Die een is ’n ‘tawwe koekie’ en die ander een ’n ‘waarheidsoeker’. Die twee hoofkarakters in Irma Venter se spanningsverhale lok jou om te lees.

SkoenlapperIn haar debuut, Skoenlapper (Human & Roussouw) leer ken ons vir Ranna Abramson as ’n geheimsinnige, tawwe vryskutfotograaf wat vlug van haar verlede. Sy kom hardgebak voor, maar eintlik is daar tog ’n empatiese hart in haar lang, lenige lyf. Alex Dercksen is ’n vryskutjoernalis, ook met ’n minder rooskleurige verlede, wat op Ranna verlief raak. Hy wil altyd die waarheid ontbloot in die stories wat hy skryf en daarom bevraagteken hy alles en almal. Vertroue is maar ’n moeilike kwessie vir hierdie twee mense. Daar in Dar es Salaam ontvou ’n boeiende storie van ’n reeks moorde, onwaarskynlike liefde en allerlei ander intriges. Jy ontmoet langs die pad ’n handvol ander karakters, Sarah Fourie, kuberkraker par excellence, en die polisieman Hamisi Hambane.

SkrapnelIn boek twee, Skrapnel, is Alex se verdwyning die spilpunt waarom die verhaal draai. Hy verdwyn, terwyl hy stories oor ’n mynsindikaat doen. Sarah moet teen wil en dank vir Ranna opspoor waar sy in Indië wegkruip, om haar te kom help om Alex te red. Met die hulp van ’n vervalste paspoort deur Sarah se tante, Adriana, reis Ranna wel terug na Suid-Afrika waar sy sekere gebeure uit haar verlede moet konfronteer. So word nog ’n paar van Ranna se geheime stukkie vir stukkie onthul.

SondebokIn die derde boek, Sondebok, lei Adriana die verhaal grotendeels. Sy vra Alex en Ranna om ondersoek in te stel na die storie van ’n jong vrou onder haar beskerming. Hulle krap ’n netwerk van onheilighede oop, natuurlik met allerlei kinkels wat sorg vir lekker genuanseerde karakters en gebeure.

Venter het ’n boeiende manier van storie vertel. Nes jy dink jy het die storie uitgepluis, gee sy vir jou ’n nuwe kinkel om oor te wonder. Haar karakters is geloofwaardige mense en die omgewings waarin die verhale afspeel, word vindingryk met net ’n paar woorde beskryf. Die verhale speel teen ’n vinnige pas af. Elke boek het ’n sterk sentrale storielyn wat gerugsteun word deur ’n klompie sekondêre storielyne waarin Venter aktuele kwessies van die tyd aanraak en op ’n fyn manier meesterlike sosiale kommentaar lewer.

Hierdie skrywer laat my lees en hou my aandag met fassinerende, kleurvolle karakters. In elke verhaal laat skemer die karakters (wat reeds van boek een af kom) so bietjie meer deur oor wie en wat hulle is, maar net genoeg om jou steeds aan die raai te hou. Almal se verbintenis met Ranna hou hulle op die voorgrond. Ek hoop van harte dat daar nog vele boeke uit Venter se pen sal verskyn. Ek wil weet wat met al hierdie mense gebeur. En sy moet tog uiteindelik vir Ranna geregtigheid soek . . . of nie?!

Waarom skryf jy spesifiek in die spanningsgenre?

Dis lekker om ’n raaisel aanmekaar te sit. Dis so bietjie van ’n intellektuele oefening om die leser te kan uitoorlê. Dis my hele doel. Daar is verskillende tipes spanningsverhale. Jy kry jou whodunit en dan kry jy die jaagtogte waar jy eintlik weet wat gaan gebeur. Jy moet net deur die stappe gaan om by die jaagtog uit te kom. Ek hou daarvan om die twee te kombineer as dit moontlik is. Maar dit beteken jy moet probeer om ’n baie slim raaisel aanmekaar te sit en ek weet nie altyd of ek dit regkry nie. Ek dink dis moeilik. Ek hou daarvan dat die leser nie weet wat gebeur tot aan die einde nie.

Jy is ’n joernalis. Dink jy dit maak dat jy meer aangetrokke is tot hierdie genre?

Ek dink so. Ek dink spanningsverhale in Suid-Afrika dra ’n tipe van ’n ontnugtering saam met dit. Ek is heeltemal ontnugter met die regsisteem. As mens kyk wat het gebeur met Oscar Pistorius, en met Meyiwa - ’n R250 000 beloning, ’n taakspan. As iemand in my straat vermoor word, of in Diepsloot, dan twyfel ek of die saak ooit opgelos gaan word. Dalk as joernalis werk mens naby met die feite en dan daar’s net hierdie ontnugtering met die sisteem. Dan probeer jy jou eie reg en geregtigheid skep of jy probeer vir mense geregtigheid gee. My karakters is mos maar bietjie buite die reg en beweeg nie noodwendig binne die reg nie. My idee is om ’n tipe van geregtigheid te skep buite die regsisteem. As joernaliste kom ons daagliks in aanraking met goed wat mens ontnugter, wat vir jou sê goed werk nie soos wat dit moet nie. Daar’s nie ’n mooi boksie met ‘n netjiese antwoord aan die einde van alles nie en dan druk jy dit uit in die skryfwerk wat jy doen. En spanningsverhale is ’n fantastiese genre om dit in uit te druk.

Daar is baie tema’s in jou verhale wat soos ’n tapisserie ineengevleg is. Jy ontrafel stelselmatig daardie tapisserie deur die verloop van die verhaal deur geheime wat jy ontbloot. Plot jy alles voor die tyd uit?

Ek weet ander mense sê hulle begin net ’n paragraaf skryf en dan kom die boek vanself, maar ek plot nogal redelik goed. Ek moet ten minste die helfte van die boek uitgeplot het. Daarna begin die verhaal met ’n idee van iets wat ek sien gebeur in my kop. Daar is ’n definitiewe sterk toneel. Dis baie visueel en dan probeer ek die beeld beskryf. Ek dink wat beteken dit, waarheen lei ons?

Die vierde boek waaraan ek nou werk, begin met ’n meisie wat dood lê in ’n trourok op ’n rooi posfiets in die middel van die Karoo, naby waar die SKA is. Dis hierdie toneel waarmee ek begin. Dan vra ek: hoe kom sy daar? Wie gaan die moord oplos? Dan plot ek dit uit dat daar ten minste twee draaipunte in die verhaal is. Vandaar af sal ek dit ’n bietjie oop los. Ek sal nie noodwendig na die half punt weet wie die moord gepleeg het nie. Ek is nie altyd seker nie. Die karakters begin lewe kry en begin gedrag toon wat ek nie noodwendig van die begin af kon antisipeer nie. Hulle draai en verander ’n bietjie en kom ek by ’n antwoord uit wat ek nie altyd verwag het nie.

Jou gegewe in elke boek is altyd Ranna en Alex. Wat was die inspirasie vir Ranna en Alex aan die begin?

Ek hou baie van reis. Ek was in Dar es Salaam en Arusha vir ’n storie oor tanzaniet en hoe dit gemyn word. Dit was vir my ’n verskriklike interessante land en ek het daai skoenlapper migrasie gesien. Dit was net ’n ongelooflike setting en ek het gedink ek moet iets hiermee kan doen. Ek ken die wêreld van joernalistiek en hulle sê mos altyd, skryf so bietjie wat jy ken en die karakters wat jy ken. Ek wou graag ’n sterk vroue karakter in my boeke hê en moes besluit hoe ek die karakter gaan skep, want ek wou nie noodwendig ’n polisieverhaal skryf nie. Ek hou baie van die karakters en ek spandeer baie tyd met hulle. Hulle moet vir my interessant wees, nie noodwendig skoon en puriteins nie. Toe skep ek ’n vrou met ’n geheim, maar een wat stadig ontrafel moet word. Die skoenlapper gegewe is die geheim wat ek vir Ranna uitgewerk het. Alex moet probeer uitwerk wat haar geheim is, en die verhouding tussen hulle en hoe dit opeindig, is ’n groot deel van Skoenlapper en wat dan aangaan in Skrapnel.

Ranna en Alex kom met ’n paar randfigure soos Sarah, Jaap en Adriana. Hulle het ook almal geheime.

En hulle almal gaan figureer in latere boeke en gaan dalk hul eie boeke ook kry. Dis my plan.

Verras daai karakters jou soms?

Soms. Kom ons begin by Sarah. Sarah was in Skoenlapper vir my half ’n toevalligheid. As jy boeke skryf wat buite die wet is, dan moet jy toegang hê tot elektroniese inligting. Hoe kry jy dit? Toe skep ek die kuberkraker, Sarah. En ek het van haar gehou, sy kan meer wees. In Skrapnel het ’n kans gewaag, want ek het haar iets laat doen waarvan baie lesers nie gehou het nie en toe het ek haar bietjie gelos. Sy was in Sondebok, maar nie so erg nie. Maar in die vierde boek is sy en Jaap saam; dis baie sterk hulle boek. Sy het ontwikkel van iets wat ek bloot vir ’n pragmatiese rede aanmekaar gesit het tot ’n karakter waaroor ek mal is en nou uitbou. Dieselfde met Jaap. Ek het ’n karakter nodig gehad wat ek met die polisie moes koppel. Toe het Jaap opgekom en hy het self ontwikkel deur die boek. Adriana is vir my ’n verskriklike interessante vrou. Ek is mal om oor haar te skryf, ek wag vir haar. Sy was eintlik beplan vir die vierde boek, maar toe kom die ander storie eerste in my kop op en haar storie en haar geskiedenis in die sirkus gaan nog uitkom in ’n ander boek. Dis my beplanning om vir haar haar eie boek te gee.

Jy wissel tussen vertellers. Hoe hou jy kop met kontinuïteit, want in meeste gevalle is daar drie vertellers?

Ek loop rond met so dik notaboekie waarin ek elke karakter neerskryf en sê hoe hulle werk, wie hulle is, hoe hulle aantrek, wat hulle doen. Ek moet gereeld teruggaan na hierdie boekie toe. Ek gebruik ook musiek wat ek met elkeen assosieer. As ek oor Ranna skryf, dan luister ek na die groep, Garbage. As jy daai liedjie Milk gaan luister en You look so fine, dan kan jy in Ranna se kop in klim. Elkeen van hulle het letterlik ’n eie klankbaan. Alex is daai ou liedjie van Moloko, The Truth, hy is so ingestel op die waarheid. Sarah se naam kom van Sarah de Jager af. Gaan dink aan die karakter van dié Afrikaanse liedjie en sy woorde, dis daardie enigmatiese alleenloper wat visvang. Die donker kant van haar is meer Heather Nova. Sy is mos sterk familie geörienteerd. As ek in die verkeer sit, dan luister ek na hulle musiek en dan kom ek in hulle koppe in. Ek probeer dat elkeen hul eie sinskonstruksie, eie taalgebruik en eie denkwyse het. Dis soms moeilik, want jy moet spring van Sarah wat in haar twintigs is tot Jaap wat in sy vyftigs is en Adriana in haar veertigs.

Watter een van jou karakters deel jou eie eienskappe die meeste?

Ek dink nie een van hulle nie. Ek dink daar is ’n klein bietjie van my in almal van hulle. My lewe is glad nie so opwindend nie.

Daar is ’n weerloosheid aan Ranna, wat sy baie goed wegsteek. Hoe belangrik was dit om hierdie eienskap aan haar toe te dig?

Deel van lesers se aangetrokkenheid tot karakters lê daarin dat hulle nie almal perfekte wesens kan wees nie. Jy moet gaan afkrap tot by elkeen se essensie en wese. Ek het van die begin af beplan dat dit drie of vier boeke gaan wees en ek wou nie alles weggee in die eerste boek nie. Ek het gehoop lesers sal my volg na die volgende boek sodat ek verdere dele van die karakters kan ontgin. Die weerloosheid is vir my ’n belangrike deel van Ranna, want as jy ’n baie tawwe persoon skep, en nog ’n vrou daarby, moet jy versigtig wees om lesers nie te vervreem nie. Ek weet nie of ons so gewoond is aan verskriklike sterk vroue karakters in Suid-Afrika nie.

Hoe besluit jy watter kwessies jy in elke boek aanraak?

Wat in die nuus gebeur speel beslis ’n rol. My eie ervaring as joernalis speel ’n rol, dit waarmee ek al te doen gehad het. Dis vir my skrikwekkend hoeveel seksuele geweld in Suid-Afrika is en baie van my vriendinne is op ’n manier verkrag, mishandel - noem dit wat jy wil, maar dis vir my ’n belangrike tema. Maar dis ook vir my belangrik om nie alle mans sleg te maak nie.