In haar roman, Noot vir Dood (Queillerie, R199,95) sorg dié obsessiewe aanhanger vir interessante kinkels in die verhaal. Dis ook Roggeband se gunstelingkarakter in die verhaal wat handel oor die gewilde sanger Carel Strydom en hoe sy loopbaan in die musiekwêreld ontstaan het. Maar dis glad nie ‘n voorspelbare storie nie, want  Carel het ‘n groot geheim wat hy al jare vir die media wegsteek. Dan is daar ook nog die joernalis Tertia Viviers wat hom van dag een af met ‘n valkoog dophou. Sy word vermoor.  Twee susters, opdringerige aanhangers van Carel, wat nie nee vir ‘n antwoord wil vat nie, word ook vermoor. Oënskynlik is daar geen motiewe vir die moorde nie.

Dan is daar nog ‘n handvol ander karakters wat almal betrokke is by Carel se lewe. En dan is daar die obsessiewe aanhanger . . . Wie is sy en hoe pas sy in die storie in? Jy gaan tot aan die einde van die boek moet lees om te sien wie sy is. Meer wil ek nie van die verhaal verklap nie, want dis boeiend en dinge gebeur teen ‘n vinnige tempo. Jou nuuskierigheid hou jou aan die lees tot die laaste blad. Al wat ek kan sê is, ek hoop nes Roggeband die obsessiewe aanhanger maak in ‘n volgende boek weer ‘n verskyning!

Wou jy nog altyd fiksie skryf of het dit natuurlik voortgespruit uit al jou ander skryfwerk?

Ek wou nog altyd fiksie skryf, maar hierdie boek het amper vanself gebeur. Ek het verlede jaar vir Etienne Bloemhof by die Open Book Week in Kaapstad raakgeloop en hy het gesê hy wil met my praat oor ‘n misdaadroman wat afspeel in die musiekbedryf. Daar is die saadjie geplant.

 Waar het die idee vir Noot vir Dood  by jou ontstaan?

Dit was Etienne. Ek het aanvanklik nie gedink ek sal dit kan doen nie, maar toe kom die eerste hoofstuk by my op en toe die tweede en toe die derde. . . Dis was toe ‘n geval van sit en skryf en die storie wat sy eie pad geloop het. As ek moet eerlik wees, sal ek erken dat ek nooit gedink het misdaadfiksie is iets wat ek sal skryf nie.

Jy was lank betrokke by Huisgenoot se verhoë by kunstefeeste. Hoe baie het hierdie ondervinding jou gehelp met Noot vir Dood?

Dit het baie gehelp. Ek het in die jare wat ek by Huisgenoot was en die verhoë by die KKNK en Aardklop hanteer het, gesien hoe die musiekbedryf groei. Ek het die goeie kant gesien, maar ook die minder goeie kant.

Het jy die karakters regtig almal uitgedink, of het jy darem bietjie staatgemaak op eienskappe van mense in die verskillende bedrywe?

Die karakters is beslis almal fiktief, maar ek het so hier en daar geleen en beslis nie net by een persoon nie. Daar is nie een karakter in die boek wat in ons bedryf bestaan nie – raakpunte ja, maar beslis nie regte egte mense nie.

Wie is jou gunsteling karakter in Noot vir Dood?

Daar is ‘n paar, maar as ek moet uitsonder sou ek sê die obsessiewe aanhanger. Ek begin selfs wonder of sy nie dalk weer oor geskryf moet word nie.

Jou vorige boek, 50 Stemme, was ‘n nie-fiksie werk en het ‘n ander tipe skryfwerk behels. Jy werk ook as joernalis.  Hoe verskil jou werkwyse met die skryf van fiksie? Is fiksie moeiliker vir jou?

Ek geniet dit ewe veel. 50 Stemme het ek dalk meer soos ‘n joernalis geskryf, Noot vir Dood is meer kreatief. Ek voel amper skuldig om dit te sê, maar fiksie het vir my baie maklik gekom. Dit is waar wat hulle sê: ‘n Boek skryf homself. Ek het tye geskryf en dit dan na die tyd gelees en gedink: Waar op dees aarde het dít vandaan gekom?

 Het jy ‘n roetine wanneer jy skryf en is jy gedissiplineerd wanneer jy skryf?

Ek skryf nog altyd baie vinnig. Ek het met die skryf van Noot vir Dood vir myself ‘n sperdatum gegee – ek wou einde Februarie klaar wees. Wanneer ek my kind by die skool afgelaai het, het ek teruggekom huis toe, kom sit en geskryf tot ek hom weer moes gaan haal. Daar was dae wat dit gevoel het of ek ure en ure aan 500 woorde skryf, ander dae het ek in ‘n oggend sommer 2 000 woorde geskryf. Daar is nie juis ‘n roetine nie. Ek kom sit, sit my hande op die sleutelwoord en tik! (Ek het so tussen hakies op 13 Februarie die laaste punt van die manuskrip getik.)

 Waar kom jou liefde vir skryf vandaan?

Ek moes nou mooi dink, maar het nou besef dit was nog altyd daar. Een van my groot oomblikke op laerskool (ek dink ek was in st. 3) was toe ek 9 uit 10 vir ‘n opstel gekry het en in die klas moes opstaan om dit voor te lees. Ek het in ‘n huis met boeke grootgeword en veral my pa was ‘n fanatiese leser. Hy het vakansies vir ons boeke gekoop om saam te vat see toe en as ek vandag aan my pa dink, is een van die prentjies in my kop van hom wat in ‘n stoel sit en lees. Ek dink meeste mense wat skryf is ook lesers. En ek was ‘n biblioteekprefek op laerskool!

Is daar ‘n volgende boek op die horison?

Ek hoop so. Ek moet egter werk doen om brood op die tafel te sit en op hierdie stadium is boekskryf nie genoeg nie! Daar is egter enigiets van ‘n jeugroman tot ‘n resepteboek en nog ‘n roman in my kop. Ek het verlede week by die Silwerskermfees vir Deon Meyer raakgeloop en sy eerste vraag aan my was: “Het jy al begin met die volgende een?”. Sy raad is dat jy nie moet wag om te kyk of  hierdie een verkoop nie, jy moet dadelik begin met die volgende een. Selfs my seun het gister gevra of ek al begin het met die volgende een. Het iemand asseblief vir my die wennommers vir die Lotto?