Nee, moenie my vra wie dit uitgedink het of waarom die ma dinge tot op dié punt laat ontwikkel het nie. Ek kan dit nie verduidelik nie. Ek sien dit net gebeur, keer op keer.

Byvoorbeeld, laas Kersfees by my skoonfamilie in die noorde van Frankryk. ’n Nare maagvirus het my gesin een vir een rondom my platgetrek, van klein na groot, soos ’n kieskeurige skerpskutter. Eers die sesjarige wat begin braak, twee dae later haar twee tienerboeties, daarna die twintigjarige Thomas (en selfs Thomas se meisie) en einde ten laaste ook die dapper vader wat bleek en bewerig op die naaste bed neersak.

Net die moeder wat staande bly.

Nie omdat sy so danig dapper is nie, bloot omdat iemand die kermende en vomerende pasiënte moet verpleeg en die geskokte skoonsuster se lakens moet was.

Só gaan dit élke keer as ons huis deur siekte en krisis getref word. Van ligte verkoues tot gruwelike maagaandoenings - Ma bly op haar voete om dokter en kok en hofnar te speel. Net tot die krisis agter die rug is, so belowe sy haarself telkens, dan gaan sy ook ’n slag siek word.

Net om hulle te wys.

So in ’n donker kamer lê met ’n klam lappie en ’n slap pols teen die voorkop, soos die moeders in outydse storieboeke dit altyd doen. Sodat die kinders in fluisterstemme om die bed praat en iemand sop op ’n skinkbord aandra. Met ’n blommetjie en ’n beterskapkaartjie ...

Probleem is net ’n groot gesin soos ons s’n lewe nou eenmaal van krisis tot krisis. Dis nou al máánde lank, van die siek Kersfees by die skoonfamilie om presies te wees, dat ek droom oor daardie lê in die donker kamer. En elke keer duik daar maar weer ’n krisis op en dan word die lê maar weer uitgestel. Byvoorbeeld, ons sentrale verhittingstelsel wat skielik nie meer wil verhit nie - en ek is beslis nie lus om te lê en bibber van die koue in daardie donker kamer nie. Klink darem te veel na die sterwende Mimi in La Bohème. Nie heeltemal die outydse storie wat ek in gedagte het nie.

En tog kan selfs ’n ma se lyf ook net só ver gedryf word. Laasmaand sak myne toe uiteindelik inmekaar met ’n liederlike griep. Vir die eerste keer in dekades lê ek drie dae in die bed. (Hoewel ek tussenin moes opstaan om die jongste by die skool te gaan aflaai en optel.) So siek, om die waarheid te sê, dat ek skoon vergeet van die slap pols teen die voorkop.

Punt is: Ek het dit reggekry om daardie onregverdige reël te buig. Vir één keer in haar lewe het hierdie ma ook ’n kans gekry om siek te wees.

Ek moes geweet het dis te goed om waar te wees.

Die vierde dag sleep ek my lyf uit die bed, want die skoolvakansie het aangebreek en die gesin wil in die laaste bietjie sneeu op Mont Ventoux gaan speel. Speel julle maar, prewel ek swakkies, ek sal eerder in die kar bly sit met ’n boek. Goed so, stem my man saam - en klim uit die kar en gly op die klipharde sneeu en slaat daar neer soos ’n afgekapte boom.

Met hierdie spektakulêre val breek hy TIEN ribbes (ek het nie eens geweet mens hét so baie nie, roep ’n buurvrou verskrik uit) en een van die ribbe skeur ’n gat in sy long en hy word in ’n ambulans gelaai en dramaties hospitaal toe gejaag. Die gevolg is dat hy vier dae in die waakeenheid deurbring - terwyl ek, die eintlike pasiënt, wat eintlik net in die kar wou sit en lees, wéér die verdomde dokter, kok en hofnar moet speel. En dié keer boonop chauffeur, want met tien gebreekte ribbes mag ’n mens geruime tyd nie bestuur nie.

Nou weet ek. Dis hoe dit is en dis hoe dit gaan bly.

Ás Ma dit ooit weer sou waag om siek te word, gaan iemand in die huis haar kollig steel en iets véél ergers oorkom ...