Winterbach se roman, Benederyk (Human & Rousseau, R144,50) was die wenner in die Afrikaanse kategorie - die derde keer! Haar eerste toekenning was in 1994 vir die roman Karolina Ferreira, wat sy onder die skuilnaam Lettie Viljoen geskryf het. En toe is sy weer in 2007 bekroon vir Die boek van toeval en toeverlaat.  Die ander finaliste was Dan Sleigh (Afstande), Alexander Strachan (Dwaalpoort) en Deborah Steinmar (Marike se laaste dans).

In die Engelse kategorie het Ivan Vladislavic met die louere weggeloop vir sy boek, Double Negative (Umuzi, R153). Hy het stof in die oë geskop van Damon Galgut (In a Strange Room), Craig Higgenson (Last Summer) en Lauren Beukes (Zoo City).

Die Sotho-kategorie is gewen deur K.J. Sekele (Lehutšo) en die Nguni-kategorie deur Ncedile Saule (Inkululeko Isentambeni).

In die Rolprent-kategorie was die wedywering straf, maar Cynthia Jele was die wenner met haar debuutroman, Happiness is a Four Letter Word (Kwela, R136). 

Hier is spesifiek gekyk na hoe goed die verhaal aangepas sal kan word vir 'n rolprent en of dit ‘n treffer by die loket sal kan wees. In dié kategorie was die ander mededingers Piet Steyn (Tou) en K.J. Sekele (Lehutšo)

Elke wenner het R50 000 ontvang en vanjaar is die pryswennende boeke teen afslagpryse te koop op kalahari.net.