Die kinders woon (en werk) op ’n dorpie buite Londen en ek het nie lus om die hele tyd in Brittanje dorp-dorp te speel nie. Dus: ’n Paar dae in ’n hotel in Londen is nodig.

Maar die probleem is om Londen se rotneste te vermy. Dié plek se hotelle vergelyk in elk geval prysgewys en andersins power met eweknieë in die res van Europa en die VSA. Ons het een nag in Lancaster Gate ons koffers gevat, die hotel verlaat, ’n taxi gesoek en nie gekry nie, en geloop tot by Piccadilly Circus. Ons kon nie meer die lawaai, die primitiewe kamertjie, die verweerde handdoekies, en die soveelste rookalarm hanteer nie.

Tuis was die verweer van die amptenaar wat die bespreking gedoen het dat hy gedog het ons “soek tog net ’n bed”. Natuurlik, maar dit hang af waar die bed is, en of die matras uitsak of nie. (Ons hét die nag ’n skaflike hotel gekry, een waar my pa jare tevore ook gebly het, maar die plek is glo nou soos die een by Lancaster Gate.)

’n Mens kan ook nie altyd staatmaak op hotelle waarvan ander hou nie. In Amsterdam, op pad terug uit die VSA, het ek “op aanbeveling” by ’n “gewilde” hotel ingeboek. Die plekkie was beknop, ek het kop eerste teen die TV aan die muur vasgeloop, en ’n gemmerkat het die oggend ewe luiters onder die hospita se oë heen en weer tussen die onaptytlike brekfis-items gedrentel en geskuur. Vir haar was dit “heel leuk”.

Op ’n boot op die Bosforus het ek ’n paartjie raakgeloop wat dik die hoenders in was vir hul toergroep se smerige hotel in die middel van Istanboel. Hulle moes glo keer vir goggas en goeters. Hulle het dié toer ook “op aanbeveling” onderneem. Laat my erken dat ek nie ’n groot liefhebber van Istanboel is nie, maar my verblyf was in ’n droomhotel, met ’n lieflike uitsig oor die Bosforus.

Dit herinner aan die lekkerste hotelle waar ek oorgebly het: die Sheraton Resort op Key West, Florida, ’n ruim, heerlik rustige plankgebou naby die see, met vrolike bussies wat op en af ry in hierdie uniek-vriendelike plek. Die Villa D’Est aan die Como-meer in Italië het seker die meeste karakter wat ek nóg in ’n hotel beleef het, die ou kastele aan die Ryn, wat in hotelle omgeskep is, ingesluit. Die Saint Géran in Mauritius is ’n paradys in ’n paradys: Jy kry soggens vir jou ’n lêstoel, gaan swem ’n bietjie, gaan ontspan dan met ’n boek onder ’n palmboom en skuif jou stoel al agter die skaduwee aan terwyl die son oor die baaitjie glimmer en kelners drankies ronddra.

Die Grieke het lekker hotelle, die Japannese ook, en die Franse ... nou ja, as jy bereid is om heelwat euros uit te haal, maar darem nie geslag wil word nie, was die Hotel Scribe naby die Opera in Parys vir my ’n goeie proesel van diens en panache. En indien jy stylvolle snobisme wil beleef, wat selfs die Franse oortref - en teen ’n baie billike tarief - gaan bly dan in die Schweitzerhof by die beroemde Stefansdom-katedraal in Wene. Die concierge veroorloof hom selfs die vryheid om jou te vra waar jy was omdat die “Herr Direktor” (’n vriend) jou al twee maal gesoek het!

Dus: Ek het al in hole én weelde oornag.

Goeie verblyfplekke onthou jy lank, maar dit kom op ’n end. Slegtes gelukkig ook. As ’n mens in die lewe op ’n manier in ’n rotnes beland het, of dit nou ’n verhouding of werk of sommer net ’n mislukking is, kan jy selfs in die middel van die nag jou koffer vat en aanstap. Jy vind meesal altyd weer ’n goeie plek. Die alles deel van die avontuur, die “toer” wat die lewe is. En soos my duur hotelverblyf-ervarings in die verlede dikwels op genade van my maatskappy was, is ons weeldetjies hier ook op genade van die Heerser oor alles. As Hy dit soms met ’n bietjie rotnes afwissel, is dit tog nodig vir balans, voor jy dink weelde is jou reg.

Anders: Waar is die avontuur?