Is jou kind eenvoudig moeilik en humeurig, of is hy dalk bipolêr? Lees hier wat die kenners sê oor bipolêre gemoedstoestand tipe.

Prof. Angelo Lasich, ’n Durbanse psigiater, sê bipolêre gemoedsteurnis kan op enige ouderdom voorkom en is al selfs in kinders van net vyf jaar oud gediagnoseer. Dit is ’n chemiese wanbalans in die brein en veroorsaak dat fases van depressie, gevolg deur intense gelukkigheid of maniese optrede, om die beurt voorkom.

Die simptome verskil in kinders, tieners en volwassenes. Tieners is geneig om eerder fases van irritasie, woede en roekeloosheid as geluk te ervaar, maar albei kan voorkom.

Bipolêre gemoedsteurnis het van dieselfde simptome as aandagafleibaarheidsindroom en ander gemoedsteurnisse, maar in bipolariteit sal die depressiewe- en maniese fases vir een of twee weke op ’n slag aanhou.

Dis belangrik om jou instink te vertrou, sê hy. As jou kind skielik vreemd begin optree, of sy “normale” tiener-buierigheid meer intens word en jy die volgende simptome gewaar, moet jy hom/haar na ’n dokter neem:

  • Depressie, of optrede wat dit masker, soos rook of drank- en dwelmmisbruik
  • ’n Afname of toename in eetlus
  • Apatie teenoor aktiwiteite wat voorheen genotvol was
  • Ongewone slaappatrone, hetsy ’n toename of afname in slaap, of moegheid
  • Lae motivering om skool- en ander take te verrig, of ’n intense, maniese fokus daarop
  • Irritasie, woede, of ’n geneigdheid om ander te boelie
  • Angstigheid, of ’n gevoel dat sy/haar gedagtes deurmekaar is of weghardloop
  • Onttrekking van familie en vriende
  • Impulsiwiteit of roekeloosheid, en die neiging om hom-/haarself te vergryp aan dinge

As jy vermoed jou kind is bipolêr, voltooi gerus die vraelys by www.bpkidssouthafrica.co.za, en hou vir minstens twee weke dagboek van jou kind se gemoed. Neem dan die vraelys en dagboek na ’n sielkundige of psigiater sodat julle jou kind volledig kan ondersoek.

Wat kan ek doen?

Vertrou jou instink. Die meeste bipolêre kinders se ma’s (nie pa’s of onderwysers nie), kry uiteindelik vir hul kind ’n diagnose omdat hulle diep binne wéét iets is fout, sê Lee Rodrigues, stiefma van Claudia Gomes wat met bipolêre gemoedstoestand tipe 1 gediagnoseer is.

Kry die regte psigiater en sielkundige. Soek iemand wat saam met julle wil werk, en nie op jou neerpraat en vir julle sê wat om te doen nie. Dit neem tyd en moeite, sê Lee.

Lees oor die steurnis, en leer jou kind wat dit is. Dit help hom/haar én jou om te verstaan hoekom hy/sy so voel, sê prof. Angelo Lasich.

Onthou dit kan ’n ruk neem om die regte medikasie te kry en ook om die hoeveelhede te reguleer om ’n balans te vind. Dit is ’n aanhoudende verstel-proses.

Moenie dink jou kind is lui, stout of sleg nie, en moenie toelaat dat ander mense jou só laat dink nie. Dit is ’n chemiese siekte in die brein wat simptome in jou kind se gedrag veroorsaak, nes enige siekte simptome het. Angelo sê hy het al te veel ouers gesien wat wonder of hul kind besete is, wat dinge net vererger.

Oorweeg dit om self ook ’n sielkundige of ’n ondersteuningsgroep te besoek, of groepsterapie vir julle as gesin, want die siekte is ’n swaar emosionele las op die hele gesin.