Waarheen reis jy die graagste?
Plekke wat darem n soortgelyke kultuur as Suid-Afrika het. Dit maak reis makliker. En ek is mal oor Indië, veral oor die passie en geesdrif en lawaai wat daar is oor krieket. Ek het selfs al ‘n maag vir kerrie ontwikkel.

Aakligste plek om heen te reis?
My moeilikste bestemming is Pakistan. Ek vertel in my boek hoe ek een nag wakker word met ‘n klomp manne in my kamer. Almal besig om water op te mop, want my kamer het oorstroom. Die veiligheidsituasie daar maak dit ook ‘n onsekere plek om te reis.

Watter krieketspelers bewonder jy?
Ek is mal oor Gary Kirsten en was gelukkig genoeg om aan die begin van my loopbaan saam met hom te kon speel. Ricky Ponting is een van die beste kolwers en Andrew Flintoff het ‘n fantastiese houding.

Almal wil altyd weet oor Kevin Pietersen.
Ja, wat kan ek sê. Hy is anders, ‘n individu. Hy blom wanneer hy aandag kry. Dis altyd ‘n uitdaging om teen hom te speel.

Wie is die stoutste speler in die Protea-span?
A.B. de Villiers sonder twyfel.

Hoe ontspan jy?
Op my bank voor die TV. En net om niks te doen, soos inpak of in ‘n toerbus te klim nie. Omdat ons so dikwels weg is, is dit ontspannend om net normale, alledaagse dinge te kan doen. Ek hou ook van die bos.

Belangrikste ding uit krieket geleer?
Mens moet ‘n dik vel hê. Nee, ek grap sommer. As kaptein moet ek weet waarheen ek die span lei en ek moet elke spanlid ken en verstaan. Ek moet konstant aan my leierskap werk.

Graeme se boek, A Captain's Diary 2007-2009 (Jonathan Ball) vertel sy krieketreis van die afgelope twee jaar. Hy deel ook inligting oor die span en hoe hulle dinge doen. Jy gaan ook ‘n paar goed oor hom te wete kom wat jy nie voorheen geweet het nie: Hy dra kontaklense. Hy moet twee stukkies kougom op die veld vat.