Sy’s nie so seker daarvan nie . . .

“Hoekom onthou jy kriekettellings van lank gelede en wie die bal oorgeskop het in daardie laaste minute?” vra sy. Die Dag van die Groot Wedstryd, ja, maar nie die Dag van die Troue of Haar Verjaardag nie.

Die verskil is, verduidelik jy: Daar kom mos nog verjaardae en nog troudae (hopelik). Maar daardie spesifieke wedstryd kom nóóit weer nie, as jy dit gemis het, het jy dit onherroeplik gemis. Jy wonder of dit sal help as mense trou op Die Dag van ’n Groot Wedstryd, dan sal die man mos die datum onthou. (Nee, dink jy, ’n
flat screen bokant die preekstoel sal nie werk nie.

Jy’t al dikwels ’n paar papiertjies in die middel van die gang neergesit om ’n Groot Dag te onthou, maar voor jy kon onthou, het sy die papiertjies opgetel. (“Moet
ek alewig loop en goed optel in hierdie huis?”) Of jy vergeet waarvoor die papiertjies daar is . . .

Die verjaardagkalendertjie agter die deur help ook nie, want jy vergeet om daarna te kyk, en as jy die slag kyk, staan die kalendertjie op Maart terwyl dit al
Augustus is (en wie se skuld is dit?). Daar’s buitendien ’n hoop name op van mense wat jy nie eens ken nie.

Knoop dit dan in jou oor, sê hulle maklik, maar daarvoor is jy te kleinserig. By die een oor in, by die ander oor uit.

“Dis omdat jy nie aan my gedínk het nie,” beskuldig sy.

Natuurlik het jy aan haar gedink! Maar toe begin dink jy aan ander dinge ook (jy weet?) en toe vergeet jy weer. Dit moet iets met mans se testosteroonvlakke te
doen hê, jy weet net nie wat nie. Dit kortwiek seker die geheuesentrum in hul brein as hul testosteroonvlakke soos kwik begin styg. Dan onthou hulle die wittebrood en vergeet die troue.

Dis omdat mans ver vooruit dink om voorsiening te maak vir die toekoms. Hy onthou dus jou verjaardag maande voor die tyd, maar op die Groot Dag vergeet hy
dit, want teen daardie tyd onthou hy dis al weer oor vier maande Krismis, hy moet voorsiening maak.

Hy het dus bó-oor jou verjaardag onthou – en dus vergeet. Verstaan?

“Jy’t ook die kinders se verjaardae vergeet, en toe hulle kleiner was, het jy gereeld vergeet om hulle by die kleuterskool te gaan haal as dit jou beurt
was. Hulle het gedink jy doen dit omdat jy hulle nie meer wou hê nie. Foei tog, dit moes hulle erg geknou het. Dis hoekom hulle sulke moeilike tieners was,” sê sy en voeg ongevraagd by: “En seker omdat hulle na jou aard.”

Dit het nie gelyk asof hulle my gemis het nie, dink jy, Pappa kan maar huis toe gaan, ons speel nog, en hoe moes ék toe voel?

“Die ergste was toe jy tante Gwendoline met al haar tasse op die stasie vergeet het. Dit was eers toe ek by die huis kom en vra waar’s tante Gwendoline dan . . .?
En toe was dit al donker.”

Wel, sê jy, ek hét onthou om haar weer stasie toe te neem . . . en jy’t dit vir jouself uitgewerk hoekom mans belangrike datums vergeet.

Die ding werk só: Vroue onthou dag en datum, mans onthou net die dag. Daardie heuglike troudag, hoe mooi als gelyk het en die bruid die mooiste. Of die geboorte van ’n kind, die gekreukelde wonder van lewe en hoe trots jy was, die pragtigste baba in die hele wêreld en jy kon klaar sien dis ’n slim klein mannetjie daai, jy’t dit vir almal loop en vertel.

Want vir ’n man gaan dit oor die dag self, oor die Groot Gebeurtenis. Dís wat hy onthou, nie die datum nie, want datums kom en gaan. En as jy nou mooi daaroor dink, sou jy dit nie anders wou hê nie, of hoe?

Dít het jy ook vir jouself uitgewerk: As jy iets wil onthou, vra ’n vrou.