Wat is lekkerder as om vir jou kinders ’n boek geskenk te gee. Hierdie week se keuse fokus op kinders van een jaar tot 15 jaar.

Die Engelsman in my Slaai, Dihanna Taute (Human & Rousseau, R140)

Hierdie is Taute se tweede boek oor die lewe van die tiener, Lehandi Botha. Die eerste boek was Ek en Prins Donkerkuif. Sy en haar ma het teruggetrek Vrystaat toe, nadat hulle die vorige jaar ontwortel is om in Pretoria nes te skop.

Nou is Lehandi se liefdeslewe weer op sy kop gedraai, want haar kêrel, Drayke Hunter, is steeds in Pretoria. Boonop hoor sy maar min van hom en bekommer haar daaroor dat die langafstandverhouding nie gaan werk nie. En dan is daar die Engelse ou by haar nuwe skool, Garth Johnson, wat baie aandag aan haar gee.

Taute skryf in lekker gemaklike taal vir tieners oor sake wat hulle raak. Die verhaal het genoeg om die lyf dat jong lesers dit baie sal geniet. – Phyllis Green

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Harry Griesel 1: Operasie spook-redding, Sonja Kaiblinger (Human & Rousseau, R160)

Hierdie is die Afrikaanse vertaling van een van Kaiblinger se boeke in die gewilde Scary Harry-reeks wat reeds vanuit Duits in 11 tale vertaal is. Die storie skop af waar Otto sien hoe sy buurman, meneer Olsen, in sy radystuin omkap. Otto roep onmiddellik sy troetelvlermuis, Vincent, om die spektakel te kom aanskou deur die venster van hul huis. Maar dan sien hulle ’n vreemde man wat met ’n driewiel-motorfiets daar aankom en hoe hy ’n gloeiende bal wat bokant meneer Olsen sweef in sy net vang en in ’n bottel prop.

Otto is ’n ongewone kind wat spoke sien en selfs lang gesprekke met hulle voer. Natuurlik moet hy by die spook in sy huis, Sir Tony, aanklop om te hoor wat dit was wat hulle in meneer Olsen se tuin gesien het. So leer hy van die Dood wat in die vorm van ’n Grieselgryper siele begelei na waarheen hulle ook al moet gaan nadat hulle die aarde verlaat het. Otto se huisspoke word ontvoer en dan ontvou ’n avontuurlike verhaal waarin hy van baie nader kennis moet maak met die Grieselgryper. Die verhaal is vermaaklik en sal aanklank vind by lesers van 10 -13 jaar. Dis oulik geïllustreer deur Fréderic Bertrand.  –PG

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Ek  lees self-reeks: Jakkals en Wolf, Wendy Maartens met illustrasies deur Chris Venter (Lapa Uitgewers, R50 elk)

Baie van ons ken die ou klassieke verhale oor die streke van Jakkals en Wolf. Die verhale word nou op ’n vars manier hervertel deur die geliefde kinderboekskrywer, Wendy Maartens. Dis so geskryf dat kinders wat nou begin lees, self kan lees, maar dis perfek vir voorlees deur ouers ook. Jakkals se listigheid maak die arme Wolf altyd die ongelukkige prooi wat die spit afbyt. Daar is 12 boekies in hierdie reeks. Van die titels is: Jakkals en Wolf in boer se kraal; Jakkals en Wolf bou huis, Jakkals en Wolf wil boer en Jakkals en Wolf en die Klip. Die stories is uiters vermaaklik en mens kan nie anders as om jammer te voel vir Wolf nie. Hy laat toe dat Jakkals hom elke keer aan die kortste ent laat trek. – PG

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Z is vir Zackie: Die Rowwe Reis, Jaco Jacobs (Lapa Uitgewers, R85)

Die reeks boeke uit die pen van Jacobs, vertel al die avonture waarin Zackie hom bevind. Op sy webwerf deel Jacobs die volgende oor die nimlike rakker wat die hoofrol in hierdie reeks speel: “Zackie Mostert bly in ’n straat met die naam Granaatstraat. Toe Jaco Jacobs op skool was, het hy op die Karoodorpie Carnarvon gebly - in Jacobsstraat!” In hierdie boekie bou Zackie se pa vir hom ’n kaskar sodat hy en sy vriend, Vincent, aan die kaskarwedren by die skool kan deelneem. Zackie en Vincent staan ’n goeie kans om te wen, selfs die buurvrou, mevrou Langenhoven, dink so. Die boelie van die skool dink anders en maak natuurlik ’n plan dat Zackie se kaskar se wiel uitval. Gelukkig kom mevrou Langenhoven tot sy redding. Die reeks is prettig en is gemik op kinders wat begin om self te lees.Kyk uit vir die ander titels in die reeks. - PG

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Vrolike Vriende: Soek En Pas Prettige Plaas (Human & Rousseau R140)

Die oulike reeks boekies is gemik op eenjariges en ouer. Dis ’n aktiwiteitsboekie waar die kind se oog-hand-koördinasie ontwikkel word, omdat hy/sy prentjies aan ’n lintjie moet uithaal uit ’n gleufie en dan weer in ’n ander gleufie plaas. Dis perfek om saam te lees en saam te speel, deur telkens die verskillende dierekarakters te soek en pas op elke bladsy.

In hierdie boekie moet Lammie die skapie skool toe gaan. Op sy roete ontmoet hy ’n swetterjoel ander diere.Die kind leer ook om klanke te herken, soos woef-woef en kwaak-kwaak.- PG

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Tales of the Peculiar, Ransom Riggs (Penguin Books, R305)

Almal wat in die bonatuurlike glo, en hou van seldsame stories, moet hierdie boek lees. Die 10 verhale speel af in die wêreld van Miss Peregrine’s Home for Peculiar Children. Elkeen van die stories het darem ook ’n morele les waarby die kind kan baat vind, al is die stories vreemd. In die eerste verhaal word jy gekonfronteer met slinkse kannibale wat die dorpie se inwoners oortuig dat hulle hul ledemate aan hulle moet verkoop, sodat hulle darem kan eet. Die dorpenaars het ’n eienaardige kwaliteit; as hulle ’n ledemaat verloor, dan groei daardie verlore been of arm terug! Julle kan self dink wat met die ooreenkoms gebeur tussen die kannibale en die die dorpenaars … Elke storie is fassinerend en is meesterlik geskryf sodat jy van al die vreemde karakters hou. Die skrywer het ’n droë sin vir humor wat in die stories reflekteer. – PG

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Waarom kameelperd se nek so lank is en ander dierestories, Wendy Maartens en Nicci Nathanson (Lapa Uitgewers, R179,99)

Lank gelede, toe die Son en Maan nog ’n tweeling was, was daar ’n groep San-mense. Saans as almal vaak om die vuur gesit het, het die oupas en oumas beurte gemaak om stories te vertel.

Waarom wilde diere vir mense bang is, waarom padda kwaak, waarom seekoei in die water bly en waarom skilpad se dop gekraak is. Die San-oupas en oumas verduidelik alles!

Ek het ’n paar van die stories vir ’n Gr. 1 klas gelees en die kinders het aan my lippe gehang en geskaterlag! Oulike illustrasies sorg vir groot plesier. Die stories is ook kort genoeg om hul aandag te behou en/of om self te kan lees. – Nadia de Jongh

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Somewhere, Jon Robinson (Penguin Books, R179)

Alyn, Jes en die res van die vriende leef steeds onder die beskerming van die Guild. Hulle vind uit dat daar ’n manier is om van die Pledge ontslae te raak, eintlik meer spesifiek – ’n manier om die tronk te vernietig. Al wat hulle nodig het is vier sleutels, maar die eienaars van die sleutels sal dit beslis nie uit eie vrye wil opgee nie. Wat volg is ’n hele paar gevaarlike situasies waarin die tieners hulle bevind.  En wat is die planne van die nuwe leier van die Pledge? Hy is beslis nie die oopkop leier wat hulle gehad het nie … Sal die vriende in staat wees om hom te stop of is dit te laat?

Hierdie is die laaste boek in die Nowhere-trilogie. Dit voel of elkeen van hierdie boeke korter is as die vorige een, maar ek dink dit is omdat ek dit so baie geniet. - Dian Liebenberg (15)

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Die Pro, Leon de Villiers (Tafelberg, R130)

“Lewenswetenskappe is die studie of die leer van lewende organismes, d.w.s die studie van die lewende wêreld”.  So begin Tiaan se biologie opsommings. Die opsommings was Geyer se idee. Dis nou die ou wat Tiaan op die strand ontmoet het. As jy sukkel met ’n vak, maak jou opsommings vir jouself interessant was sy raad. Tiaan woon op ’n kusdorp, hy is in graad 11 en is (eintlik was) mal oor branderplank ry. Dit was tot sy beste vriend, Dirkie, hom gedrop het. En dan is daar Jasmine, die nuwe meisie in die skool, waaroor hy super mal is, maar nie die moed het om eers mee te praat nie.

Die boek is geskryf byna soos ’n brief.  Elke hoofstuk begin met ’n biologie opsomming, almal baie snaaks, en dan so in ’n geselstrant, ’n tipe brief wat Tiaan aan Dirkie skryf. Tiaan probeer deur humor die “lewende wêreld” soos dit in biologie aangebied word, baas te raak.  Dis ’n storie van vriendskap en verlies en oor hoe intens tieners dinge ervaar.  - Dian Liebenberg (15)

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

My ouma is 'n Film-ster, Jaco Jacobs & Stephen Wallace (Lapa Uitgewers, R79,95)

Rikus se ouma, wat haar eie rockgroep het, slaan ’n rol in ’n fliek los en Rikus en sy beste vriend Puleng word genooi om ekstras op die stel te wees.

Maar op die stel gebeur iets vreeslik en Rikus, Puleng en ouma is in die moeilikheid.

Sal Rikus uit die kloue van ’n gevaarlikr skurk kan ontsnap, en ouma se loopbaan red?

Die boek is oulik geskryf en my 7-jarige seun het die ooglopende verskille tussen Rikus se ouma en sy eie oumas baie geniet. Hierdie boek is die opvolg van My ouma is ’n rock-ster. –Nadia de Jongh