Jy kon nog nooit agterkom wat dit nou eintlik beteken nie (wat presies word van jou verwag?), behalwe dat dit jou gewoonlik ‘n kaartjie kos en ‘n ete met wyn en ‘n roos. Maar jy antwoord dawerend: Ja, Dolly!

“Ek het reeds vir ons bespreek by daardie nuwe restaurant,” sê sy. “Ek’t spesiaal gevra vir ‘n tafeltjie in die hoek. Agter die potplant.”

Jy swel sommer van trots. Die tafeltjie, die wyn, die roos, die potplant - en steak met sjokoladesous. Julle kan jul voete nie van mekaar afhou onder die tafel nie...

Of dit is omdat jy vir ‘n oomblik by die venster uitgekyk het, of diep ingedagte - onsiende - om die potplant geloer het na die kelnerin, dié weet jy nie. Maar sy vra: “Het jy my nog lief?”

Eers sê jy jy sal haar Valentyn wees, jy neem haar uit, jy koop vir haar ‘n roos, dan vra sy jou so-iets. Wat vir ‘n vraag is dit? Hoor jy ooit máns sulke vrae vra?

Julle is nog nie eens by die poeding nie en sy trek haar voete onder haar stoel in.

“Natuurlik!” sê jy. Hoe dan anders? Moet jy nou soos Tom Cruise op die stoele rondspring?

Volgende vraag: “En as ek iets oorkom, sal jy weer trou?”

Mmm, dis ‘n moeiliker een. Jy wil vir haar sê daardie steak met sjokoladesous sal haar nie doodmaak nie, sy hoef nie bekommerd te wees nie.

Om die waarheid te sê: Sedert julle getroud is, het jy nog nooit weer aan trou gedink nie, jy’s mos klaar getroud.

“Sy sal seker blond wees en skaars in haar twintigs, nè?” mymer sy met afwaartse mond.

Blond sal nogals ‘n verandering wees, mymer jy terug, maar nie so dat sy kan hoor nie, jy’s mos nou ook nie stupid nie.

“Ekskuus?”

“Jy weet tog ek verkies donkerkoppe,” sê jy. Al is daar niks verkeerd met blondekoppe nie, mymer jy voort.

“ In haar twintigs?” vra sy.

Hoe moet jy nou weet? “Ek’t haar nog nie eens ontmoet nie!” sê jy.

“Sien, dan sál jy weer trou!”

Jy sien dit nie, maar die kelnerin - blond en in haar twintigs - kom vra of alles nog reg is ... Jy kyk vir die potplant.

“ Goed,” sê sy. “Sal jy weer met mý trou?”

Jy sou dink as jy haar “nog” liefhet, sal jy tog “weer” met haar trou. Of sal dit orraait wees om dié keer sommer in sonde saam te woon, die kinders is mos al mooi groot?

Jy weet nie hoe dit gebeur het nie, maar toe jy jou weer kom kry, sit jy met al dié vrae en al die verkeerde antwoorde.

“Gaan sy in óns bed slaap?”

Nee, sê jy, natuurlik nie, jy sal vir haar ‘n bed op die vloer opmaak, met daardie dun sponsmatras in die kas in die spaarkamer. Om die waarheid te sê, sy kan maar in die spaarkamer slaap, julle kan mos maar so oor en weer kuier.

“Ek sal by julle kom spook!” sê sy sonder om poeding te bestel.

By die huis gaan was sy sommer die skottelgoed. Sy begin koppies en borde rondskuif asof sy als wil tjip.

“Onthou net een ding,” sê sy. “Daai vrou gebruik nie my beste eetgerei nie. Ek sal sorg dat ál die goed in hierdie huis tweedehands is!”

Jy sien al hoe jy als in die huis sal moet vervang. Hoe nou om skadebeheer toe te pas?

“Sê jou wat,” stel jy voor: “ Kom ons gaan koop môre vir jou ‘n ring, dan trou ons weer. Net ek en jy.”

“Net ek en jy? Vra jy my om weer te trou?”

Jip. Sy sê sy sal daaroor dink ... Jy gaan wag solank voor die TV.

Toe sy klaar gedink het, sê sy dawerend ja! en bêre al die borde mooi versigtig: “My wonderlike Valentyn!”

Jy swel sommer van trots.

“You’re lookin’ swell, Dolly ...” beaam sy. “I can tell, Dolly. You’re still growin’ ...”

En wat daarop volg.