Bekendes kla dikwels mense kyk sommer in hul inkopietrollies om te sien wat hulle koop. Wat bekendes nie weet nie: Vroue kyk in mekáár se inkopie-trollies, bekend of onbekend, en hulle erken dit selfs.“Kyk jy in ander vroue se inkopie-trollies?” Jy verwag iets in die lyn van: Net as hulle in myne kyk ... “Wel,” sê sy. “Partykeer, soms, dalk, oukei, as jy dan nou móét weet: Ja.”Wat jy nie verstaan nie: Hoekom, waarom en why for? As daar nou op hierdie aarde iets is wat niets met jou te doen het nie, is dit die inhoud van iemand anders se inkopie-trollie, dan nie?Verkeerd.“Jy verstaan nie,” verduidelik sy. “ Dit leer ’n mens baie van ander mense. Wys my die inhoud van jou inkopie-trollie en ek wys jou wie jy is,” sê sy sielkundig, sy klink nes Sigmund Freud.Mensekennis uit ’n inkopie-trollie.Dan wonder hulle op watter rak het ’n vrou daai bepaalde blikkie ertjies gekry ...Sy sal jou kan sê of daardie vrou op ’n dieet is. Als afgeroomde, laevet-goed in haar trollie en ryskoekies (net een stukkie sjokolade onderin). Jy sal ook weet of daardie vrou kinders by die huis het.Sy koop allerhande volgraanprodukte en verrykte tandepasta en vitamiene in potjies.Sien jy daardie vrou? Sy’t ’n swak vir jogurt - een sakkie aartappels, tien bakkies jogurt in haar trollie. As sy baie tjips en dips koop, southappies en so, kan jy maar weet hulle kry vriende oor om rugby op TV te kyk. Ewe maklik is dit om te weet wat daardie mense vanaand gaan eet - sop of stirfry, die bestanddele is in haar trollie.En kyk daardie man, daar, hy’s ’n bachelor. Want daar’s baie mikrogolf-goed in sy trollie en slaai-vir-een. As jy ’n man saans ná 10 by die 7-Eleven sien inloop en uitloop met een rolletjie toiletpapier, kan jy ook maar weet hy’s op sy eie.Jy sou dink die antwoord is eenvoudig. Die toiletpapier is op ... Nee, want as hy getroud was, sou sy vrou hom gestuur het om minstens ses rolle te koop. Plus roomys. (Dan sê dit mos eerder iets van haar as van hom? sou jy dink.) Alleenlopers doen ook inkopies op gans ander tye as getroude mense. En getroude mense mét kinders koop weer op gans ander tye as getroudes sónder kinders.Hel, dis ’n hele bedryf en sy het dit tot ’n wetenskap verfyn! Sy sal jou inderdaad ook kan sê watter soort wasmasjien jy by die huis het (natuurlik na gelang van die soort waspoeier wat jy koop, jy snap daardie een), en of daar ’n kat of hond by die huis is (dis ook maklik).Koop iemand budgie-saad, is dit egter nie te sê daar is ’n budgie by die huis nie. Dit kan wees dat sy die voëls by die agterdeur voer.Wat weer vir jou iets sê oor die soort mens wat sy is, nè?Gepraat van voëls voer, kom sy eendag van die winkel af en kondig aan: “X het ’n affair.”Met Y of Z? vra jy asof jy belang stel. Dié weet sy nou nie, maar dat hy ’n affair het, is gewis. En hoe weet sy dit? Daar was Lindtsjokolade en ’n pakkie kondome in sy inkopietrollie.“Hy’t die sjokolade so half ongemerk onder die kondome probeer inskuif - let wel, nie andersom nie - toe hy my sien. Nóg ’n teken,” sê sy.Sjokolade en kondome in jou inkopie-trollie beteken jy’t ’n affair? Jy’s stomgeslaan. (Genoeg om jou van jou trollie af te sit.)Nie énige sjokolade nie, verduidelik sy. Lindt-sjokolade. Weet jy hoe dúúr is dit? Dit word ingevoer, daar’s eksotiese tale op die verpakking. ’n Man koop net vir sy eie vrou Lindt-sjokolade as hy in helse moeilikheid is (jy sal dit probeer onthou), en sy weet vir ’n feit dat X se vrou op die Pil is. So, as hy Lindt-sjokolade plús kondome koop, kan jy maar weet dis albei vir ’n ander vrou.Q.E.D. Quod erat demonstrandum, praat sy in eksotiese tale en voeg by in Engels: I rest my case, Freud sou met my saamgestem het. Jy sê miskien het X onverwags ’n bonus gekry - vandaar die duur sjokolade - en miskien speel hy en sy vrou net ’n bietjie met die kondome. Of hulle is dubbel versigtig ... het hulle nie klaar ses kinders nie?“Hoekom kom jy vir hom op?” vra sy dadelik. “Weet jy iets wat ek nie weet nie? Het hy die affair met Y of met Z?”Jy’s met Sigmund Freud se agterkleinniggie getroud en jy weet dit nie. Jy sê jy gaan liewer die koerant koop. Het sy iets van die winkel af nodig?