Wat ‘n voorreg! Ek het reeds ‘n hele hoop boeke uitgesoek en ek kan nie wag om hulle te verslind nie. Daar is spanningsverhale, ‘n paar familiedrama’s, outobiografieë en ook ‘n paar oor die politieke situasie in Suid-Afrika. Natuurlik is daar ook ‘n paar kykboeke, asook resepteboeke. Een van my bederwe is om in mooi resepteboeke rond te blaai en te soek na inspirasie om te kook. Op die oog af lyk dit na meer as een mens se leeslys, maar ek stel belang in soveel verskillende onderwerpe en wil so wyd moontlik lees oor alles. My wens vir elkeen van julle se vakansie is dat jy tyd sal hê om ook sonder skuldgevoelens te kan lees. Dat jy vir ‘n kort rukkie kan ontspan in ‘n wonderwêreld van woorde, ‘n plek waar jou man en kinders en skoonfamilie vir ‘n wyle vir hulself kan sorg! Hierdie week bekyk ek ‘n klomp spanningsverhale.

Doctor Sleep, Stephen King (Hodder & Stoughton, R239)

Het jy al ooit gewonder  wat van ‘n karakter geword het uit ‘n vorige boek deur  jou gunsteling skrywer? Vir my is dit klein Danny Torrance in Stephen King se ‘The Shining’. Toe ons hom aan die einde van ‘The Shining’ verlaat het, was hy vyf jaar oud.  Ek het gewonder wat het intussen met hom gebeur? Waar is hy en wat doen hy? In ‘Doctor Sleep’ gee King ons dié antwoorde.

Danny, wat Dan geword het, kom na jare se omswerwinge en sy stryd teen die bottel, in die dorpie Frazier, New Hampshire aan. In die dorp sluit hy aan by die AA, droog uit, maak vriende en begin by ‘n hospies werk. Daar word hy ‘Doctor Sleep’ genoem omdat hy die sterwendes help om oor te beweeg na die anderkant. Dan knoop ‘n vriendskap aan met Abra Stone, ‘n jong meisie, wat nes hy die ‘shining’ het. Hulle kommunikeer deur boodskappe wat sy  telepaties op ‘n witbord in sy kamer skryf. Eendag deel Abra ‘n telepatiese ondervinding met ‘n jong seun wat vermoor word. Sy moordenaars is deel van ‘The True Knot’, ‘n groep mense wat jong kinders met die ‘shining’ ontvoer, martel en vermoor om die kinders se ‘steam’ te kry. ’Steam’ is die kinders se psigiese vermoëns. Abra beland nou op “The True Knot’ se radar. Sy kontak Dan om haar te help.

Dis ‘n opwindende en uitstekende opvolg van ‘The Shining’ en nog ‘n meesterstuk uit die pen van Stephen King. - Karien Labuschagne 

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Best Kept Secret, Jeffrey Archer (Macmillan, R285)

Dis die derde boek in die Clifton Chronicles en in die vorige twee  Only Time Will Tell en The Sins of the Father  het die leser reeds vir Harry Clifton en Giles Barrington leer ken.  Harry en Emma Barrington het ‘n seun Sebastiaan en ‘n aangenome dogter Jessica, wat ook die liefdeskind van Emma se pa is.  Giles is lid van die Arbeidersparty  in Brittanje,  en moet sy posisie in sy kiesafdeling verdedig terwyl Harry na Amerika reis om sy jongste boek te bemark.

Die Cliftons en Barringtons het ‘n paar aartsvyande wat die lewe vir hulle moeilik maak, maar dis veral die jong Sebastiaan wat uit sy skool geskors word en onwetend by ‘n internasionale misdaad-sindikaat betrokke raak, wat vir ekstra lees-spanning sorg.  Jy bly wonder of hy koelkop gaan bly en ongeskonde anderkant gaan uitkom.

Archer het die vermoë om jou amper sonder asemophou te laat lees.  Aksies en skelmstreke, ‘n bietjie politiek en familie-intriges volg vinnig opmekaar en verskeie ongure  karakters  maak hul verskyning  sodat die leser nie sommer die  boek wil neersit nie.  En tipies Jeffrey Archer, is daar ‘n slot wat niemand kan voorspel  nie en wat versoorsaak dat jy vir die volgende maande maar op die uitkyk sal wees vir nr 4 van die Chronicles.  – Alida Vos.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Dead Man’s Time, Peter James (Macmillan, R205)

In Brighton word ‘n 98-jarige vrou wreed aangeval tydens ‘n huisroof. Miljoene ponde se antieke meubels, skilderye en juweliersware word gebuit. Slegs een stuk, ‘n sakhorlosie, is nie verseker nie.  Die vrou se 95- jarige broer en sy seun sweer dat hulle dit sal terugkry teen enige koste. Kort na die aanval beswyk die ou dame en ‘n saak van moord word geopen. Speurder superintendent Roy Grace ondersoek die saak. Die saak voel of dit gedoem is van die begin van die ondersoek af, want dit kom voor asof die familie hom dwarsboom in sy ondersoek. Al Grace se verdagtes word wreed aangeval of selfs vermoor. Soos wat Grace se  ondersoek vorder, besef hy die sakhorlosie is die sleutel wat al die gebeure verbind. Dié sakhorlosie was die enigste ding wat die broer en suster gehad het van hul vader wat verdwyn het en vermoedelik dood is tydens die bendegeweld van 1922 in New York. Hierdie is ‘n uitstekende speurverhaal met ‘n donker komplot. Die ontknoping gebeur eers in die laaste paar bladsye en jy kan nie anders as om aan te hou lees nie. – Karien Labuschagne 

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Die Kinders van Chronos, Pieter Aspe (Lapa Uitgewers, R180)

Hoofkommissaris Pieter van In en sy regterhand Guido Versavel het weer ’n raaiselagtige moord om op te los. Dié keer ontdek ’n dogtertjie ’n skeenbeen op haar pa se kleinhoewe en die twee speurders besef onmiddellik dat daar meer agter die storie is as wat hul ooit sou kon dink.

Die ondersoek het van die begin al klomp hindernisse. Daar is meer as een mens wat hulle ondersoek probeer stopsit, onder andere ’n oud-onderwyser minister van buitelandse sake en advokaat, almal op een of ander manier betrokke by die saak wat hulle probeer oplos. Hulle belangrikste getuie verdwyn boonop en hulle moet die mol wat inligting uit hul kantoor lek, probeer vastrap.

Ek was so opgewonde om die volgende boek in die Pieter van In-reeks te begin lees (die vorige een was Die Midas Moorde) en was glad nie teleurgestel. Dit is alles wat ek van ’n spanningverhaal verwag: ’n heerlike storielyn, interessante karakters en groot verrassings om elke hoek en draai. – Liesl du Toit

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Finding Casey, Jo-Ann Mapson (Bloomsbury, R217)

In die boek is daar twee storielyne. In die een ontmoet ons Glory Vigil wat op 41-jarige ouderdom onverwags verwagtend is. Sy woon in Sante Fe saam met haar nuwe man Josef. Hulle het pas in ‘n nuwe huis ingetrek het. Die huis spog met sy eie spook wat hulle Delores doop. Glory en Josef se aangenome dogter Juniper is by die huis vir ‘Thanksgiving’. Juniper worstel met haar eie spoke en sukkel om die verdwyning van haar suster Casey agt jaar  vantevore te verwerk.

In die ander storielyn ontmoet ons vir Laurel Smith wat op ‘n plaas naby Sante Fe woon. Laurel se dogtertjie, Aspen, is baie siek. Wanneer Aspen ‘n toeval kry, neem sy haar teen haar man Seth se wense na die hospitaal in Sante Fe vir behandeling. Daar doen die dokters verskeie toetse op Aspen,  maar sy kry nog ‘n toeval en verval in ‘n koma. Laurel vertel vir Aspen sprokies en daaruit leer die leser Laurel se verhaal ken.

Die leser besef vinnig wie Laurel werklik is, maar die verhaal word nie weggegee nie en die leser kan nie wag dat die twee storie lyne bymekaar uitkom nie. Die lewensdrama boei tot op die laaste bladsy.     – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Her Last Breath, Linda Castillo (Macmillan, R266)

Kate Burkholder is terug in Painters Mill as polisiehoof. Haar jongste ondersoek begin wanneer ‘n voertuig in ‘n Amiese familie se waentjie (buggy) vasjaag en van die toneel af wegvlug. Paul Brontrager en twee van sy drie kinders sterf op die toneel.  Slegs die oudste kind, ‘n gestremde seuntjie, oorleef die ongeluk.  Paul se vrou en ma van die kinders, Mattie, was ten tyde van die ongeluk by die huis.

Wat aanvanklik as ‘n tragiese ongeluk beskou word, blyk egter moord te wees. Die bestuurder het met opset teen ‘n baie hoë spoed in die waentjie vasgejaag. Maar wie sal ‘n Amiese man en sy kinders wil dood hê? Kate het ‘n persoonlike belang in die saak omdat sy en Mattie beste vriendinne was as kinders voor Kate die Amiese leefwyse verlaat het. Wanneer Kate byna ‘n man betrap wat probeer inbreek by Mattie se huis begin sy wonder of Paul en die kinders die werklike teikens was. Die saak neem Kate tot in die donkerste psige van die mens en plaas haar lewe keer op keer in gevaar. Hierdie verhaal is vol verrassings en is fassinerende leesstof.     - Karien Labuschagne

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

If You Were Here, Alafair Burke (Faber and Faber, R239)

‘n Onbekende vrou red ‘n seun wat voor ‘n trein beland. Die sekuriteitsvideo by die stasie hou onverklaarbaar op met werk toe die voorval gebeur. Joernalis McKenna Jordan voel daar steek meer agter die storie. Hoekom wil die seun nie oor die voorval praat nie en waar is die vrou wat hom gered het nou? Sy spoor ‘n meisie op wat die voorval op haar selfoon vasgelê het.

Wanneer McKenna na die video kyk, vermoed sy dat sy die vrou herken as Susan Hauptmann, ‘n vriendin van haar. Daar is egter ‘n probleem, Susan het tien jaar tevore spoorloos verdwyn. McKenna besluit om die vrou op te spoor en uit te vind wat aangaan. Soos sy die saak ondersoek, word haar en haar geliefdes se lewens in gevaar gestel. Die boeiende spanningsverhaal het ‘n hele paar onverwagse kinkels en jy bly die hele tyd aan die raai oor wie nou eintlik agter die gebeure sit. - Karien Labuschagne

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Sixkill, Robert B. Parker (Quercus, R147)

`n Jong meisie, Dawn Lopata, word gevind in `n hotelkamer – is sy vermoor of was dit `n ongeluk as gevolg van ongehoorde seksdade? Die filmster, Jumbo Nelson is verdagte nommer een, want hy het die nag met haar deur gebring. Hy pleit onskuldig, maar is hy?  Sy prokureurs nader Spencer om die saak verder te ondersoek, wat nie op hom laat wag nie. So kry hy te doen met Sixkill – Jumbo se lyfwag. Jumbo is onbewustelik betrokke by dinge ver bo sy vuurmaakplek. Sy agent is die dogter van ‘n mafia baas en haar man is `n sluipmoordenaar!

Sixkill word afgedank deur Jumbo en skaar hom by Spencer. Spencer leer die groot reus bietjie meer van selfverdediging en neem hom onder sy vlerk. Met al sy vrae leer Spencer baie dinge, maar gaan hy kan uitwys wie die moordernaar van Dawn Lopata is? - Nicolene Carstens

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

‘n Man van min belang, Chris Karsten (Human & Rousseau, R199,95)

Die mariene bioloog Luca Thom se lewe word omvergewerp wanneer menslike oorskot in die Langkloof Vallei ontbloot word deur ‘n boer. Daar is vier skelette.  ‘n Forensiese ondersoek bevind dié vier mense is in die laaste jare van apartheid vermoor.’n Ondersoek na die moorde word deur direkteur Mosman behartig. Luca se naam in ‘n sprokiesboek lei direkteur Mosman reguit na sy deur. Die besoek en daaropvolgende vrae veroorsaak dat Luca die jaar waarin sy pa Eddie Thom, ‘n polisieberader, dood is in ‘n motorongeluk  weer beleef. Vir my is die boek slegs gedeeltelik suksesvol.

Alhoewel die gebeure en karakters goed beskryf word en die storie interessant is, ontbreek daar ‘n sekere trefkrag wat my boei en weer en weer terug bring na die boek. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Spoor van die perlemoenstropers, Johan Fourie (Naledi, R135)

Diémisdaadroman is gebaseer op ware gebeure wat afspeel hoofsaaklik  in Gansbaai en kleiner kusdorpies, soos Kleinmond en Kommetjie, en ‘n klompie bekende baie om die Kaapse skiereiland. Die polisie probeer tervergeefs om die perlemoenstropers vas te trek en vra vir omgewingsmisdaad ondersoekbeampte, Johan Slabbert, om te kom help. Johan en Koba, sy kollega en vriendin, vertrek op ‘n klandestiene operasie Kaap toe om meer te leer van die stropers se doen en late en hul netwerke. Hul paaie kruis onder meer met die talentvolle veldwagter Bheki Mkaliphi, James, ‘n seun van die vissersgemeenskap en broer van een van die stropers, en selfs die gevreesde ‘Perlemoen Koningin’ van Gansbaai. Wat volg is ‘n verhaal vol spanning en intrige waar die karakters te doene kry met bedrog en verraad. Hulle beleef ‘n paar noue ontkomings.

Die boek lees maklik, maar die leser moet kophou met al die karakters en klomp inligting wat bloot as agtergrond dien. Daar is gapings in die storielyn, waar dit dalk te vinnig van een toneel na ‘n ander spring en die storie eindig ‘n bietjie stomp.

Nietemin maak die boek mens bewus van die nare realiteite van die onderwêreld van perlemoenstropery, die tweestryd in die vissersgemeenskappe, die korrupte wetstoepassers in ons land, die invloed van die Chinese Triades en hoe ernstig hierdie situasie werklik is. Fourie se boek is deeglik nagevors en vertel die waarheid van die skokkende toestand van ons eens volop oseane. Dis Fourie se derde se roman oor stropery in Suid-Afrika. Die vorige twee is genaamd: Stryd in die bos (renosterstropery) en Kodenaam: Tau (leeustropery). – Danica Steyn