Toe kollega Suzette Truter se boek op my lessenaar beland, het ek met groot nuuskierigheid daarin begin rondblaai. Eerstens was dit die titel: Hoe gemaak met my dikmond kind? En nog 99 vrae wat ouers pla (Tafelberg). In my geestesoog kon ek daai prentjie sommer sien: armpies gevou, dikmond en sommer moeilik en glad nie gewillig om saam te werk nie! Wie van julle het nog nie te doene gehad met so 'n opgeblase, of soos my ouma gesê het, "opstroppelis" (obstreperous) kind nie. Of jy ‘n ouer is, ‘n tannie of net te make het met vriende se kinders, daar kom ‘n dag wat jy met so 'n kind in aanraking is. Hoe dan gemaak?

Suzette Truter

So dit was met groot verwagting dat ek in die boek begin rondblaai het en lukraak vrae en antwoorde begin lees het. Ek was onmiddellik geboei, want ek het nie besef met hoeveel vrae oor hul kinders ouers worstel nie. Daar is nie ‘n kitsoplossing nie en hierdie is nie ‘n so-maak-jy-boek nie. Dis ‘n nuttige gids wat ‘n baie goeie afskop is vir hoe sekere kwessies by kinders tussen 6 en 12 jaar aangepak word. Om dit makliker te maak word die vrae in afdelings gegroepeer.

Verder is daar doenlysies wat praktiese voorstelle gee vir oefeninge om toekomstige moeilike situasies te beperk. Aan die einde van die boek is daar ook ‘n lys met nommers vir verdere hulp. Ek het nie kinders nie, maar het iets uit hierdie boek geleer. Hopelik sal ek in die toekoms meer voorbereid wees vir daai kind wat my met gevoude arms en ‘n dikmond aanstaar.

Ek het Suzette per e-pos 'n klompie vrae gevra.

Hoe het jy aan die idee vir die boek gekom?

Ek het ‘n laatlam-seuntjie (nou 7). Sy sussies is al 20 en 18. Toe ek deur hom weer begin kontak maak met laerskoolma’s, het ek besef baie ouers het maar nog steeds dieselfde vrae en kwellinge oor hul kinders as wat die ma's van my dogters se maats gehad het. Ek kon nêrens ‘n boek kry wat hierdie soort “algemene” vrae beantwoord wat veral gemik is op laerskoolkinders (so van 6 tot 13 jaar) nie. Daar is natuurlik ook heelparty nuwer kwessies waarmee ouers vandag te kampe het, soos tegnologie, ensovoorts, en dit het ek dan ook probeer beantwoord.

Hoe lank het dit geneem om die vrae bymekaar te maak?

Ek het met baie ouers gesels en dit het eintlik taamlik vinnig gegaan om ‘n klomp vrae bymekaar te kry. Die uitdaging was om dit te sif totdat ek die vrae gehad het wat die meeste na vore gekom het en vir die meeste ouers relevant sou wees. En dan natuurlik, om die antwoorde te kry het baie lank geneem – dit het seker so net onder ‘n jaar geduur om die boek te skryf. (Ek het 'n voltydse werk en moes ná ure werk.)

Wat is die een vraag wat alle ouers gevra het, of was daar nie een nie?

Daar was baie vrae oor kinders en hul portuurgroep, want dis vir kinders ‘n groot kwessie. ‘n Seun wat byvoorbeeld “anders” is omdat hy nie graag sport doen nie, en dan nie inpas by die groep nie. Of ‘n dogtertjie wat by die huis kom en kla dat niemand met haar wil speel nie. Of ‘n 12-jarige wat nie so vinnig ontwikkel soos haar maats nie, en dan uitgestoot voel as hulle net oor seuns en partytjies gesels. Enige variasie op die portuurgroep-tema ... daar was baie sulke vrae.

Was dit moeilik om antwoorde op die vrae te kry?

Sommige was beslis moeiliker as ander, omdat jy nie sommer net ‘n standaard-antwoord kan gee wat ouers op hul kind kan toepas nie. Jy moet in ag neem dat elke kind se omstandighede verskil. Daarom het ek probeer kers opsteek by van die beste kundiges oor die onderwerp. Ek het dit ook duidelik gemaak dat party antwoorde net ‘n wegspringpunt is vir ouers, dat alle antwoorde nie vir alle kinders geld nie, en dat professionele hulp soms nodig is.

Dink jy kwessies wat kinders pla, is anders in die moderne lewe as vroeër jare?

Sekere kwessies is nog baie dieselfde, dit het net ‘n ander baadjie. Maar daar is beslis nuwe kwessies wat destyds nie bestaan het nie, soos tegnologie – daar is byvoorbeeld uitdagings soos kuberboelies en kinders wat op agt, nege jaar al vra vir ’n selfoon. Dissipline is vir baie ouers deesdae ook nogal ‘n tameletjie. Dikwels wil ouers nie so streng wees soos hul eie ouers dalk was nie, dan oorkompenseer hulle deur hul kind se beste vriend te probeer wees of deur heeltemal te toegeeflik te wees. Maar al die kenners was dit eens dat ‘n kind steeds grense nodig het. Hulle voel veiliger met grense en reëls. Dis nou ‘n baie kort antwoord vir ‘n komplekse probleem, maar in die boek spreek ek dit aan met die hulp van kenners.

Wat is die kwessie waarmee jy die meeste sukkel met jou eie kind en hoe het die raad uit jou eie boek jou gehelp?

My eie kind pik net aan sy kos. Dis asof hy vergeet om te eet, en as hy sou eet, is dit altyd dieselfde kos. Die dieetkundige het vir my baie nuttige wenke gegee, om net ‘n paar te noem: Ek moes onder meer ‘n algemene huisreël maak dat almal (dus hy ook) aan tafel van elke gereg iets proe, al is dit net ‘n teelepel of twee.

Terwyl hy gespeel het, en “vergeet” het hy is honger, het ek altyd gesorg dat ‘n bakkie gesonde snoepgoed by hom staan (en ek moes hom daaraan herinner as ek verbystap). Ons het ook agtergekom hy het baie yweriger geëet as ‘n maat saam geëet het. Ek het dus gesorg dat speelmaats oor middagete kom kuier en ek het sy inname van sy geliefde pienk melk beperk tot een keer per dag (sy aptyt het aansienlik toegeneem).

Is jou eie kind dikmond?

Nee, sy twee ouer sussies het daardie een vinnig in die kiem gesmoor!

Wat was die waardevolste raad wat jy gekry het met die skryf van die boek?

Wees konsekwent (dis ‘n moeilike een, maar dit werk regtig); sorg dat jy en jou man saamstem (of ten minste ooreenkom om mekaar te ondersteun) oor die belangrikste aspekte van ouerskap, soos byvoorbeeld dissipline, en vertrou jou instink as ma.

Kan ‘n ouer ooit ten volle voorbereid wees om hul kinders se dilemmas te hanteer of is dit maar ‘n leerproses vir ouers ook?

Dis maar ‘n leerproses. Uiteindelik kan ‘n boek jou ook net tot op ‘n punt help, want elke situasie, ouer en kind verskil. Ek hoop die kenners in my boek gee ouers insig in hul kinders se leefwêreld. Dit het vir my.