My swart hond se naam is nie depressie nie. Sy naam is stres en ek het eintlik eers onlangs uitgevind hoe baie mense daarmee sukkel en hoe swaar dit vir baie mense is. Dis as ‘n mens se lewe en jou werk so oorweldigend raak dat dit soos depressie voel. Dis so asof jy hard probeer om iets reg te kry en doodeenvoudig net nie slaag nie. Party mense raak angstig weens stres, ander raak beduiweld of kort van draad, ander slaap, ander gaan aan die eet... dis nie ‘n grap nie.

My beste vriendin is ‘n kopdokter en sy sê stres het nie pille nodig nie. Sy sê dat stres asemhaling nodig het, of die regte dieet, ‘n bietjie sonskyn, lekker oefening en ‘n Van der Merwe-grappie. Maar, as jy nie iets daaraan doen nie en dit los, kan jy siek word, sê sy. As jy siek word, noem hulle dit depressie, en as jy dít kry, het jy pille nodig.

Stres is daai gevoel wat jy kry dat jy iets verloor. My ergste strestyd was vir jare lank in die nag. Ek het klokslag, byna elke aand net voor 3, wakker geword en my lê en bekommer oor al die "departemente" van my lewe – my kinders, my werk, my finansies en die toekoms – soos ‘n sirkel om en om. As ek die een gedagte ophou dink het, het ek bloot van rat verander en aan een van die ander goed op my top-10-streslys begin dink. Ek het die aande begin vrees, want weens die min slaap, was opstaan in die oggend vir my loutere hel. Dit het gevoel asof ek die hele tyd ‘n knop in my keel gehad het. Ek was later so uitgeput van die min slaap en ook so uitgeput van dieselfde gedagtes wat ek dag en nag net nie van kon wegkom nie. Dit was asof ek die hele tyd blues gehad het en net nie daaruit kon "kliek" nie.

Ek dink dat ek depressief gevoel het sonder om aan depressie te ly, en met die verwysing van ‘n vriendin het ek uit desperaatheid besluit om later NLP-terapie te probeer. Dit het gehelp, want dit het my baie laat fokus op hoe ek dink en wat ek dink. Binne weke het ek agtergekom dat die goed wat nie volgens my plan verloop het nie, die goed was waaroor ek gestres het. En, enige ding wat volgens my plan verloop het, het my gelukkig gemaak. Hoe dom was dit? G’n wonder ek het so gestres nie?

Ek het besluit om meer gedissiplineerd te wees met my dinkery en met eenvoudige oefeninge het my denkpatrone binne weke verander. Ek het beheer begin kry oor die dinge wat ek dink en self begin besluit wat dit sou wees. Ek het myself gedwing om nie meer aan ou koeie en slote te dink nie. Ek het myself gedwing om nie meer fantasieë oor die onbekende goed van die toekoms te hê nie. Ek het stadig maar seker weer die baas van my eie kop begin word en soos van ouds weer deurnag begin slaap.

Ons huishulp het dit mooi opgesom: "Julle mense, julle dink te veel!"