Jy hoef nie verder vir die ideale Kersgeskenke te soek nie. Hier is ’n paar boeke wat as die perfekte geskenke sal dien, in jou eie taal...

1. Louis Tregardt se dagboek

Jackie Grobler (Litera, R280)

Dié nuwe vertaling sorg vir ’n genotvolle, leesbare en insiggewende boek oor hoe die leefstyl op trek was. Tregardt is die enigste Voortrekker wat dagboek van sy trek gehou het, daarom is dit ook ’n belangrike geskiedkundige dokument. Hy en die pioniers wat saam met hom getrek het, het die noordelike Drakensberge na Mosambiek suksesvol oorgesteek met nege ossewaens. In die dagboek lees ons oor die praktiese uitdagings van die daaglikse lewe op trek, klimaatsomstandighede, die omgewing, veetoestande en kontak met ander groepe. Die boek bevat kaarte, sketse en verklarende aantekeninge deur die historikus Jackie Grobler. Dit is ’n menslike verhaal van ’n heroïese en tragiese reis.

2. Doendinge in ’n dorp

Jacques Marais (MapStudio, R199,95)

’n Nuttige reisgids met inligting oor 150 dorpe in Suid- Afrika, alfabeties ingedeel en in volkleur geïllustreer. Van die dorpe wat ingesluit is, is Arniston, Baardskeerdersbos, Pofadder, Hogsback en Pella. Elke dorp word kortliks beskryf en die doendinge word apart gelys. Perfek om die agterpaaie van ons land te verken. Kaarte en GPSkoördinate help met roetebeplanning. Die gids bevat ook nuttige toeriste-inligting en kontakbesonderhede van elke dorp.

eboek R96,55 op kalahari.com

3. Reinaard die vos

Vertaal deur Daniel Hugo (Protea Boekhuis, R160)

Die verhaal van Reinaard boei die wêreld al langer as 700 jaar en is een van die beroemdste boeke uit die Middelnederlandse literatuur. Dis ’n bytende satire op die destydse politieke, sosiale en godsdienstige toestande. Die sedeles van dié fabel geld vandag nog, want al die dinge wat ontbloot word, is steeds deel van die moderne samelewing. Briljant vertaal in Afrikaans deur Daniel Hugo. Die illustrasies is deur die gerekende Vlaamse kunstenaar Klaas Verplancke.

Nog boek-voorstelle: