Jamie Oliver, einste, se naam staan in groot, blink reliëf-letters daarop en elke pan het ’n rooi kol reg in die middel wat wys wanneer dit warm genoeg is. Dis die pan se Thermo-Spot.

’n Pan met ’n G-kol? Jy wonder ’n bietjie daaroor, maar toemaar, dis ‘n spesiale pan in Jamie se professionele reeks potte en panne, gemaak van 18/10-vlekvryestaal deur T-Fal. The innovation behind the inspiration, sê hulle.

Elke pan het ewe ’n kaartjie van Jamie self daarby: Hi guys, I’m really proud of the great quality and value of the Professional Series. T-Fal and I have designed these heavy handy pans with high tech stay cool handles. They give you the flexibility and control that a real chef would have in a professional kitchen but in your home. Not only do they look really cool but will give you years of great service.

Wat goed genoeg is vir Jamie Oliver, is goed genoeg vir jou. Al was mense vir hom kwaad omdat hy ’n lammetjie op TV geslag het, doen hy baie om die skoolkinders van Brittanje die regte eetgewoontes te leer en hy lei agtergeblewe kokke op.

Jy sien en proe al die disse wat uit hierdie pan opgetower gaan word ... En jy sal vir mense kan sê julle het ’n regte Jamie Oliver-pan.

Tot jy die prys sien ...

Wicked, man!

“Ek wonder tog of hierdie pan nie gou gaan oorkook nie,” sê jy. “Ek’s seker mens kan ’n beter pan by Clicks kry.” (Made in Italy en klaar.) Sowaar, langs die potte en panne is ’n nuwe reeks Jamie Oliver-breekgoed. Dit ook nog! Hy noem dit “Vintage Chic by Royal Worcester”. Een pierinkie kos ’n kasserol se geld (by Clicks). Die man het natuurlik daar in die Royal Hotel op Worcester gesit en gereken hy’t nou potte en panne met sy naam op, ’n glas het geval, toe dink hy, wat van ’n reeks breekgoed?

Staan hy daar met ’n soet gesiggie en ’n voorskoot op BBC Food, skryf nog ’n kookboek, maak nog ’n restaurant oop, verkoop nog ’n paar T-hemde en weet nie watse helse moeilikheid hy nou vir jou veroorsaak het nie.

Verbeel jou: Hi guys. Wie dink die man is hy? Nataniël? En hoe warm kan ’n pan nou raak as hy so cool lyk? Komende van ’n ou wat sy dogtertjies name gee soos Daisy Boo en Poppy Honey. En daardie skoetertjie waarmee hy ry ... kan hy nie vir hom ’n ordentlike motorfiets aanskaf nie?

Jy’s seker hy leer nog praat - sy tong en lippe sinchroniseer glad nie, dit lyk of daardie tong enige oomblik by sy mond gaan uitval terwyl hy demonstreer hoe om ’n naakte, weerlose wortel op te kap.

“Hy hét nogals ’n snaakse aksent,” erken sy. “Maar ek soek al lankal so ’n pan.” Nóú soek sy skielik lankal so ’n pan ... “Die oue maak al hoe moeiliker skoon, sy boom is nie meer so lekker nie,” sê sy nog voor jy kan vra wat’s verkeerd met die oue. “Ek’t nie die tyd om so te sukkel nie.”

Besef sy julle sal goed in die huis moet verkoop - die yskas, die eetkamerstel, jou visstokke én die stoof - net om dié pan te kan bekostig? (En wat beteken die pan dan sonder ’n stoof?)

“Krismis is lankal verby,” sê jy. “Valentynsdag ook.”

“Presies,” sê sy, “nou’s die pan afgemerk. Ons sal dit nooit weer teen dié prys kry nie.”

’n Tweede huisverband, dís wat ... Dis nie asof sy met ’n Le Creuset-pan in haar hand staan nie, sê sy onderlangs. En dan uit die bloute: “Kom ons loop. Die pan ís nogal duur ...”

Jou tong val amper by jou mond uit.

“Buitendien, as jy van nou af elke keer die ou pan gaan skoonmaak - skuur en skrop en so - kan ek hom nog lank gebruik.”

Jy vra of daar nie afslag is nie. Die vrou agter die toonbank sê dis klaar op special. “Meneer sal dit nooit weer teen dié prys kry nie.”

Sy’s in haar noppies en jy ook. In die donker hoor jy haar saggies giggel.

“Wat lag jy?”

“Ek dink sommer aan my nuwe pan - met die G-kol in die middel.” (Gie-gie.)

Ja, sê jy (gie-gie), en as hy warm word, gloei hy in die donker.