Net laas week kuier ek aan die Weskus, op Paternoster, en sien opgewonde hoe die wêreld sy wintervaal begin afskud. Oral waar jy stilhou en afkyk, is tekens van die veld wat weer lewe kry. Die kleinste blommetjies en vetplantjies staan al regop en wys hul gesigte son se kant toe, en by Hopefield op pad Malmesbury toe staan plate blomme sommer so tussen die huise op die dorp. So spierwit dat jy met die eerste oogopslag kan dink dis sneeu!

’n Honderd kilometer of wat verder is dit ongetwyfeld lentetyd op Riebeek-Wes. Onder skadunette is rye perskebome oortrek van sagpienk bloeisels, en hier in Kaapstad wil ek my verbeel die lug van die see se kant begin al bietjie soos somer ruik.

En natuurlik, in die Noorde wag ons soos altyd vir ons eerste lentereëns. Want nie lank daarna nie,wéét ons, ontplof ons vaal, stowwerige wêreld in wonderlike skakerings van lila en pers wanneer jakarandabome begin blom.

Die oorgang van die seisoene bly betowerend. Somer na herfs,winter na lente . . . In Suid-Afrika beleef die meeste van ons vier seisoene.Winter is winter, somer is somer. (Aardverwarming het ons nog nie heeltemal van stryk gebring nie!) Hier vertel die bome, die lug en die voëls nog elke seisoen se mooi verhaal. Op die Hoëveld is die sonsondergange dié tyd van die jaar op hul heel mooiste. Smiddae wanneer ons die snel- en hoofweë en agterpaadjies huis toe neem, slaan die sakkende son behoorlik jou asem weg.Waar jy ook al ry, steek dit die horison aan die brand en elke keer dink ek dis rooier en mooier. Vir die einste vaal stof moet ons dankie sê,want dít dra by tot die mooiste sonsondergange in die wêreld. Hierdie eer komdie Griekse eiland Santorini toe, het ek destyds gehoor. Totdat ek op die eiland se “plek van sonsondergange”, die dorpie Oia, gekomhet. Dis juis hier waar Nico en Christi Panagio (blaai na bl. 44) ook onlangs met hul tweede wittebrood gekuier het. Verstaan mooi, Santorini is een van die beeldskoonste plekke op die aardbol en Oia is ewe onvergeetlik, maar by ’n Afrika-son wat oor die barre veld sak, sal dit nooit komnie.Nie eens met ’n glasie in die hand nie! Tog is ’n sonsondergang altyd spesiaal. Daardie betowering van dag wat geleidelik nag word. So beland ek onlangs saam met ’n paar kollegas in São Paolo vir werk. Vir die naweek vat ons die pad na kleurryke Rio de Janeiro, waar hulle nog karnaval hou. Op Ipanema-strand geniet ons die son (én die eet-, drink- en snuffelgoed wat daar verkwansel word) saam met duisende bruingebrande rasiliane.Laatmiddag kyk ons hoe die son stil agter die berg sak. Meteens word hande geklap.Ons kyk rond, want duidelik het een of ander superster gearriveer.Nee, sê die strandgroepie langs ons, dis gebruik in Brasilië om so ’n mooi sonsondergang met applous te begroet.’n Dankie-sê vir nóg ’n perfekte dag.

Hoe mooi is dít nie! Met lente en somer nou op ons voorstoep is ons applousdae hier.Wonderlike dae wat sommer net ’n dankie vra.