Begin dus altyd deur vir haar iets te gee om te eet.

SMS: Trk jo roi rok an, k neem jo yt vi ete!

En onthou, die ete in ’n oulike restaurant is nié voorspel nie. Dis wat jy tydens die ete ...

As sy vra: “Kan ek ’n happie van joune kry?” dan sê jy iets soos: “Jy kan my hééltemal kry!” terwyl jy in haar oë kyk.

Oogkontak is belangrik. Kyk één keer te veel na die bukkende kelnerin - van voor of van agter - en jou kanse is kapoet. Leun eerder ’n bietjie nader terwyl julle vir die kos wag, en vryf aan haar (nie aan die kelnerin nie). Vryf haar hand, haar bo-arm of wang, terwyl jy iets sê soos: “Wat ruik so lekker? Is dit jy? Jy’s sowaar mooier as toe ons mekaar ontmoet het.”

“Jy kon nie jou oë van my afhou nie.”

“Nou nog nie. Jy’s my poeding.”

Jy moet al dié goed bedoel, anders sien sy deur jou soos deur ’n glas stilwater of sauvignon blanc. Want die grootste verleier van vroue is ... woorde, jy hoef nie soos Brad Pitt te lyk nie.

Praat dus. Sê iets. Vertel haar iets interessants, verkieslik in meer as drie sinne - en in logiese volgorde.

Maar soms het jy nie woorde nodig nie. Hulle noem dit woordelose verleiding en partykeer is dit privaat, net tussen julle. Soos as jy op ’n leer klim om ’n spyker in die muur te kap. Blykbaar maak jy iets in haar wakker as jy op ’n leer staan, so half van onder gesien, sy’t jou dit self gesê. En toe jy afklim, was sy op die plek verlei, toe’s daar gevolge. (Wat nie altyd baie prakties is nie, want jy kan tog nie saans teen lere opklim en die mure vol spykers kap nie, die bure sal nie van die geraas hou nie.)

Blomme werk ook. Maar jy kom nie daarmee by die huis aan en sê hier, ek’t vir jou blomme gekoop nie. Sy sal sê, oukei, so wat het jy verkeerd gedoen? Uit daarmee ...

Nee, jy lui die voordeurklokkie en hou die blomme agter jou rug.

“Hoekom lui jy die klokkie, het jy jou sleutels verloor?”

“Ek’t nie genoeg hande nie,” sê jy. “Die bos blomme ... ” (terwyl jy dit ta-daaa te voorskyn bring), “is te groot.”

“Vir my?!” sal sy feitlik verbaas sê en dan het jou aand reg begin. Eers as sy heelwat later sê: Die blomme is baie mooi, maar jy’t nie dalk vir my sjokolade ook nie ...? Maak toe jou oë, sê jy, en eers dán haal jy die sjokolade uit jou sak.

Daar’s variasie op dié tema ... Wag tot sy gaan inkopies doen. Spring in jou kar en gaan koop rose. Pluk al die blare af en strooi dit van die voordeur af om hoeke tot op die bed dat dit lyk soos ’n huweliksbed.

“Roosblare op die bed? Kom hier!” sal sy sê. En as jy dit kan bewerkstellig, sorg dat sy effens koud kry.

“Sjoe, maar dit het skielik koud geword. Wie’t al die vensters oopgemaak?” Moenie aanbied om vir haar ’n trui te gaan haal nie, stupid. Sê eerder: “Kom staan teen my, dan maak ek jou warm. Of wag, ek steek die kaggel aan, dan sit ons styf teen mekaar. Ek bestel vir ons pizza!”

“Maar ons kom so pas van die restaurant af, jy’t ’n hele steak opgeëet!”

Wel, sê jy, pizza voor die kaggel is so romanties. Môreaand, sê sy. (Dan hoef sy weer nie kos te maak nie.)

Jy wag tot sy die sjokolade blokkie vir blokkie opeet terwyl jy die kaggel pak.

Toe jy omdraai - jy’t nog gedog jy verlei haar, toe verlei sy jou met net drie woorde by kaggellig: “Wat van poeding?”

* Volgende maand: Hoe om ’n man te verlei.