Hier in die Vrystaatse yswitwinter werk dit effens anders as by ander feeste. Die koue dwing mense onderdak en tussen toneelstukke en optredes deur kuier feesgangers oor ’n stomende koppie koffie of ’n glasie rooiwyn. En so saam met die gemoedelike gesels sê mense dinge wat jou ráák.

Soos die ding oor Afrikaans. By SARIE glo ons die beste wat ons vir ons taal kan doen, is om ’n tydskrif van wêreldgehalte, in Afrikaans, op die rak te sit. Maar die intellektueles raak soms warm onder die kraag, want hulle soek debatte oor die taal in ons tydskrif; adverteerders weer eis by tye Engels in ’n Afrikaanse titel. Die taal-ding is iets wat nooit sal gaan lê nie, het ek myself al getroos. Want dis ’n hartsding.

Dit was juis ’n kompliment oor ons taal wat my onkant gevang het: “Dankie vir SARIE se mooiste Afrikaans. Dit doen my hart goed om só in my taal te lees.” Net dit. Geen debat nie, geen eise nie, geen beskuldigings nie. Net hartswoorde van ’n leser oor ’n onderwerp wat alte dikwels belaai is met emosie.

By die intekentafel staan ’n vrou met drie blondekop-seuntjies. Mooi, woelige rugbymannetjies. Sy kies haar geskenk - die stel linne-servette. Spierwit soos Nataniël daarvan hou.

“Dis ek en die seuns, en ons sal in styl om die etenstafel sit,” sê sy beslis. Ek kyk na dié mooi donkerkop-vrou en wonder hoe haar dag lyk. Is sy dalk ’n enkelma met die reuse verantwoordelikheid om drie seuntjies groot te maak? Ek voel haar vasberadenheid; haar wil om haar seuns met finesse groot te maak. Om vir hulle ’n anker te wees, soos net ’n ma kan.

Nou, vir die eerste keer, verstaan ek ook wérklik hoe swaar kry mense met kinders, kleinkinders, broers en susters wat Suid-Afrika vir ’n land in die vreemde verlaat. Die dapperheid waarmee hulle die verlange en alleenheid probeer verwerk, is iets wat die res van ons met ’n knop in die keel aanskou.

Tenger en fyn sit sy oorkant my. Sy kom om haar tydskrif te koop. Sy vertel trots van haar kinders en kleinkinders in Kanada, Australië en Amerika. Met almal gaan dit goed. Suid-Afrikaners wat gesogte poste losgeslaan het en kleinkinders wat die voorreg van top-skole en -universiteite geniet. Natuurlik gun sy hulle die beste.

Net nou die dag het sy ’n rugoperasie gehad. Dié dat sy nog so versigtig loop. Só bang was sy dat ’n vreemde jong meisie haar ’n drukkie kom gee het daar waar sy gewag het om die teater ingestoot te word. En toe sy haar oë ná die tyd oopmaak, was daar sowaar ’n plantjie met die mooiste pienk blomme voor haar bed. Dit was van daardie jong meisie, maar sy het nie ’n naam gelos nie. En sy wil haar so graag kontak om dankie te sê dat sy daar was toe sy bang was . . .

Hoe min weet ons van die pad wat mense stap. Weet sal ons seker ook nie regtig nie. Maar ons kán luister, werklik luister, ons kan ’n glimlag deel, ons kan ’n kompliment gee én met dankbaarheid ontvang. Ons kan ons arm om iemand se skouers sit - of dit iemand na aan ons is, of ’n vreemdeling. Want dalk is dít al wat nodig is om iemand se treë net daardie bietjie ligter te maak.

Michélle van Breda

SARIE  September 2008