probeer hulle almal in ’n radius van 10 km. Sy gaan huis toe en sit ’n leë blikkie Rooibos Iced in haar handsak.

Gewapen gaan sy terug winkel toe.

“Meneer, sien jy dié?” vra sy ’n pakker wat daar rondstaan.

(Natuurlik sien die man dit.) “Ek soek hierdie ystee.”

Die pakker draai na die koelkaste en sê hulle het Lipton.

Nee, sê sy, jy verstaan nie. Ek soek dié soort. Die pakker sê sorry, is daar nie ’n ander soort wat Mevrou wil hê nie? Sy gaan vra die meisie agter die kasregister.

“Mevrou moet gaan kyk daar agter in die fridges,” sê die kasregister-meisie. Mevrou sê sy was nou net daar, daar is nie. Dan weet ek nie, sorry. Dis toe dat sy sê: “ Sorry, sorry. Is dit al wat julle kan sê? Gaan roep die bestuurder!” Maar teen dié tyd het die bestuurder vanself nader gestaan uit sy kantoortjie om te kom kyk wat die oponthoud is.

“Meneer,” sê sy vir hom. “Sien jy hierdie blikkie?”

Natuur lik. Maar hy hou nie daardie soort ystee aan in sy winkel nie, want die customers verkies Lipton.

“Customers!” sê sy. “Ék is die customer,” sê sy vir hom met yskristalle in haar stem. (In jou geestesoog sien jy hoe swaai sy daardie blikkie voor die man se neus, hy staan so ’n treetjie terug.) “En as jy nie die goed aanhou nie, hoe dink jy moet die customers dit koop?”

Die man oorweeg dit om vir haar ’n gratis bottel Coke aan te bied.

Bel! sê sy vir die man. Bel jou verskaffers en vind uit waar koop mens dié goed. “Onthou, ek soek die Classic.”

Die man bel, maar hy vorder nie. Heen en weer bel hy.

Bel wéér, sê sy, maar die man weet nie meer waarnatoe nie.

Einde laas belowe hy hy sal háár bel sodra hy iets uitvind.

Sy kom met ‘n leë blikkie by die huis aan. Is dit waar die uitdrukking leë blikke maak die meeste geraas vandaan kom?

Jy kan nie glo sy het so op haar regte geSTAAN nie ...

“Ek kon jou en daardie bestuurder nogal tyd bespaar het,” sê jy kalm. “Kyk, hier staan ’n telefoonnommer op die blikkie. Die goed word op Clanwilliam gemaak. Nogal in Rooiboslaan, ek hoop nie dis ’n grap nie.”

Wragtig, sê sy, kan jy nou meer? Sy bel dadelik.

Jy wil liewer nie by wees as sy vir die een aan die ander kant vra hoekom sy nêrens Rooibos Iced in die hande kan kry nie: “Meneer,” val sy weg. “O. Mevrou, moet ek dan
nou elke keer platteland toe ry daarvoor? Wat’s verkeerd met julle verspreiding?”

Dit blyk toe daar’s ’n verspreider net ’n voorstad ver.

Trouens, net daar skakel sy die middelman in die voorstad ook uit en bestel 6 dosyn Classic Rooibos Iced - dis 72 blikkies! - en 6 Peach as nagedagte. Direk van die vervaardiger, hulle sal aflewer teen presies R2 per blikkie goedkoper as in die kafee (die boemelaar sal bly wees).

PS. Laas toe jy getel het, was daar net 9 blikkies oor. Sy deel dit aan al haar vriendinne uit sodat hulle kan druk uitoefen op daardie winkelbestuurder om Rooibos Iced (Classic) op sy rakke aan te hou. Tot tyd en wyl bly die man in sy kantoortjie sit as hy haar sien aankom ...