Daar was nog oomblikke oor om te besin voor die groot vraag kom: “Kan jy hierop antwoord: Ja?”

Haar bruidegom het langs haar gestaan. Hulle was verlief. Verlore. Die twee vooraanstaande families was dankbaar vir hierdie twee jongmense se liefde.

Maar ek moes dit doen. Iemand moes haar waarsku. Sy móés weet. Toe ek dit sê, kon ek sien hoe die bleekheid die gesigte voor my beetkry. Die stilte was oorverdowend. Maar wat kon ek doen? As leraar verwag mense van my die waarheid.

Hoe kon ek die duidelike oortuiging in my gemoed ignoreer? Die huweliksbelofte is ’n gewigtige saak. ’n Ewige saak. Ek kon tog nie dat sy die toekoms ingaan sonder die feite waarvan so min van die mense in die gehoor bewus was nie. Sommige sou my sekerlik verkwalik dat ek op só ’n mooi dag sulke ontstellende feite op die tafel kon sit, maar om met die waarheid vriende te maak beteken dikwels dat jy baie vyande sal hê.

Soos soveel keer in my meer as twintig jaar in die bediening was ek voor die kruispad: gewildheid of waarheid ...

Die woorde het deur die gehoor gesny: “Monique, jy moet dit weet, ek moet dit vir jou sê, ek mag nie stilbly nie: Jasper sal jou nie kan gelukkig maak nie ...”

Oë het my deurboor. Vrae het op elke gesigsuitdrukking geskryf gestaan. En net soos jy my dalk nou reeds wil stenig, was dit daardie dag. Totdat die verduideliking gekom het.

Die waarheid is dat bogenoemde ’n standaard-punt in elke troupreek van my is. Geen liefde tussen enige twee lewensmaats is sterk genoeg om hierdie kruis te dra nie: Die verantwoordelikheid om ’n ander mens gelukkig te maak. Aardse skepsels wat ons is, het ons net nie die vermoë nie. ’n Liefde wat dit verwag, is ’n onbillike liefde, ’n misleidende liefde. ’n Onverantwoordelike liefde.

Op só ’n liefde wag ontnugtering. Om te dink dat iemand wat eensaam, ongelukkig en onvervuld is, gelukkig kan word deur die liefde van ’n mens, strook nie met die masjinerie van die hart nie.

Moenie bekommerd wees oor arme Monique nie. Sy en Jasper is vandag diep gelukkig. Hulle het gesnap en geglo.

Die huwelik is nie die bron wat die soeke in die hart kan bevredig nie. En dit moet dit ook nooit word nie. Net soos geld dit nie mag wees nie, of ambisie, roem, avontuur of selfs edel medemenslikheid nie. Die hart, het Augustinus reeds eeue gelede gesê, sal maar altyd bly soek, altyd dors, tot dit rus vind by Hom wat nie net liefde het nie, maar self Liefde is.

En harte wat weet waar om geluk te vind kan die pad van die liefde loop saam met iemand wat by dieselfde waterstroom rus gevind.