Maar hier op die oppervlak van die aarde werk dinge anders - partykeer kan jy nie net koers kry Kaalkop toe nie, sekere goed moet eenvoudig gedoen word. En oor ’n uur moet ek in my motor klim en my hartskind, klein George, gaan groet. Hy vertrek saam met sy ouers en sy nuwe sussie, Dali, na ’n nuwe land, ’n nuwe avontuur, ’n nuwe lewe.

Ek lewe met die beste van tye na aan trane, maar die afgelope paar dae is ek totaal in die vlakwater. Dis soos ’n vieslike lang droom en die prins en prinses kry mekaar nie gevind nie, die kasteel verrys nooit in die verte nie. Daar is woede, benoudheid, kopseer en oneindige hartseer. En bekendheid. Want dis nie die eerste keer nie, dit gebeur oor en oor, al die simptome wat my oorval elke keer dat my silwer hek agter my toeskuif ná nog ’n afskeid.

So moes ek regop staan, glimlag en wuif terwyl my vriendin Linda verhuis na Nieu-Seeland, my afrigter, Jannie, na Duitsland, my ontwerper, James, na Londen en my twee broers na Frankryk en Japan. Intussen is ’n paar Ierland toe en ’n paar het vertrek na Amerika. Daar is ook vriende wat nou in China, Thailand, Swede, Australië en Oostenryk woon. En niemand is hier weg oor misdaad of sekuriteit of politiek of finansies nie. Elkeen van hierdie mense is besonder begaafd en ambisieus en op soek na die beste plek en geleentheid vir sy talent. Maar hoekom die ander kant van die aardbol? Word hier dan nie paaie gebou, kos voorgesit, pasiënte versorg, huise versier, toeriste ontvang, formules ontdek, klere gekoop, teater besoek of na musiek geluister nie?

Onlangs het ek ’n uitstalling van ikone gereël om geld in te samel vir ’n kinderprojek. Ek wou nie net met die gevestigde kunstenaars werk nie, maar ook ’n bietjie vars bloed betrokke kry. So ontdek ek die verbysterende vermoëns van die jong Kaapse kunstenaar Varenka Paschke. Ek wys haar skildery net waar ek gaan. “Sy gaan ’n groot naam word oorsee,” sê almal. Kan ons nie intussen vir haar ’n groot naam hier gee nie? wonder ek.

Drie maande terug tree ek op Stellenbosch op saam met die simfonie-orkes. Ons doen Saint-Saëns se Karnaval van die Diere. Agter een van die tjello’s sit ’n jong man, Hans Roosenschoon. Toe dit tyd word vir “Die Swaan”, lig hy sy strykstok en speel ’n solo dat my hart by my bors uitklim en op die horison gaan sit en briewe skryf. Hoekom is hy nog hier? wonder ek by myself. Hy gaan hom seer sekerlik binnekort aansluit by al die Suid-Afrikaanse talent in Europa.

Twee maande gelede tree ek op in ’n groot saal iewers in die Noorde. Terwyl ek my gesig verf, is die nuwe ontdekking Jak de Priester op die verhoog. Ná die vertoning gesels ons ’n bietjie en hy gee vir my ’n kopie van sy CD. Terug by die huis klim ek in my bed en blaai deur die CD se boekie. (Soos gewoonlik stel ek net belang in die ontwerp en kyk ek of daar spelfoute is.) Ek begin lees sy lirieke en raak bleek in my binneste. Hierdie man skryf die mooiste goed wat ek in jare gelees het. Ek dink terug aan sy optrede en onthou dat die gehoor heel gaande was oor hom. Maar is dit genoeg?

Weet hierdie jong talente dat ons trots is op hulle? Dat ons hulle wil ondersteun en aanhoor? Weet hulle dat ons hulle groei wil aanskou, saam met hulle wil oud word en oor dertig jaar nog aanhangers wil wees? Doen ons genoeg? Vier ons die magdom van vermoëns, uniekheid en briljansie wat hier tussen ons beweeg en ons lewens soveel kan verryk? Dryf ons hulle genoeg om aan te hou presteer?

Elke draer van talent, of hy sy asem kry met musiek, woorde, kuns, wetenskap of tegnologie, is ’n boodskapper, hierheen gestuur deur ’n Hoërhand. Soek hulle uit, soek hulle op, herken hulle, luister na hulle en hou hulle hier.