Baie bekende mense het al hul Nelson Mandela-oomblikke gedeel met die wêreld. In “Our Madiba” vertel gewone mense van hul Madiba-ervaringe en wat dit vir hulle beteken het.

Dikwels het die verteller Mandela per ongeluk raakgeloop en dan het hulle ’n spesiale oomblik met hom gedeel. Daardie oomblik is iets wat elkeen van die mense se lewens aangeraak het en is ’n ervaring wat hulle nooit sal vergeet nie. Hoe het al hierdie vertellings in boekvorm bymekaar gekom? Melanie Verwoerd het verlede jaar begin om gewone mense se vertellings te versamel, juis om hulle die kans te gee om hul stemme te laat hoor. Sy vertel meer oor die boek, Our Madiba: Stories from those who met Mandela (Tafelberg, R195)

Wanneer het jy Madiba die heel eerste keer ontmoet?

Ek het Madiba die eerste keer laat in 1990 ontmoet. Jannie Momberg het ’n funksie gereël waar Madiba “vooraanstaande” Afrikaners kon ontmoet. Dit was maar redelik styf en gespanne, maar Madiba het gou mense op hulle gemak gesit. Jannie Momberg het in ’n stadium luidkeels aan Madiba aangekondig dat daar Verwoerds ook is en ons voorgestel. Ek en my voormalige man, Wilhelm, was effens bekommerd oor hoe Madiba teenoor ons sou reageer, maar hy was warm en vriendelik en het gesê hoe ’n eer dit was om ons te ontmoet. Wilhelm wou verskoning vra vir die Verwoerd-familie se betrokkenheid in Madiba se jare in die tronk, maar Madiba het hom stil gemaak en gesê dat ons mooi moet dink oor wat ons in die toekoms gaan doen. “Die Verwoerd-van kan of ’n  vloek of ’n seëning wees,” het hy gesê. “Besluit wat julle daarmee wil doen.” Toe vra hy uit oor Wilhelm se ouma op Orania en stuur vir haar groete.

Wat het jou die meeste bygebly van daardie eerste ontmoeting?

Sy charisma, groothartigheid en totale gebrek aan bitterheid. Hy ontmoet die kleinseun van die man, wat algemeen aanvaar word as die argitek van apartheid, onder wie se bewind hy tronk toe gestuur is en wat die ANC verban het. Nie alleen is daar geen bitterheid nie, maar vra hy opreg uit na HF Verwoerd se weduwee en stuur groete. Dit het behoorlik my asem weggeslaan en het ’n baie groot rol gespeel in my verdere lewenskeuses.

Waarom wou jy hierdie boek skryf?

Ek is oor die jare ’n paar keer gevra om ’n boek oor Mandela te skryf, maar ek het nooit gevoel dis die regte ding om te doen nie. Tog wou ek baie graag vir Madiba eer. In my boek “The Verwoerd who toyi-toyied” wat verlede jaar gepubliseer is, het ek ’n paar staaltjies van Madiba vertel. Mense het vreeslik positief gereageer daarop en dan gereeld vir my hulle Mandela-storie vertel. Ek het toe besef dat daar ’n magdom stories is van gewone mense wat Madiba ontmoet het, maar wat nog nooit opgeskryf is nie. Die stories was soms snaaks, maar meesal baie roerend. Dit was vir my duidelik dat daar geen beter manier is om Madiba se nagedagtenis te eer as deur die besonderse ervarings van mense wat hom ontmoet het nie.

Waar het jy al die stories gekry?

Die media, insluitende SARIE, het dit bekend gemaak dat ek stories soek en dit het verskriklik baie gehelp. Daarna het mense gehoor daarvan of ek het stories nagevors en dan die mense genader. Dit was uitdagend, maar een van die lekkerste projekte waarop ek nog ooit gewerk het.

Watter tipe stories het jy ingesluit?

Wat die boek anders maak as enige ander boek oor Mandela, is dat die grootste gros van stories deur “gewone” mense geskryf is. Daar is wel ’n paar bekende mense se stories in, soos Biskop Tutu, Francois Pienaar, Angelique Kidjo, Gary Player, Richard Attenborough, maar omtrent 80 persent van die stories kom van mense wat hom toevalling raakgeloop het. Daar was selde kamera’s en daar was geen politieke gewin vir Mandela om die mense te ontmoet nie. Dis juis daarom dat ek dink die stories vertel so duidelik wat ’n wonderlike persoon hy was. So aan die een kant gee die boek ’n stem aan die mense wie se stories selde in die pers sou kon wees en aan die ander kant wys die boek ook hoe ’n leier moet optree.

Is daar stories wat jy nie opgeneem het in die versameling nie en waarom?

Ek het van die begin af besluit om nie politici in te sluit nie. Ek het ook alle politieke uitsprake uitgehaal. Dit was vir my verskriklik belangrik dat die boek oor Madiba moes gaan en nie oor mense se persoonlike politieke standpunte nie. Ek wou ook hê dat die boek oor alle grense geniet kon word – onafhanklik van mense se ras, ouderdom (ek dink kinders sal dit ook BAIE geniet), godsdiens- of politieke oortuigings.

Is daar ’n storie in die versameling wat jou besonder geraak het?

Daar is so baie wat my in trane gehad het, dis moeilik om te kies. Daar is ’n storie van Madiba se Afrikaanse lyfwag. Die ANC ouens wou hom afdank omdat hulle nie seker was oor sy lojaliteit nie. Madiba het ingetree en wat gebeur het, het my behoorlik laat snik. Daar is ook een storie oor Madiba wat ’n ou Afrikaanse kolonel op die dag van sy inlywing spesiaal gaan groet het en die geharde kolonel was so geraak dat hy in trane uitgebars het. Daar is ook ’n lieflike storie van ’n jongman wat by ’n hotel ’n klomp bagasie in die hysbak moes laai, maar toe daag Madiba en sy entourage toevallig op. Hy staan toe terug dat Madiba-hulle eers die hysbak kon gebruik, maar Madiba het aangedring dat hy ook moes inklim en het selfs die jongman gehelp met sy sakke en branderplanke. Daar is stories van sy huishoudster, van kinders wat sommer by sy deur opgedaag het, van oproepe, van onverwagse besoeke aan iemand wat deur ’n hond gebyt is en selfs oor hoe Madiba sy matras in hotelle op die vloer gesit het. Meer as 130 mense het bygedra, so daar is ’n groot verskeidenheid.

Wat wil jy hê moet lesers oorhou van hierdie boek?

Ek weet dat die boek mense sal laat lag, maar ook ’n paar trane sal laat stort. Ek hoop dat dit ons sal herinner wat ’n besonder man ons Madiba was, sodat ons almal sal strewe om meer soos hy te wees.