Jana Reynolds en Zahn Rust is in Frankryk, waar hulle vir drie maande vir Louis Jansen van Vuuren en Hardy Olivier werk by La Creuzette in Boussac. Jana vertel van hul ondervinding.

“Ek vertel van ons tyd in Frankryk. Van ’n kant af en stuk vir stuk. Louis Jansen van Vuuren is besig om ’n kunskursus aan te bied. Dit is die lente van 2014 in Europa.

Jana Reynolds Jana Reynolds

Ek sit op my bed hier in die kamer wat ek en Zahn deel. Ons het ’n dienskontrak vir drie maande. As ek by die deur uitkyk, sien ek hoe sy ’n pers iris met houtskool begin teken. Louis gee vir Kokkie raad en stel voor waar en hoe sy moet begin verf. Leonie vra ook hulp. Sy het ’n breuk gevat van haar werk as radioloog om by Louis te kom leer hoe om foto’s te omskep deur verskeie mediums te gebruik. Daar, aan die ver kant van die vertrek, is Louis se area van die studio met drie yslike esels en twee tafeltjies op wiele vol pastelle. Ek en Zahn is nog in die proses om dit skoon te maak. Sy het alreeds die CD’s in alfabetiese volgorde gerangskik.

Ons kamer is luuks vir werkende jongmense soos ons, veral teenoor ander “servant’s quarters” wat ek by die venster van die Chateau uit sien. Agter die klerekas wat ons deel, is ’n stort en wasbak. Die toilet net buite ons kamerdeur, wat ook deur die kunstenaars in die studio gebruik word, het pienk toiletpapier. Alles hierbo is spierwit geverf. Die Kroatiese bouer, Jesus, het laas Sondag kom verf. Na ’n dag van kuns stofsuig ek en Zahn. Ons vee vloere uit en vee die tafels af. Zahn was ’n Stellenboschse kunsstudent wat glad nie sulke skoon studios ken nie, maar Louis hou van goed netjies en skoon.

By die trappe af is daar ’n badkamer, daar mag nie pienk toiletpapier wees nie. Dan is daar die klein kombuis waar ’n masjientjie die borde van middag- en aandetes binne 3 minute was. Ons was die ander groter skottels en bakke met die hand en pak dit weg. Lek ook lekker bakke uit, want Hardy doen kosdemonstrasies vir die gaste wat nie kuns doen nie. Truffelolies, saffraan en foie gras is op die bestanddelelys. Dis só ’n soort kombuis. Die stoep wat by die kombuis is, het ’n groot tafel wat ons elke dag opnuut in ’n kunswerk omskep vir die volgende aand se ete. Muise, standbeeldjies wat lyk soos ballonhonde en op die laaste aand van ’n toergroep se besoek, ’n tafeldoek wat lyk soos die deurflap van Circ du Soleil se tent.

By die stoep se skuifdeure uit is die vrugteboord. Daar vind Zahn haar gunsteling-artisjokblare wat sy in blommerangskikkings gebruik soos sy geleer het by Okasie blommewinkel op Stellenbosch. Ek hou die meeste van die bloeisels. Dit laat my aan my ma dink.

Die lang vertrek onder ons kamer het ses deure - twee glasdeure by die demonstrasie-kombuis, een by die klein kombuisie, een sê ‘Atelier’ en maak op die trappe oop. Die volgende een is by wat ons ‘Die Winkel’ noem. Daar is van Louis se skilderye en borde te koop, asook poskaarte van sy kuns en verskeie ander mooi breekware wat op ’n rak teen die een muur gepak is. Dit het ons aan die begin van die seisoen een hele dag gevat om dié plek mooi skoon te maak. Maar ons het dit geniet om op al Louis se tafelversierings af te kom. Die volgende vertrek is ons stoorkamertjie, waarin twee van die drie mure se rakke gepak is met Louis se kuns. Voor die gebou is ’n grasperkie en tuinmeubels. Die grasperk is versier met wit blommetjies. Hardy noem dit onkruid, maar vir my lyk dit soos somer sneeu.

Aan die regterkant is ’n kruietuin. Die bome is oorlaai met birdfeeders, een in elke kleur van die reënboog. Hardy se komposhoop word darem bietjie weggesteek deur die heining. Alles uit die kombuis wat nie gebruik kan word nie, land op die hoop.

Vir die volgende drie maande noem ek en Zahn hierdie plek ‘huis’. Ek het nog nie eens vertel van die tuin en chateau nie. Die chateau se gastebadkamer het swart toiletpapier en in die tuin is pinksterrose. Zahn wou bars van opgewondenheid toe sy ’n pinksterroos in die tuin gesien het, aan ’n plant in die grond. Sy het die blomme nog net gesien as dit reeds gesny is en gestuur is van die een of ander plekkie in die Vrystaat waar die klimaat net reg is om dit te kweek.

Ek moes nou vinning my rekenaar van my skoot afhaal en by die trappe af trippel om ’n pot Earl Grey-tee te maak. Vieruur is teetyd. Vandag is daar Franse amandelkoekies by.

‘Haal asem,’ sê Louis vir die kunstenaars. ‘Onthou, dit is ’n vreugde.’ Oeps! Die musiek het stil geraak. Daar draf Louis vinnig en ruil die CD met operamusiek om. Dit voel asof hierdie gebou se dak moet klingel soos die deksel van ’n pot vol vars beet uit die tuin wat ernstig kook om gebottel te word - van al die kuns wat hier uiting kry. Die hele leefstyl hier is kuns.”