Hy het op 85 die Vryheid van die Paarl gekry (en verdien) en met sy kar stilgehou net waar hy wou en net sy hand uitgesteek en oor die straat gestap as hy so wou. Hy het ook meermale gesê wat hy wou. Hy het elke oggend vir hom ’n medium sjerrie in ’n kristalkelk uit ’n kraffie geskink, of twee of drie as hy wou. (Terloops, oom Seppie is die nag ná ’n groot party vir sy honderdste verjaardag - waar hy nog ’n toespraak gehou het - stil in sy slaap oorlede, ek vermoed ook soos hy wou.)

Daar steek vir my meriete in. Die ouderdom moet ook kompensasies hê. Ek sou graag ’n paar “wyshede” aan ander wou voorhou as die spreuke van Izak. Dit sal meesal die soort gemeenplase wees wat waar was in Toetankamen se tyd, maar dis nogal ’n kenmerk van talle gemeenplase: dat dit oor baie eeue waar bly. Net die tegnieke, modes en omstandighede verander, niks meer nie.

Maar terwyl my kanse om oeroud te word uiters skraal is, en my hare al taamlik wit, wil ek solank twee spreuke in my boekie aanhaal wat ek weer onlangs bedink het. Spreuk 1: Moet jou nooit deur geld of die belofte van geld laat lok nie, onder watter voorwendsel ook al. En Spreuk 2: Moenie speletjies speel waarvan jy nie heeltemal die reëls ken of kan hanteer nie.

Ek het op die internet sit en rondmuis op soek na vars nuus tydens die Amerikaanse presidentsverkiesing. CNN is soms net so onuitstaanbaar soos ons eie SABC, wat die
eindelose toespraak van ’n minister afneem waar sy iewers ’n paar lemoenbome aan kleinboere oorhandig of die ou met die swart Mercedes wat kom aansit in ’n saal met tafels en spierwit gestyfde tafeldoeke. Alles stigtelik voorbeeldig, maar g’n nuus nie.

Dus: Ek soek dan eerder op my rekenaar in die webwerwe van oorsese media rond, en so kom ek op ’n “fantastiese aanbod” af. ’n Netjiese klein vormpie is op die skerm geflits met die nuus dat ek klaar 1 000 Amerikaanse dollar wen. Ek moes net ’n paar besonderhede invul, onder meer my naam en e-pos-adres. So gemaak, vind ek uit dat dit 1 000 dollar se produkte is waarvan ek nie een wil hê nie: nie ’n flits wat tot buitekant Johannesburg lig of kruideniersware sonder suiker of stysel nie. Ek kanselleer toe maar die spul.

Maar toe ek die volgende oggend opstaan en my e-pos aanskakel, tref die skok my: My e-pos-legger was oorlaai met advertensies en aanbiedings, almal wat my adres gekry het toe ek uit geldgierigheid die 1 000 dollar-vormpie ingevul het. Een e-pos-speletjie lyk toe interessant: Vir ’n klein bietjie inligting kon ek een miljoen dollar wen, ek moes net ’n paar dotjies in ’n paar sirkeltjies druk.

Niks gewen nie, maar die volgende dag het ek letterlik dosyne koopaanbiedings gekry van San Diego tot by Hongkong. ’n Universiteit het my ’n doktorsgraad aangebied binne nege maande, en Jack’s Casino ’n goue kaart sodat ek oor die internet kon dobbel. En ek kon verder rekenaars “wen”, vakansies, medisyne, tyddeel, kursusse vir geldmaak, fyn broekies en bra’s, huise, slanggif, gemaalde bokhorings vir koerasie en ’n kans om filmsterre te ontmoet van wie ek nog nooit gehoor het nie.

Maar om die stortvloed van gemors-e-pos te keer is geen grap nie. Ek het geduldig alles unsubscribe en adresse geblok, maar ná meer as ’n maand glip daar nog steeds lelike goggas deur. Ek sal rekenaarvormpies van nou af met agterdog bejeën.

Die waarheid is duidelik: Moenie geldspeletjies speel nie. Werk maar daarvoor. Oftewel geld praat nie, dit swets eerder - en lag agterna lekker. Dis opsommend Izak se spreuk. Ongelukkig is dit ook nie oorspronklik nie, want as ek dit nie mis het nie, het Bob Dylan so iets al in 1965 gesing. Maar soos oom Seppie verwag ek nogtans eerbied vir my spreuke, eerder as vir die slimgeit van sekere ouens met grade wat my laat wonder of hulle dit oor die e-pos by “Jack’s Casino” gekry het.