'n Mens kan kwalik glo dis dieselfde mens. Die Morgan Freeman wat voor ons staan in die rolprent-teater in Kaapstad se Waterfront vertel in sy besondere stem met die Amerikaanse aksent dat dit 'n liefdestaak was om die rolprent Invictus te maak.

Die Morgan Freeman wat ons net daarna in die fliek sien, verdwyn heeltemal en wórd Nelson Mandela. Hy loop soos Madiba, praat (min of meer) soos Madiba en dra die essensie van dié ikoon en staatsman meesterlik oor.

Morgan is in Suid-Afrika vir die premiéres van Invictus, die rolprent oor hoe Madiba die Wêreldbeker-rugbytoernooi van 1995 gebruik het om die bloedjong SA demokrasie te verenig en brûe tussen mense te bou. En hoe hy François Pienaar en die Springbokspan geïnspireer het om die Australiërs en die All Blacks en almal anders te wen en die William Webb Ellis-trofee vir Suid-Afrika te verower.

Nes die fliek het die Kaapse premiére Donderdagaand hoendervel-oomblikke gehad. PJ Powers het vir ons Shosholoza en World in Union gesing, nes sy daardie onvergeetlike Saterdag op Ellispark gedoen het.

Sy vertel toe Madiba daardie dag in François se nommer 6-trui op die veld loop, het sy vir haarself gesê: ''Ons gaan oukei wees.''

John Carlin, skrywer van die boek Playing the Enemy: Nelson Mandela and The Game that Made a Nation waarop die rolprent gegrond is, het ook kom skouers skuur met gaste soos die huidige Springbok-afrigter Peter de Villiers, Chester Williams, wie se karakter 'n mens heelwat in die fliek sien en Springbok-flank Schalk Burger.

Carlin het in talle lande as politieke korrespondent gewerk en was van van 1989 tot 1995 in SA vir die Britse koerant The Independent. In dié tyd het hy 'n verhouding met Madiba opgebou.

''Nelson Mandela is die mees buitengewone politikus wat ek in my loopbaan ontmoet het en die Wêreldbeker '95 was die mees buitengewone politieke gebeurtenis,'' sê hy.

Maar dis 'n babawagter wat hom die idee vir die boek gegee het! ''Ek het in Londen 'n dokumentêre program oor Nelson Mandela help maak. Vriende van my se babawagter het dit gesien en vir my gesê dis veral die Wêreldbeker-tonele teen die einde wat haar geroer het. Ek het besluit as dit kon deurdring tot 'n 19-jarige meisie wat half-Engels, half-Arabies is en geen konneksie met Suid-Afrika of rugby het nie, móét ek 'n boek skryf.''

Carlin dink die fliek (met Clint Eastwood as regisseur) het baie goed uitgewerk, maar oor een ding is hy spyt: dat Morné du Plessis, oud-Springbok-kaptein en in '95 bestuurder van die Springbokspan, nie daarin gewys word nie. ''As Madiba die argitek van die gebeure was, was Morné die konstruksie-voorman,'' sê Carlin.

Die fliek is nie sonder leemtes nie. Dele is effens langdradig. Die Springbokke lyk maar na 'n patetiese spannetjie voor hul groot oorwinning en Matt Damon beeld François Pienaar as 'n taamlike bleeksiel uit, nie naastenby soos die sterk leier wat François eintlik is nie.

Maar in geheel is dit 'n fliek wat jou bybly en diep sentimente aanraak. Die heel roerendste oomblik, die een wat jy dalk nooit sal vergeet nie, is waar François in Madiba se tronksel op Robbeneiland staan en in sy geestesoog sien hoe Madiba daar in sy gevangeneskap oor en oor die gedig Invictus (deur die Engelse digter William Ernest Henley) vir homself opgesê het:

Beyond this place of wrath and tears
Looms but the Horror of the shade,
And yet the menace of the years
Finds and shall find me unafraid.

It matters not how strait the gate,
How charged with punishments the scroll
I am the master of my fate:
I am the captain of my soul.