“Soos wanneer jy my rug vryf,” sê sy.

Jy hou haar styf in albei arms vas, haar kop in die waai van jou nek. Sy hou van die vashou, nog meer van die vryf.

Jy kombineer die twee: Met jou linkerhand, vingers oopgesprei, druk jy jou palm hoog teen haar rug en met jou regterhand vryf jy laer af in sirkelbewegings, stadig linksom, nie te hard nie, nie te sag nie, dan affer tot in die kuiltjie van haar rug oor heuwels en in dale. Daar laat rus jy jou hand talmend en bring jou linkerhand in beweging, regsom, nie te hard nie, nie te sag nie, in groterwordende sirkels, dan met albei hande in langer, dieper hale op en neer teen die kante van haar rug, en van heup tot heup. (Moenie haar rug krap nie, dit kom later ...)

Sodra dit voel asof julle wil begin dans, begin jy van vooraf tot by die heuwels. (Hou op as dit lyk of sy aan die slaap gaan raak.) Op dié manier sal jy haar nooit verkeerd opvryf nie.

“Mmm, dis lekker, ek voel so bederf,” sug sy. Sien? Daar’s ’n ding te sê vir ’n vrou se rug ...

“Kom jy my rug was?” roep sy. En effe beskuldigend: “Jy’t dit lanklaas gedoen.”

Jy kniel langs die bad en smeer seep. Eers masseer jy haar skouers en dan begin jy vryf met die spons. Klaar.

“Nee, moenie nou al ophou nie!” Jy staan op jou een knie, wat voel of dit deurdruk op die badmatjie. Jy versit van knie, maar dit help nie. “Jy’t skaars begin.”

“Maar my knie,” sê jy. “En my arm raak moeg en die water raak al koud. Kan ek nie liewer jou maag was nie?”

Ek kan self my maag was, sê sy, dis mos nie bederf nie.

“Daar, net daar, aaa, vat nou die spons se growwe kant, so ja, aaa, dankie. Nou kan jy vir my die handdoek aangee.”

“Ek’s seker jou hele bolyf is nog nie skoon genoeg nie,” sê jy, maar toemaar. Al die bederf-plekkies van haar lyf ...

Soos haar tone. Jou tong trippel van groottoon tot kleintoontjie en al die tone tussenin, dartel om en om en tussendeur. Jy knabbel en suig, lek lekker lank en stadig terwyl jou duim die holte van haar voet drukkie en draai. Teen dié tyd is haar oë toe, maar sy’s by haar volle bewussyn. Nes jou tong voel of hy onder narkose is, sê sy: “Ander voet, aaa ...”

Jou hand soek haar oorlobbe, vryf liggies tussen duim en voorvinger. Dan sit jy jou pinkie in haar oor. Dit klink dalk kinky, maar as jy jou pinkie so linksom-regsom draai, gril sy van genot.

“Dit kielie so lekker!” Nog meer as jy jou tong - wat van haar tone herstel het - oor haar oor laat gly, dit liggies natlek en dan saggies daarop blaas. “Ooo...” en “Rrr.”

Om met haar hare te speel werk goed voor die TV, as sy met haar kop op jou skoot lê. Laat jou vingers onder haar hare inkruip en masseer haar slanke nek met twee vingers, dan af langs haar rug. Nóú kan jy haar rug krap, nie te vinnig nie, nie te liggies nie, met jou vingerpunte en met jou naels, nie te hard nie.

“Bietjie regs, bietjie links, aaa ...” As sy haar rug intrek, skouers agteroor, dan weet jy jy doen dit reg.

Dit bly een van die gewildste bederwe vir haar as jy aanbied om die skottelgoed te was, maar dis op ’n heel ander vlak en jy’s bang jy beseer jou rug in die proses. Jy sal eerder die trapleertjie vashou dat sy nie afval as sy ’n spyker in die muur wil slaan om ’n prent op te hang nie ...

Ns. Die klein bederfies wat geld nie kan koop nie. Soos ’n laaste drukkie net voor jy aan die slaap raak. (As jy nie klaar aan die slaap is nie.) Tot sy skielik die duvet oplig en sê: “Hallo, ou Groot Bederf!”

Jy’s helder wakker.