Die lug ruik na mango en soet vrugteskil, en op straat heers 'n chaotiese ... vreedsaamheid. Van die matfabrieke van Jaipur tot in die stadspaleis Udaipur is die Rajasthan-provinsie in Indië 'n plek wat aan jou hart sal klop.

Ons 12 dae het gevoel soos 'n verkenningstog op 'n stuk aarde wat eintlik nie meer vir die moderne wêreld bestaan nie. Want om op die rug van 'n olifant teen 'n fortmuur uit te beur, om te weet jy gaan vanaand in jou aandrok by Maharaja Sawai Bhawani Singh in die Jaipur-stadspaleis aansit vir ete is mos nou nie iets wat jy elke naweek doen nie!

Lees meer in die Oktober-uitgawe van SARIE - nóú te koop!

HULLE WAS OOK DAAR!

Jolette Odendaal (van Op die vrou af 2-faam)
"Op 'n vreemde manier het Indië vir my baie geluk gebring. Ek het dadelik tuis gevoel in 'n land wat eintlik vir my baie onbekend moes wees. Die mense het my geraak met hul nederigheid, en hulle het absoluut niks, maar tog so baie. Dis 'n kleurryke land van teenstellings, ryk kultuur, verskillende gelowe, maar almal het liefdevolle geduld met mekaar. Die kos is ook 'n hoogtepunt!"

Erns Grundling (Weg-joernalis)
"Die eerste dag of twee was 'n volslae kultuurskok: die reuke, klanke, derduisende mense en chaos van verkeersirkels - waar riksjas, kamele, koeie, voetgangers en voertuie almal om 'n plekkie meeding - was baie intens. En jy kan nie die armoede op straat en noodlot van die kaste-stelsel ignoreer nie. Hoogtepunte was die Taj Mahal, die Bandhavgarh Nasionale Park en die heilige Hindu-stad Varanasi (ons het op 'n bootjie op die magtige Ganges-rivier gevaar en gekyk hoe honderde pelgrims tydens sonopkoms was en bid). Ek het selfs krieket agter 'n eeue-oue fort gespeel en 'n propperse Bollywood-fliek gaan kyk. Die mense was orals vriendelik en ons reis, kos en verblyf was heerlik en spotgoedkoop. Ek kan nie wag om Indië weer te besoek nie."

Christi Panagio (aktrise-model)
"Indië en sy mense het 'n charm wat onverwags jou hart steel. Nog nooit het vervalle geboue en vuil, besige strate, so 'n mooi prentjie geskilder nie. Dalk is dit die siel van sy mense wat hy uitstraal. Hulle simplistiese uitkyk op die lewe laat jou letterlik aan hul lippe hang in afwagting op die volgende komiese observasie en aanmerking."

WAT JY NIE GEWEET HET NIE

  • Daar's 14 000 parke en 5,5 miljoen bome in Nieu-Delhi.
  • Die grootste nywerhede is:
    Toerisme
    Marmer
    Opvoeding (universiteite en dies meer)
  • Vroue werk nooit as verkoopspersone in winkels nie, slegs mans.
  • Daar word geglo dat gereëlde huwelike langer hou as liefdeshuwelike.
  • Coenie de Villiers het 'n liedjie "Taj Mahal" saam met Nianell opgeneem. (Dis op sy album Weerlig oor die see).
  • Indië is die derde grootste uitgewer van Engelse boeke, ná die Verenigde State en Engeland. Daar's 16 000 uitgewers en die jaarlikse Jaipoer-boekefees trek oor die 20 000 besoekers.
  • Die langslewende Maharani van Jaipoer, Gayatri Devi, het 'n boek geskryf, A Princess Remembers, waarin sy haar memoires as vrou van die Maharaja neergepen het.
  • Indië spog met 108 piesangsoorte waarvan die kleinste so groot soos jou pinkie is.
  • 'n Mat van egte sy kan 2 mense sowat 8 maande neem om te maak. Die Channi-matfabriek in Jaipoer hou die Guinness-wêreldrekord vir die mat met die meeste knope per vierkante duim: 4 224!