Martie Preller het al baie wenboeke geskryf, waarvan haar lang lys toekennings getuig.

Haar oorgang na volwasse leesstof stel glad nie teleur nie. Vandag is nie gister nie en Die land van stories is 'n dubbelluik, 'n kursushandleiding vir aspirantskrywers met 'n voorbeeld-roman wat geraadpleeg kan word. Sy wys dus hoe dit gedoen word!

Vandag is nie gister nie is moeilik om te kategoriseer. Preller skryf haar jeugboek-karakters se verhale as volwassenes verder, soos die tragedie van die broers Daniël en Ben. Nina, 'n hoofkarakter, se lewe word spannend vasgedraai in die web van Victor. Die karakters is eg, die dialoog geloofwaardig en die tempo vinnig en boeiend. Aspirantskrywers sal inspirasie vind en kieskeurige lesers sal tevrede sug oor hierdie ongewone verhaal.

Die land van stories is anders as wat mens van 'n tipiese handleiding sou verwag, en glad nie voorskriftelik nie. Die leser/skrywer se eie kreatiwiteit word voorop geplaas.

Preller gee albei boeke self uit. Daar is 'n spesiale aanbod van R130 per boek, posgeld ingesluit as jy voor einde Januarie bestel. Daarna kos dit R150 elk posgeld ingesluit. Bestel by www.martiepreller.co.za - Mariette Postma