Mans in langbroeke en kraaghemde wed hul silwer munte en roepees op die naderende moesonreëns. Daar heers 'n droogte in Rajasthan, jy sien dit aan die son wat op die klawerribbes van heilige beeste neerbak. Vroue staan gebukkend op die ryslande tussen suikerriet en ander plantasies langs die geteerde hoofpaaie.

Hul neonpienk, -oranje en -geel sari's vlam uit die woestyngrond op, soos skaars blomsoorte ná die reën.'n Jong man knoop matte in die middagson en by die lapfabriek druk iemand groen olifante op katoen af, die ink gemaak van ryp mangoblare.

Saans, ná sononder, begin die sitar speel en in die soel aandlug dans jong meisies met klokkies om hul enkels. Hul rompe - pienk hibiskusblare - tol soos hulle die tromslag van 'n jong seun se arms volg . . .

Daar's nog iets lewends tussen die stadsmure van Jaipur. Iets van die tyd toe die Mughal-ryk vanuit Asië hul koninkryke sowat 500 jaar gelede in die noorde van Indië kom vestig het - die spandabelrige era van die Maharajas (keisers). 'n Tyd toe paleismure met goud, marmer, edelstene en silwer versier is.Toe die binnehowe gedrup het van duursame lappe en matte, en rooswater en ander soet Oosterse geure in die fonteinwater gegooi is. Die dae van oorvloed toe musikante, dansers, olifante en knegte (by die 1 000 van hulle) almal tot diens van die Maharaja was.

Dis nou wel 'n halfmillennium later, maar in die noorde van Indië het baie van hierdie goue era behoue gebly, en hierin lê 'n reisiger se droom. Want waar anders kan jy in 'n paleis oornag, van die indrukwekkendste argitektoniese wêreldwonders aanskou én smiddae deur die nou gangetjies van 'n straatmark die eenvoudige aardsheid van sy mense aanvoel? Of kyk hoe kunstenaars met die sterthare van eekhorings kleurryke olifante op kameelbeen verf en edelgesteentes in duursame marmer inlê?

As handgemaakte houtmeubels, lappe, juweliersware en skilderye jou hart vinniger laat klop, is dit 'n reis wat jy jouself eenmaal móét gun. (Sien die kassie "Handewerk")

Ons 12 dae het gevoel soos 'n verkenningstog op 'n stuk aarde wat eintlik nie meer vir die moderne wêreld bestaan nie. Want om op die rug van 'n olifant teen 'n fortmuur uit te beur, om te weet jy gaan vanaand in jou aandrok by Maharaja Sawai Bhawani Singh in die Jaipurstadspaleis aansit vir ete, is mos nou nie iets wat jy elke naweek doen nie!

12 dae, 6 stede

Van die 20ste vloer van The Lalit Hotel lyk Nieu-Delhi soos 'n digbevolkte oerwoud (5,5 miljoen bome, 14 000 parke). Ons reis het hiér begin, in die stad met die onrustige hartklop. Op straat, tussen hordes in riksjas, motors, bromponies en 'n onverstaanbare verkeerstelsel pols dit wild. Maar langs die roerlose klipdam van 'n Sikh-tempel of Mahatma Gandhi se gedenkteken (Raj Ghat) voel jy byna 'n heiligheid aan.

Die reuk van staande water, diepgebraaide soetgoed en speserye hang tussen kragdrade van die Chandni Chowk, Ou Delhi se vernaamste mark. En op die plein van die Jama Masjidmoskee vlieg duiwe en weerkaats die spieëlbeeld van biddende gelowiges in die opwasdam.

Dis moeilik om te beskryf hoe dit voel om in die middel van die wildernis skielik die marmersimbool van liefde en perfeksie afgeëts teen die blou lug te sien staan. Al die poskaarte, foto's, reisprogramme of hoorsê oor die Taj Mahal sal jou nóóit op hierdie gesig voorberei nie!

Nog dieper die berggebied in lê die Samode-paleis. As prinses-vir-'n-dag jou idee van bederf is, verbeel jou 'n paleiskamer met 'n hemelbed,'n koperpootjiesbad en kersligetes onder die sterre waar vroue vuurdans op die ritme van tabla-tromme. Maar net drie tree buite die hekke van die paleis dwaal slenterkinders, wilde varke en bokke in die nou straatjies rond. Mans wat in die rame van winkelvensters

lappe stik . . .

Romantiese Udaipur is pas as die wêreld se top-reisbestemming aangewys. Liz Hurley het glad hier kom trou. En met goeie rede! Dit het sowat 22 konings en 450 jaar geneem om Udaipur se stadspaleis te voltooi. Die Taj Lake Palace "dryf " soos 'n antieke Titanic op 'n mensgemaakte meer, en by die Royal Retreat aan die buitewyke van die stad drink swart luiperds saans by die swembad. Of so sê hulle.

Maar iets krap aan jou binneste: Die armoede is moeilik om mis te kyk. Maer kinders wat saans op elektrisiteitsbokse slaap, en soggens, as daar dalk reën was, in waterpoele op die sypaadjies bad. Terwyl ses van die top-10 miljardêrs in die wêreld Indiërs is . . .

Uiteindelik lê jy ook in die versengende 40°C met 'n soet lemmetjie-drankie op ys en 'n bord vars vrugte langs die swembad by die Pushkar Resort. 'n Kameel wei daar ver tussen die bome en die oproerige gedruis van die stad is vergete. Môre is huis-toe-gaan-tyd. Die omliggende berge maak wolke bymekaar. In Eugène Marais se woorde: En van ver af wink sy met die een hand / haar armbande blink en haar krale skitter / saggies roep sy . . .

Die volgende dag was Nieu-Delhi se strate blink van die reën.

HANDEWERK
Die detail van kurwes in 'n houtstoel, tydsaam uitge-beitel tot 'n pronkstuk, die helderkleurige handge-drukte satynkatoenlap en silwerringe met edel- gesteentes is onweerstaanbaar. Van die vernaamste handewerk wat 'n mens in Rajasthan sien, is matte en lappe in Jaipur, miniatuurskilderye, juweliersware en houtwerk in Udaipur en marmer in Agra. Die 6 kunsskole in Udaipur het 60 voltydse en 300 deeltydse skilders, waarvan die jongste 12 jaar oud is!

Hulle verstaan die geduld van 'n kleurryke miniatuurolifant wat met handgemaakte verf op kameelbeen geskilder word. Die basiskleure word gemaak van sulfaat (geel), rooi-ysteroksied (rooi), koolstof (swart), sink (wit), lapis lazuli (blou) en malagiet (groen).
In Jaipur word blokdruk-werk op lap nog met die hand
gedoen en in Agra kry fyn edelgesteentes lêplek in een
van Indië se kosbaarste gesteentes, marmer.

WENK Neem 'n ekstra tas saam, want 'n koop-ervaring in Indië is bitter verleidelik. Maar onthou, op die lughawe raak dit baie - slegs 20 kg bagasie word toegelaat.

In Agra is daar drie wêrelderfenismonumente:
Die Taj Mahal, Agra Fort en Fatehpur Sikri. Lg. is 'n rooi sandsteen-kompleks met tempels en geboue waarvan die gedetailleerde, tydsame ontwerp jou tydens die lang rit na Jaipur nog aan die dink het.
Soos die landskap verbyflits en die Taj net 'n silhoeët in die verte word, begin lyk die vlaktes al hoe meer na die boggels van 'n kameel. Daar doer, afgeleë en weggesteek tussen heuwels, lê die bergagtige stad Jaipur, die hoofstad van Rajasthan.
Dit staan bekend as die Pienk Stad met sy stadsmure, sterrewag, handgemaakte lappe en matte, kamele, olifante en 'n mensgemaakte meer. Ek moes myself keer om nie 'n besending lappe op 'n skip terug Suid-Afrika toe te pos nie!

EEN AAND BY PESHAWRI . . .
'n Dag in Indië het drie hoogtepunte: ontbyt, middagete en aandete! Noord-Indiese kookkuns het nou wel 'n bietjie skop, maar die geurpalet van elke gereg laat my nou nog terugverlang.
Soos een aand by Peshawri, 'n eg Noord-Indiese restaurant in Agra
(glo die beste ook), waar ons die sjefs deur 'n glasvenster kon dophou. Naan-brooddeeg trek deur die lug, die geur van stomende garnale uit Moembai kielie ons neuse en hoender-tikka word op lang sosatiestokke in die tandooroond
gerooster. Dan praat ons nie van die hemelse dahl (lensie-kerrie) nie, en kulfi, 'n tradisionele pistasienagereg,
voorgesit met vermicelli . . .
En die beste van alles? Jy eet met jou
hande.

***

Die vliegtuig styg bo die reën uit. Die gees van Indië se mense lê in hul harte, en die dankbaarheid waarmee hulle die reënseisoen tegemoet dans. Sy inwoners leef uit die grond. En binne die reisiger bly daar vir ewig 'n bietjie van sy stof, sy blink, sy grond en sy mense agter.