Terwyl jy net nou en dan loer ...

Want sy gesels heelaand heel lustig met mense, bekend en onbekend - sê nou maar julle is by ’n geleentheid soos ’n Oujaarsaand-dans of iets - en wanneer julle by die huis kom, kyk sy in die spieël. Sy kom agter daar was heeltyd ’n stukkie broccoli tussen haar tande vasgekeer.

Dan skaam sy haar dood - en dis jou skuld.

“Hoekom het jy nie vir my gesê nie, ek skaam my dood?!”

Sy wou sê dit het gevoel asof niemand haar in die oë kon kyk as sy met hulle praat nie, sy’t eers gedog dis die laerige hals van haar Oujaarsaand-rok of iets, ondertussen was almal se aandag by die stukkie broccoli tussen haar tande. Jy hét eenkeer vir haar gesê daar sit lipstiffie op haar tand, toe hardloop sy badkamer toe. Sy’t eers drie uur later uitgekom toe die meeste mense al weg was.

“Waar was jy? Was daar iets verkeerd met die kos? Ek wou sê die slaai het nie vir my so vars gelyk nie?”

Maar dit was nie die probleem nie: “Was dit nodig om so hard te praat? Selfs die mense in hoeke het omgekyk, toe weet álmal daar’s lipstiffie op my tande!”

O.

Nou tik-tik jy so met jou vinger teen jou eie tande om haar aandag daarop te vestig. Haar wenkbroue lig in ’n stilswyende vraag: Wat?

Jy tik-tik met jou ander hand teen jou tande en steek jou tong uit. Jy draai jou tong in die rondte, trek jou lippe saam en bol jou wange asof jy soutwater gorrel. Haar wenkbroue vra weer: Wat gaan aan met jou?

As iemand dit agterkom, sal hulle dink julle praat vingertaal of probeer vir mekaar tekens gee. Julle skinder van iemand binne hoorafstand (kyk daardie vrou se kuite, sy sal lekker teen die prikkels kan skop, dan dra sy sulke oprygstewels, plaas sy tóé boots dra). Kanse is ook goed dat hulle sal dink jy’t een of ander senuwee-aandoening, hoekom spring sy lippe so rond, arme man, en hy’t andersins glad nie ’n onaardige gesig nie, foei tog.

“Gedra jou,” fluister sy. “Wat moet die mense dink?”

Dan fluister jy terug: “Tanne. Lipstick.”

Dis waarvoor jy (en goeie vriende) mos daar is. Maar vriendskappe is al só bederf, want party vroue sê jy moet hulle op sulke goed wys en ander sê moenie persoonlik raak nie, dis teistering.

Dis nie asof jy vir enige vrou kan sê verskoon my, maar al jou boonste knope het losgeskiet nie.

“Gmf, ek het dit aspris nie vasgemaak nie!”

O, maar ek sien jy’t ook vergeet om ’n bra aan te trek ... (Hoe jy altyd by sulke uithang-geleenthede beland, weet jy ook nie.)

Nog erger as daardie vrou omdraai en ’n etiket steek uit, wat sê Size Soveel, kompleet met die prys en die staafkode. Almal sal weet sy’t die nommertjie spesiaal vir die geleentheid gekoop. By Jenni Button.

“Hoekom dink jy het almal heelaand ágter my verbygeloop en nie vóór my nie?”

“Jou G-string het uitgesteek.”

“En jy sê my niks?!”

Soos hulle mos in Namakwaland sê: ’n G-string is nes weerlig, jy kyk nie na hom nie, maar jy sien hom.