As ek in die stoomkamer sit, hou ek haar altyd deur die glas dop en dis opmerklik hoe almal na haar boude kyk pleks van haar mooi gesig. Wat het jy gedink gaan mense doen as jy ‘n tatoeëermerk daar maak, liewe Vrou? Moenie nou skaam wees nie! As ons nie mag kyk nie, wie mag?

In my huis is die tatoeëermerk-debat al oor en oor gehou. Dis mooi, dis lelik, dis mooi, dis lelik... Is, is nie, is, is nie. Ek verstaan dit nie?

Ek verstaan dat dit gaan oor individualitiet en dat jou tattoo deel word van jou persoonlikheid. Maar wat ek nie verstaan nie is dat jongmense nie besef dat ‘n tattoo, amper soos trou, nie perdekoop is nie. Die letsels bly, al raak jy ontslae van hom...

En as dit ‘n mode is, weet jy nie dat mode uit die mode uit gaan nie? Dit beteken dat die volgende mode juis gaan wees om nié ‘n tatoeëermerk te hê nie.

Een ding kan ek jou belowe, en dit is dat jy gaan oud word  Weet jy hoe lyk ‘n ou vel? En weet jy hoe lelik lyk ‘n ou vel met ‘n tattoo op? In die suide van Portugal en Spanje bly daar honderde Engelse wat afgetree het. Hulle het hul donker, nat woonstelle in Engeland verruil vir woonstelle aan die Mediterreense kus. Noul loop hulle in hordes daar rond met hul plakkies en wit bene, op en af op die promenades in die middel van die winter. Hulle het almal ou tatoeëermerke wat skeefgetrek het en pap hang om hul ou lywe.

Ek’s so bly dat ek nie in die mode is nie. Ek trek agter in die hoek van die gim aan, tussen die ou tannies wat aqua aerobics doen en waar almal omtrent 15 jaar ouer as ek is. Daar tussen die inklose bleek spul voel ek veilig.

Ons het vanoggend weer lekker gepraat oor die weer.

Lees hier oor haar nuwe geselsprogram, Wat mense sê, wat binnekort op kykNET begin